Oor en uit

My bandwydte van my huis rekenaar is oorskry en ek wil eintlik nie van die werk af blog nie. ek sal Maandag verder vertel van die visvangery by Groot Kuile daar naby Ompadvoor.

Chhers, en ‘n lekker naweek vir almal.

Advertisements

Die muskiete êrie by die Groot Kuile

Nadat die slang  in die skadus tussen die riete en die lang gras verdwyn het, besluit ek dis nou slapenstyd. Ek sal more vroeg-vroeg die lyne uitgooi. Ek eet ‘n paar polonietoebroodjies en gekookte eiers en maak dan die sinkplaat staan teen die Camry se sy. Ek kruip soos ‘n tevrede meerkat in die skuiling in en maak my reg vir ‘n goeie nagrus. Ek is net besig om lekker in  te dommel toe ek ‘n helske slag hier teen die sinkplaat hoor, kompleet asof dit getref is deur ‘n klip uit ‘n kettie. Dan nog een en nog een, dit klink soos ‘n haelstorm in die Vrystaat op ‘n somersdag. Toe ek nou mooi kyk wat aangaan, sien ek dis muskiete, sulke knewels wat my probeer bykom hier in my skuiling agter die sinkplaat. Ek dog eers dis duwweltjies wat ek aan die binnekant van die sinkplaat sien, maar toe ek van nader kyk, sien ek dis die muskiete wat met so ‘n kamikaze-spoed die sinkplaat tref dat hul snawels dwarsdeur die sink steek. Ek besef ek moet die ding gou stopsit anders steek daai muskiete die sinkplaat so vol gate dat ek dit nie sal kan gebruik nie. Ek gaan haal toe die wielspanner daar uit die Camry se kattebak en klink die snawels een vir een om. Maar ek het my misgis met daai muskiete. ‘n Onaardse klank begin skieklik opklink, soos ‘n renmotor wat sy revs senuweeagtig opjaag net voor die wegspring in die Japannese Grand Prix, en stadig maar seker begin daai spul muskiete met my sinkplaat wegvlieg! Ek kan maar net kyk hoe die sinkplaat die lug instyg, soos ‘n Messerschmidt  wat die lug inklim as hy hoogte wen vir ‘n duikaanval. As ek maar net my nege mil ingepak het! Die klank sterf in die verte weg wanneer die sinkplaat agter die boomtoppe verdwyn. Druipstert draai ek om en klim in die Camry. As ek dit kon regkry om in ‘n Anglia te vry kan ek seker in ‘n Camry slaap. Net om seker te maak dat die slaap my nie ontwyk nie, skink ek weer  ‘n paar vingers en slaan dit weg. More is dit ek en die viswaters.

Sabbatsreis

Ek gaan die naweek ‘n sabbatsreis onderneem en sal eers weer Maandag blog. Ek sal dan verder vertel van die visvangery daar by Groot Kuile.

Oor vanmiddag se rugby–ek is heeltemal neutraal. Ek voel egter of ek iets mis, mens moet betrokke wees om rerig die gees te ervaar. Dis soos dans sonder musiek, vleisbraai sonder bier. Ek sal maar die span ondersteun wat die meeste ex Vrystaters in het.  

‘n Warm sopie vir koue bloed

Dis knap voor donker toe ek die Camry daar onder ‘n welige wilgerboom by die Groot Kuile intrek. Ek gooi eers so ‘n viervinger sopie en stap na die oewer.  Die water is blink en donker, soos gestolde glas in die smeltery, en kort-kort bars ‘n weerbarstige vis deur die oppervlak, en ek dink: “Hier moet vanaand visgevang word!”

Maar sommer na die eerste krap en skrop in my visboks weet ek ek het die aas by die huis gelos. Ek sluip tussen die lang gras op die wal van die kuil rond, op soek na enige lewendige ding waaarin ‘n vis sou belangstel.Skielik gewaar ek iets wat hier tussen my voete ritsel en vinnig raap ek dit op, dalk ‘n muis? Maar nee, dis ‘n slang! Ek skrik so groot ek kan nie die slang los nie en my hand knel al stywer om sy nek totdat sy bek in ‘n lang gaap oopgaan. Binne in sy bek is ‘n yslike padda. ” Dis mos visaas” dink ek en vinnig pluk ek die padda uit die slang se bek. Ek kry die slang egter jammer, eers verwurg ek hom amper en dan beroof ek hom nog van sy prooi, en as troos gooi ek so ‘n goeie skeut uit my glas in sy bek.

Mense, julle moes dit gesien het. Daai slang raak stil, doodstil. Toe lig hy sy kop en kyk na my. Sy slangogies blink behaaglik, en ‘n ligte trilling gaan deur sy lyf. Dit lyk of hy sterstof van sy lyf afskud, en dan word die trilling sterker, dis ‘n siddering wat deur sy lyf trek, van sy kop af tot by die punt van sy stert, en sover as die siddering gaan spring sy skubbe op totdat hy later soos ‘n oopgebarste dennebol lyk. Die skubbe glinster en glans in die maanskyn, hulle bibber in die aandlug soos die geroffel van tromme en tamboeryne op die maat van triomfantlike marsmusiek. My bek hang oop as ek besef dat die slang se koudbloedige binnekant vir die eerste keer sedert die Jurassiese tydperk hitte ervaar het. Terwyl ek stomgeslaan vir hom kyk, seil die slang daar weg, fier en vorstelik. As hy pote gehad het sou mens kon sê hy trippel trots soos ‘n Lippisaner op ‘n Vrystaatse landbouskou net na die eerste lentereën. Soos hy verdwyn in die riete flonker sy skubbe soos ‘n duisend chasing lights in ‘n Krismisboom.

Ek gooi ‘n volhand knerts en slaan dit weg terwyl ek dink:”More gaan daai bleddie slang ‘n moerse babbelaas hê.”

More: Nag langs die Groot Kuile

Koffiestop op pad na Ompadvoor

As dit goed gereën het is die Groot Kuile daar by Ompadvoor ‘n hengelaar se droom, en toe ek hoor die reën het behoorlik geval pak ek my visvanggoete en so ‘n botteltjie vir die aandskemer in my Camry en daar gaat ek. Ek pak g’n tent in nie, net so ‘n ses voet sinkplaat wat ek in die aand so skuins teen die Camry staanmaak vir skuling, net om die ergste dou af te keer.
Maar dis warm, die son steek behoorlik en so ‘n paar myl van Ompadvoor sien ek nee, maar die Camry kort water, en ek draai by die naaste plaashek in. Die boer en sy vrou hou nou aan ek moet eers koffie drink terwyl die Camry afkoel. Ons sit sommer daar op die stoeptrappie by die agterdeur. Dis so warm die boervrou skep sommer die kookwater uit die ressewor om die koffie te trek. Ek sit die warm blikbeker so eers in die een hand en dan in die ander. Na so ‘n ruk vat ek ‘n mondvol, maar die koffie is nog so warm dat ek nie weet waffer kant toe nie, ek kan nie sluk nie en ek kan nie spoeg nie. Ek rol daai mondvol koffie so vir tien minute in my mond rond voor ek dit regkry om te spoeg. Ek spoeg so ‘n blink streepsel koffie wat die boer se Foksterrier hier op sy blad tref daar waar hy onder die peperboom lê en slaap. Die hond spring met ‘n tjank op en hol tjou-tjou die rante in, so warm is daai koffie nog.

Maar ek moet ry, voordat die donker my vang.  Dis nog aanstoot na Ompadvoor en die Groot Kuile. Ek vertel more meer.

Die velle waai

Toe ek nou weer so mymer oor die dooie velle storie, kom ‘n ander storie by my op.
‘n Mooi jong boeremeisie daar uit Namakawaland se wêreld kry werk by die Criterion Hotel in die naaste stad as kamerbediende. Haar pligte sluit in die opmaak van die beddens ens. Die eerste oggend nadat sy diens aanvaar het neem die hoofkamerbediende haar onder hande om haar vertroud te maak met die werk. Hulle begin om saam-saam beddegoed van ‘n bed af te trek, en daar lê ‘n gebruikte kondoom tussen die lakens.Die arme meisie kyk geskok daarna. Die hoofdame sien haar verbasing en vra, “Doen julle dan nie sulke goed daar waar jy vandaan kom nie?’

“Ja” sê die meisie, “ons doen dit, maar nie so erg dat die velle waai nie!”