Voorspoed

Ek en Vroukie sit hier by ons dogter en haar gesin in Stanford, ons seun en sy gesin het so vir drie dae ook hier gekuier. Kan ek ooit gelukkiger wees as in hierdie pragtige dorpie omring met die mense wat ek lief het, en natuurlik die drie kleinkinders! Ek wil nie misbruik maak van die rekenaarfasiliteite nie en sal die blogding weer opneem as ek tuis is. Net jammer mens mis so baie inskrywings van die ander bloggers.

Vir almal van julle, mag die jaar wat voorlê geseënd en voorspoedig wees, gevul met alles wat julle nodig het, maar bowenal met liefde, vreugde en vrede in oorvloed.

Advertisements

Geseënde Kersfees

Ek reken die blogs gaan stillerig wees die vogende paar dae, dus sê ek vroegtydig Geseënde Kersfees aan al die bloggers met wie ek kennis gemaak het sedert ek begin blog het, al daai ouens wat ek sonder voortvarendheid my kubervriende kan noem. Mag julle ‘n baie aangename Kersgety beleef en lekker kuier met familie en vriende. Die wat gaan dryf, dryf veilig! Tjek julle een van die dae.

Skadukant van die Kersseisoen

So te midde van die uitspatigge plesierigheid rondom Kersfees en die feesseisoen heers daar ook ‘n gevoel van afskeid en verlange, so ‘n druppel hartseer in die tumbler met die cheap sjampanje. Ek en Vroukie sit gisteraand in die koel aandlug met ‘n glasie wyn en besin oor al die mooi dinge wat gedurende die jaar met ons gebeur het, dinge waarvoor ons baie dankbaar is. Dit word alles omfloers deur die hartseer van my ma se afsterwe in April hierdie jaar. Sy was gewoon te oud en te swak om die trauma van ‘n heupvervanging operasie na ‘n fraktuur te oorwin, en na drie weke van veg om die lewe te behou het sy laat gaan. Dis die weg van die natuur, die dood is deel van die lewe, dit was onafwendbaar. Tog voel mens soms op onverwagte oomblikke die hartseer weer opwel, instinktief kom dit nog by op om haar gou te bel, of ek sien ‘n ou tante in die mall wat my onverklaarbaar aan haar laat dink, veral die tyd van die jaar wanneer haar huis altyd oop was vir die alleenmense, dikwels mense wat sy beswaarlik geken het wat saam met ons aan die Kerstafel kom aansit het. Met so ‘n flou glimlag dink en aan Ant Mollie, wat nadat sy vir die saamkuier genooi is, eers haar tanne moes gaan haal. ‘n Ander gas was Max du Preez, die nimlike hy, wat ‘n paar vakansies saam met my as laaimeester in Kroonstad op die SAS en H gewerk het vir ‘n sakgeldjie. Die spesifieke Kersfees was sy ouers weg met vakansie en hy het in die Spoorweg hostel gebly, nie ver van ons huis nie.

By haar het ek die ware betekenis van Christenskap en medemenslike liefde geleer, om nie net jou geldelike bydrae te gee en dan basta, nou is ek klaar met julle nie, maar om van haar self te gee, haar tyd, haar huis en haard.

Kersdag sal jou plek aan die tafel leeg wees, maar in ons harte nooit.

Sonde met die bure 2: Steekaai krekker in jou crack!

Die moroniese geklapperskietery die tyd van die jaar maak my hoogs de wetter in, veral oor die arme brakke wat so suffer. ‘n Jaar of wat gelede hier oor die feestyd besluit my een buurman om sy familie te trakteer met ‘n moerse klappervertoning, klink erger as die 1812 overture op steroids. Ons had op daardie stadium ‘n staffie wat heeltemal histeries geraak het oor die lawaai. Aangevuur deur so ‘n ligte knerts hang ek toe oor die muur en skreeu vir hom en sy kornuite “Steek daai crackers in jou gat!!” Hy vee toe die einste gat aan my af, en na so ‘n ruk is sy arsenaal uitgeput. Die nag word ek wakker en voel baie skuldig oor my tappet vertoning, en ek wonder hoe ek die ou ooit weer in die oë sal kan kyk. Toe kry ek die antwoord: As ek hom êrens raakloop sal ek beskeie verskoning maak,  “Ou Fires,jy kan daai crackers nou maar uithaal “.  

Kleinste kind storie

 Ek plaas hier ‘n storie wat ek vir Kara en Mia, onse kleinkinders geskryf het. Dis ‘n Krismisboks vir al die oupa en ouma bloggers, en spesiaal vir Maankind en haar feeprinsessie Kiara. Ek hoop julle en die kleinstes geniet dit.

HIER’S ‘N MUIS!!

Koerie Kerkmuis bly in die kerk se konsistorie. Hy het vir hom ‘n snoesige huisie gebou agter die houtpaneel in ‘n stil hoekie van die vertrek. Hy het alles wat nodig is om lekker te bly; hy het vir hom ‘n sagte, warm bedjie gebou met ‘n stukkie van die kerk se rooi mat wat hy in fyn flentertjies gekou het, hy kry genoeg brood wat van Nagmaal oorbly en in die tuin is daar baie saadjies. Die kraan buite by die kerk se agterdeur lek so bietjie-bietjie water, net genoeg om Koerie se dors te les in die warm somersdae.

Daar is net twee dinge wat Koerie pla. Sondagoggend vroeg, as hy nog vas slaap in sy bedjie, lui die koster die kerk se klok so hard dat hy wip van die skrik, en net as hy weer aan die slaap wil raak, lui die klok weer.

“Hier is ook g’n rus vir ‘n muis nie” brom hy deur sy lang snorbaarde deur. Dan gaan sit hy in ‘n hoekie agter in die kerk om te luister na die orrelmusiek. Dis vir hom baie mooi as die orrel so diep dreun en die mense begin saamsing. Partykeer piep hy sommer saam, maar as hy vir Juffrou Belladonna Borstlap gewaar, bly hy tjoepstil en maak hy homself klein in sy hoekie. Hy is baie bang vir haar. Sy is ‘n diaken in die kerk en kom altyd die dankoffers opneem in die ry waar Koerie wegkruip. Sy is kort en vet en haar bolwangetjies wip op en af as sy in die gang afgestap kom. Haar oë kyk kwaai deur haar swartraam bril, en as ‘n kind net sou waag om te kriewel as sy die geld opneem, gee sy hom so ‘n venynige kyk dat hy sommer begin huil en onder sy mamma se arm inkruip.

Die ander ding wat hom pla is dat hy nie ‘n mensekind se tand in sy huisie het nie. Muise maak mensekinders se tande bymekaar as kosbare ornamente vir hul huise. Hulle vryf die tande mooi blink en sit dit op ‘n tafeltjie in hul huis sodat hulle daarmee kan spog as hul vriende kom kuier. So ‘n tand is baie skaars en duur. Die tandemuis verkoop dit aan die muise, maar sy vra baie geld daarvoor, sommer R5 vir ‘n mooi tandjie sonder gaatjies. Muise werk nie soos mense nie, en om R5 in die hande te kry is baie moeilik.

Vandag sit Koerie in die sonnetjie en bak. Hy dink weer aan ‘n tand en hoe hy een in die hande kan kry.

“ Ag, dit help nie ek begeer ‘n mensekind se tand nie,” dink hy “ek het tog nie geld om een te koop nie”

Net toe kom sy maatjie Skarrel Streepmuis aangehardloop.

“ Haai Koerie, kom kyk net wat het ek gekry!, “ roep hy. Hy is skoon uitasem en staan eers vir ‘n oomblik stil om sy wind terug te kry. “Ek het vir my ‘n mensekind se tand gekoop!” Sy klein muisogies blink in die son van pure plesier. “Kom kyk, kom kyk”

Koerie is baie bly vir sy maatjie se onthalwe, maar hy is ook ‘n bietjie jaloers.

Hy hardloop vinnig agter Skarrel aan na sy huisie. Skarrel het sy huis in ‘n bars in die pastorie se tuinmuur gebou.. Die twee muismaats gaan by die huis in en daar staan die mensekind se tand, blink gevryf in Skarrel se huis.

Koerie verkyk hom aan die mooi tand. Hy vryf saggies oor die tand met sy muispootjie. “Dis so glad en blink,” sê hy. Sy stemmetjie is sommer bewerig.

“ Ek wens ek het ook so ‘n tand gehad “ sug hy, “maar waar sal ek nou die geld vandaan kry om een te koop”

“Ek gaan elke dag na die winkel hier naby om kos te gaan te haal “ vertel Skarrel. “Partykeer laat die mense per ongeluk ‘n paar sent val, dan tel ek dit op en bêre dit in my huis. Toe ek genoeg gehad het, het ek na die tandemuis gegaan en die tand by haar gekoop.”

Koerie luister mooi na wat Skarrel sê en besluit om ‘n draai in die winkel te maak wanneer hy huis toe gaan. Dalk kan hy ook op die manier genoeg geld kry om ‘n tand te koop. Hy groet vir Skarrel en hardloop vinnig na die winkel. Hy was nog nooit hier nie en alles is vir hom baie vreemd. Kyk net die baie mense! Almal is haastig en dit is net voete so ver hy kan sien. “Tjoef!!” trap ‘n groot voet net hier langs hom. Hy skrik en gee vinnig pad, maar “Tjaf!” trap ‘n voet wat nog groter is aan sy ander kant . “Tjierie tjierie!!” rol ‘n waentjie verby, amper oor sy stert.

Hy hardloop na die naaste rak toe om daaronder weg te kruip maar skielik is dit net voete en skoene oral om hom. Dan skreeu ‘n vrou in ‘n skril stem “Hier’s ‘n muis!! Hier’s ‘n muis!!”sy skreeu so hard dat die bottels op die rakke rinkel. Sy laat haar pakkies val en spring in die lug op. As sy grondvat spring sy eers op die een been en dan weer op die ander een. En die hele tyd gil sy “Hier’s ‘n muis!! Hier’s ‘n muis”.

Koerie sien hoe haar vet wange bobbel as sy op en af spring. Dis Juffrou Belladonna Borstlap! Al die mense om haar begin ook te skreeu en te gil “Hier’s ‘n muis!! Hier’s ‘n muis” Daar is nou behoorlik konsternasie. Arme Koerie is lam geskrik, hy wil weghardloop maar hy kan nie sy pootjies roer nie. Sy muisogies is flou van skrik en sy hartjie maak Ka-Boem Ka- Boem Ka- Boem! Een van die winkel se werkers kom aangehardloop met ‘n vuil mop. “Waar is die muis?! Waar is die muis “ skreeu hy terwyl hy die mop wild in die rondte swaai. So amper klap hy Juffrou Belladonna deur haar gesig met die vuil, nat toutjies van die mop. Sy gee hom ‘n geniepsige kyk en gil dan voort. Die werker slaan met die mop na Koerie. Koerie voel hoe die wind so “ Swiesjjj” by hom verby trek. Skielik begin sy pootjies onder hom roer en daar trek hy. Hy hardloop soos blits na die winkel se deur toe, onder die mense se voete deur en die heeltyd Swiesjj!! Swiesjj! die vuil mop agter hom. Dan is hy by die deur uit en hy hardloop al langs die randsteen af na die kerk toe. Agter hom hoor hy nog die lawaai van mense wat gil. Hy hardloop al hoe vinniger, agter hom slaan sulke klein stofwolkies onder sy pootjies op die sement uit. Die wind waai sy oortjies styf teen sy kop vas. Sy ogies is op skrefies en die wind waai trane langs sy wange af. Sy snorbaarde staan stokstyf teen sy lang neus. Kort-kort hoor hy Tjik! Tjik! soos die muggies teen sy tande vasvlieg. Dan skielik, tjak! vlieg ‘n vet brommer so hard teen sy tande vas dat hy die bitter brommerbloed proe. Hy gril en probeer die brommer uitspoeg, maar die wind waai hom weer terug in sy mond in. Phoe!! spoeg hy, en tjak!! slaan die brommer weer teen sy tande vas. Hy kan niks anders doen nie, hy moet die brommer insluk. Die brommer is groot en vet en Koerie moet twee, drie maal sluk voordat die brommer in sy keel afgly. Die wind waai vir Fonnie Vlooi wat op Koerie se rug nesgemaak het, skoon weg dat hy doer anderkant in die straat rol. Koerie kom met soveel spoed by die kerk se tuin ingehardloop dat hy nie sy draai by die konsistorie se deur in kan kry nie. Hy blits by die kerk se deur in, reguit na sy hoekie waar hy altyd Sondae skuil as hy na die orrelmusiek en sang luister. Daar lê hy poot uit en hyg na sy asem,totdat hy van pure moegheid aan die slaap raak.

Skielik skrik hy wakker van ‘n vreeslike lawaai. Hy wil net opspring en begin hardloop maar dan herken hy die klanke—dis die orrel wat speel! Dis Sondag en hy het deur die hele kerkdiens geslaap, hy het nie eers die kerkklok se gelui gehoor nie, en hier is die diakens al besig om die dankoffer op te neem. Hy loer versigtig om die kerkbank se poot, en die volgende oomblik kyk hy vas in ‘n seunsgesig wat vir hom loer. Dis klein Stinkie Smit, ‘n seuntjie wat bekend is vir sy stoutigheid en sy wreedheid teenoor diere. Daar kom ‘n gemene grynslag op sy gesig en hy steek sy handjie uit na Koerie. Koerie wil opspring en weghardloop, maar sy lyf is so styf van gister se hardloop dat hy skaars kan roer. Stinkie kruip onder die bank in om Koerie te vang, maar dan gee sy ma hom ‘n harde raps op sy boud en sis tussen stywe lippe deur: “Kom uit daar!!”

Stinkie spring op en stamp sy kop so hard teen die bank dat die hare waai. Hy begin kliphard huil en gil “ Hier’s ‘n muis!! Ek wil hom vang!!

Net toe kom Juffrou Belladonna Borstlap daar aan om die offergawe op te neem.

“’n Muis?? Is hier ‘n muis?” roep sy

Stinkie skreeu soos ‘n honger varkie. “Ja, ja, hier’s ‘n muis!!”

“Hier’s ‘n muis!! Hier’s ‘n muis!!” gil Juffrou Belladonna Borstlap in haar skril stemmetjie. Sy spring in die lug op en toe sy grond vat, breek haar pienk kerkskoen se hak mors af. Sy gooi die kollektebordjie in die lug op en die muntstukke en note reën soos confetti na ‘n troue neer. Sy slaan neer op Oom Kerneels Kirstein se skoot wat so groot skrik dat hy bulder “Hiert jou swerkater!!” Dominee Woltemade Wiesner spring op van agter die preekstoel. Hy is besig om water te drink, maar hy stik en hoes en proes in die mikrofoon dat dit dawer deur die kerk. Vrouens en kinders spring op die kerkbanke en skreeu saam “Hier’s ‘n muis!! Hier’s ‘n muis!!” Die mans en seuns skreeu opgewonde “Vang hom!! Vang hom” Dominee hoes die laaste water uit sy longe en roep in ‘n dreunstem “ Orde! Orde!! Broers en susters, orde !! Dis net ‘n muis, hy sal julle tog nie byt nie—more vra ek die koster om muiswippies uit te sit om die vabond te vang. Sal die broers diaken asseblief die verspilde offergawe optel’

Die tweeling broers Jafel en Wafel Broodryk seil onder die banke in en in ‘n japtrap is die offergeld weer terug in die kollektebordjie. Juffrou Belladonna klim van Oom Kerneels se skoot af en hobbel met haar stukkende skoen na haar sitplek toe.

Arme Koerie sit met groot oë en kyk na die mense om hom. “Hoekom is hulle bang vir my,” wonder hy. “ek is dan so klein, ek kan hulle mos niks maak nie, Selfs Juffrou Belladonna is bang vir my.”

Aan die einde van die diens toe die laaste mense uit die kerk is, loop Koerie styf-styf na die konsistorie. More sal die styfheid beter wees, dink hy. Skielik struikel hy oor iets in die paadjie. Hy kyk om en kan sy oë nie glo toe hy sien wat daar langs die kerkbank se poot lê nie. Dis ‘n vyfrandstuk!! Jafel en Wafel het dit nie gesien toe hulle die geld opgetel het nie! Koerie draai die muntstuk op sy sy en rol dit versigtig na sy huis toe. Net more gaan hy ‘n mensekind se tand koop by die tandemuis!!

Die volgende Sondag toe die kerkklok lui wag Koerie al vir die orrel om te begin speel. Vandag is die musiek sommer ekstra mooi. Koerie dink aan die pragtige mensekind se tand wat in sy huis staan.

Hy het vanoggend vroeg opgestaan en die tand blink gepoets. Skarrel en van die ander muismaats kom netnou by hom kuier om na die tand te kyk. Hy is so tevrede dat hy sommer ‘n harde piep gee toe die orrel so dreun. Daar voor in die diakensbank draai Juffrou Belladonna om en kyk na agter. Sy kan sweer sy het ‘n muis hoor piep, maar al wat sy sien is klein Stinkie Smit wat sy tong ver vir haar uitsteek. Haar kwaai oë spoeg vuur en sy gee Stinkie so ‘n boosaardige kyk dat hy hom bang onder sy ma se arm inwoel. Sy mamma sit haar arm om sy lyfie en druk hom styf teen haar vas.

Koerie sug tevrede. Daar is niks in die wêreld wat hom pla nie.

*************************************************************************************************

AANTEKENINGE

· Ek het die name gekies om te allitereer (twv ritme in voorlesing) en ook om snaaks te wees.

· Ek het probeer om klanknabootsing in te werk in die gedeelte waar Koerie in die winkel is om vir die storieverteller geleentheid te gee om te dramatiseer en ook om die konsternasie en die lawaai te beklemtoon.

· Aan die begin pla die kerkklok se gelui en die begeerte vir ‘n mensekind se tand vir Koerie. Aan die einde is daar niks in die wêreld wat hom pla nie—hy het sy tand en hy staan op voor die kerkklok lui.

· Hy is eers bang vir Juffrou Belladonna maar vind dan uit dat sy nog banger is vir hom, dan pla sy hom nie meer nie.

· Ek het nie probeer om babawoorde te vind vir woorde wat kinders dalk nie sal ken nie, bv konsternasie en konsistorie.

· Stinkie se ma raps hom, maar as hy onder haar arm inkruip nadat Juffrou Belladonna vir hom kyk, sit sy haar arm om sy lyfie (verkleinwoord) en druk hom styf teen haar aan (sy is lief vir hom al is hy stout)

· Ons neem maar aan die koster het die muiswippies vergeet!

Krismiskoors

Hier oor die dradeloos teem Laurika Rauch so melankolies “Kersfees kom, Kersfees kom” daai liedjie van Koos Du Plessis. Ek wil ‘n laaste versie bylas “Gaan Kersfees, gaan” Fokkit, my lewer en my beursie kan dit nie meer hou nie.