Boer in Beton

 

Die son sit al hoog toe ‘n wilde geskud en geskommel in die Camry my laat wakker skrik. Dit voel of daar ‘n woeste gevryery op die agterste sitplek op dreef is, soos in ‘n inry fliek van ouds. Ek wil omdraai om te kyk wat aan die gang is maar kan beswaarlik roer, ek sit asof in sement gegiet,. Met ‘n groot gesukkel maak ek die safety belt se gespe los en spartel uit die kar. My Blou Bul hemp skitter spierwit soos ‘n engelkleed in die helder sonlig. Dit is oortrek met miljoene der miljoene fyn kristalletjies, amper soos die sequins op Jurie Els se hemp toe hy by die Orkney Snork Nie – fees opgetree het. Die hemp is stokstyf en kliphard, soos ‘n sement afgietsel hier om my lyf.

Dit is met ‘n yslike gewriemel en gewoel dat ek uiteindelik uit die borstrok wikkel, soos Houdini op van ouds. Die hemp is so swaar soos ‘n mudsak geelmielies, en toe ek dit op die gras onder die wilgerboom neersit, bly dit staan soos ‘n klein monument. Dit lyk soos ‘n torso wat uit marmer gebeeldhou is deur ‘n meester kunstenaar. Dit is ‘n volmaakte weergawe van my liggaam, elke spier, elke kontoer is met vakmanspresisie afgeëts, selfs die skakels van my 24 klaterkaraat goue ketting wat ek by die straatsmous in Durban gekoop het, is een vir een vasgevang in die wit marmerstof. Dis net hier oor my six pack waar daar fout is. Ek vee met my hand oor die gladde oppervlak en lek ingedagte aan my vinger en proe die sout smaak van liggaamsweet. Tydens gister se urelange geveg het met die baber het ek soos ‘n renperd op Turffontein gesweet in die bloedige son. Deur die nag het die sweet verdamp en die sout neerslag het in die hemp se materiaal geset soos nat sement wat droog word. Die feit dat ek stil geslaap het nadat ek my vasgegespe het, het natuurlik die stollingsproses aangehelp.

Hier agter my bokspring die Camry soos ‘n uitgelate bulkalf na die eerste lentereën. Ek maak die kattebak oop en die padda vlieg met ‘n luide hik uit die kar soos ‘n prop uit ‘n bottel Nuwejaarsjampanje. Hy wip soos ‘n Chinese gimnas op ‘n trampolien, so hoog dat hy my vierkantig in die oë kyk terwyl daar met elke sprong ‘n polifoniese hik uit sy keel ontsnap. Die gehikkery is sweerlik die nagevolg van die medisyne van gisteraand. Sy oë is bloedbelope, dit lyk soos ‘n straatkaart van Soweto. Sy hele lyf is die ene hoendervleis. Hy kwaak rasperig, ‘n weemoedige klank van dronkverdriet en selfverwyt. Die keer het ek niks om hom mee te help nie, nie eens ‘n Grandpa poeier nie. Ek vroetel so in my gatsak en daar kry ek darem ‘n Spur peppermint. Ek voer dit vir hom en hy suig so gretig daaraan dat sy wange hol word. Onmiddellik sak die bloed in sy oë soos skottelgoedwater wat uitgetap word. Sy wilde gehikkery bedaar en sy kras gekwaak neem melodie aan. Hy klink nou soos Dozi wat ‘n slampamperliedjie in Zoeloe neurie. Hy spring flink en grasieus na die water, en net voor hy induik, kyk hy om na my en gooi my die middelvinger saluut . Dan plons hy in die water in en verdwyn onder die oppervlak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s