Gryp hom aan die mangel Lewies!

 

Ek word die volgende oggend wakker met die Camry se ratkierie wat my pynlik hier onder die kortrib karnuffel. Ek moes ‘n onrustige nag gehad het, want ek lê kopkant gatkant gatkant kopkant, so met my gesig hier onder tussen die pedale en my voete teen die kar se dak.

Ek haak die padda wat ek gister by die slang geruil het versigtig aan die hoek. Hy gee so ‘n flou rilling—goed so, vis se kind hou van lewendige aas. Ek het ook net ingegooi en ingeskink en my Bloubul hoedjie met die twee plestiek horings opgesit (hoekom lyk die horings so verlepperig?), toe die dobbertjie vir die vale begin duik en spring. Dis ‘n grote!

Ek stoei die kant toe en daai kant toe, maar die vis steek vas, kop tussen die knieë, en dan vat hy weer die lyn en seil deur die water dat die branderskuim so spat. Dis eers so skuins voor skemer toe ek voel sy kragte verslap, en eindelik katrol ek hom in na die oewer. Dis ‘n yslike baber, soos ek nog nooit gesien het nie. Sy snorbaarde is soos dik soos my duim en langer as my arm. Hulle hang soos slurpe om sy bek. Ek steek my hand uit om die vis uit te trek, en die volgende oomblik slaan hy sy tentakels om my lyf en pluk my nader terwyl sy bek hier voor my oopgaap soos ‘n myntonnel op nege skag. Ek spook en spartel, maar verniet, duim vir duim trek hy my nader, totdat hy my kop bietjie vir bietjie in sy bek insuig. Dis stikdonker daarbinne, en ‘n stank soos uit die donker diepte van die dood slaan soos ‘n slymerige warm moeraswalm in my gesig op. Dit ruik asof die oorskot van die dood self daar in sy donker duisternis nes gemaak het.

Ek haal my flits uit my gatsak en lig in die donkerte in. Hier voor in die flou lig van die flits sien ek die tamaai buikholte van die vis. Sy ribbebene span soos marmerpilare in die gewelf van ‘n Gotiese katedraal. Sy vlesige ingewande hang soos stalagtiete in die Kangogrot. Hier voor my sien ek iets wat soos die klok van ‘n sendingkerk lyk, met klepel en al. Dit kan net die vis se mangels wees. Ek gryp dit vas en dan klink dit meteens asof die koster die klok aan die tou beet kry en dit wild en wakker begin lui. Dit dreun en dawer dat hoor en sien vergaan. Die baber se grate vibreer op maat van die gebeier van die klok en dan klink dit asof die orrelis agter die orrel ingeskuif het en die stoppe een vir een oop trek.. Gewyde hallelujamusiek styg uit die vis se ingewande op terwyl die fyner visgrate ritmies in perkussie saam rittel en ratel. Die argitektuur van die vis se ingewandsvolume is ‘n akoestiese perfeksie waarin al die klanke in harmonie saam geklits word. Die onverwagse irritasie op sy mangels veroorsaak skielik ‘n hewige niesbui en slungels slym en spoeg trek soos papgekookte macaroni uit ‘n koshuiskombuis by my verby terwyl een weergalmende niessametrekking na die ander deur die baber se liggaam ruk. Soos Jona van her beland ek op my rug op die oewer van die kuil. Ek sukkel orent, net betyds om te sien hoe daai padda wat ek as aas gebruik het, op ‘n amegtige niesgolf deur die lug aangevlieg kom. Hy gryp vas aan die een horing van my Bloubul hoedjie en swaai soos ‘n paaldanseres in die Moonshine Mugu Nite Club in Mitchell’s Plain al in die rondte voordat hy op die gras hier voor my voete val. Die baber gee my ‘n laaste vuil kyk en sink dan in die dieptes van die kuil weg.

More Padda Deux

6 thoughts on “Gryp hom aan die mangel Lewies!”

  1. Ek sien daar op Pruimtwak se blog jy is n komplotter. Nou kom kyk ek en ek sien jy is dan n heel nugtere mens wat van die buitelewe hou., Lekker gelees hier man.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s