Die muskiete êrie by die Groot Kuile

Nadat die slang  in die skadus tussen die riete en die lang gras verdwyn het, besluit ek dis nou slapenstyd. Ek sal more vroeg-vroeg die lyne uitgooi. Ek eet ‘n paar polonietoebroodjies en gekookte eiers en maak dan die sinkplaat staan teen die Camry se sy. Ek kruip soos ‘n tevrede meerkat in die skuiling in en maak my reg vir ‘n goeie nagrus. Ek is net besig om lekker in  te dommel toe ek ‘n helske slag hier teen die sinkplaat hoor, kompleet asof dit getref is deur ‘n klip uit ‘n kettie. Dan nog een en nog een, dit klink soos ‘n haelstorm in die Vrystaat op ‘n somersdag. Toe ek nou mooi kyk wat aangaan, sien ek dis muskiete, sulke knewels wat my probeer bykom hier in my skuiling agter die sinkplaat. Ek dog eers dis duwweltjies wat ek aan die binnekant van die sinkplaat sien, maar toe ek van nader kyk, sien ek dis die muskiete wat met so ‘n kamikaze-spoed die sinkplaat tref dat hul snawels dwarsdeur die sink steek. Ek besef ek moet die ding gou stopsit anders steek daai muskiete die sinkplaat so vol gate dat ek dit nie sal kan gebruik nie. Ek gaan haal toe die wielspanner daar uit die Camry se kattebak en klink die snawels een vir een om. Maar ek het my misgis met daai muskiete. ‘n Onaardse klank begin skieklik opklink, soos ‘n renmotor wat sy revs senuweeagtig opjaag net voor die wegspring in die Japannese Grand Prix, en stadig maar seker begin daai spul muskiete met my sinkplaat wegvlieg! Ek kan maar net kyk hoe die sinkplaat die lug instyg, soos ‘n Messerschmidt  wat die lug inklim as hy hoogte wen vir ‘n duikaanval. As ek maar net my nege mil ingepak het! Die klank sterf in die verte weg wanneer die sinkplaat agter die boomtoppe verdwyn. Druipstert draai ek om en klim in die Camry. As ek dit kon regkry om in ‘n Anglia te vry kan ek seker in ‘n Camry slaap. Net om seker te maak dat die slaap my nie ontwyk nie, skink ek weer  ‘n paar vingers en slaan dit weg. More is dit ek en die viswaters.

Advertisements

4 thoughts on “Die muskiete êrie by die Groot Kuile”

  1. LOL! Ek is mal oor daai beeld van die muskiete met die vasgelegde sinkplaat wat oor die boomptoppe verdwyn! Ek sal dit nie gou vergeet nie..:-)

  2. Dankie vir die kommentaar Heros, Flentergat, Sorsie en Lorinda. Maak geen mistyk nie, hierdie is die heilige waarheid, ek het dit met my eie oë gesien!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s