China Imports and Melamine Suppliers Slakren Super Series: Dingaansdag 2008

Hierdie tyd van die jaar heers daar ‘n frenetiese opwinding hier op Nege Skag. Almal is in rep en beroering. Daar is genoeg psigiese aktiwiteit om die dooies in Hertzogville teen wil en dank te laat opstaan. Die rede vir die harlaboerla is vanjaar se China Imports and Melamine Suppliers Slakren Super Series wat op Dingaansdag in die myn se ontspanningsaal op die snoekertafel sal plaasvind.

Die Slakren Super Series is ‘n rooi omkringde datum op Nege Skag se jaarlikse sportkalender. Net die Tagtigerklub se tweejaarlikse jukskei eindrondte teen Carletonville Tien Skag wek meer belangstelling onder die sportmal adrenalienverslaafdes. Daar word astronomiese weddenskappe aangegaan wat die revs verby die rooi jaag. Die kompetisie tussen die slakbase om die gesogte trofee en die groot pryspot in te palm is so straf dat onreëlmatighede soos klokslag voorkom. Verlede jaar het Jammy Coetsee ongemerk so ‘n druppeltjie Casanova’s Everready Concoction onder Gampie Visagie se slak, Cortina Perana, se suigpoot laat val. Cortina was die gunsteling om die strawwe wedloop oor een meter te wen, en halfpad in die resies was hy reeds los voor, maar toe skop die Concoction in en hy vlieg om en bespring vir Virgin White wat in die tweede plek was. Altwee is gediskwalifiseer omdat die beoordelaars van mening was dat daar instemming van Virgin White se kant was. Hulle het bevind dat daar ‘n behaaglike glinstering in haar oë was en dat sy haar nie oortuigend en hard genoeg verset het teen Cortina se suigsoen omhelsing nie.

‘n Ander keer het Fires van Vuuren ‘n Minora lemmetijie netjies in die baan in geplant wat Starship One geloot het. Starship was die gunsteling om die snelren te wen, en Fires se inskrywing, Unscrupulous, het in sy nek geblaas, Die lemmetjie het Starship simmetries in die lengte in twee gekloof, maar hy was reeds op spoed en sy momentum het hom deur die lint laat breek waarna die twee helftes van mekaar geval het. Die beoordelaar het na ’n stadige aksie TV weerkyk teen skemeraand tot ‘n eenparige besluit gekom en die eerste en tweede plekke postuum aan Starship toegeken.

Fires is egter nie iemand wat maklik tou opgooi nie, en die volgende jaar het hy tydens ‘n uitdunrondte die blitsige Sixteen Valve se baan met tafelsout gesaboteer, en toe Sixteen Valve oor die booby trap snel, het die sout sy slaklyf in ‘n groot skuimbol opgelos. Die wind wat deur die toeskouers se aanmoediging en gejuig veroorsaak is, het die leë dop skoon van die tafel afgewaai en dit was die einde van Sixteen Valve.

Dan weer was daar Baby Botes wat haar inskrywing, Greased Lightning, se poot met Vaseline besmeer het sodat hy in ‘n glyaksie in plaas van ‘n suigaksie beweeg. Hy het egter om die eerste draai van die baan getol en deur die sperrelings gebars. Sy skulp het in fyn splintertjies ontplof soos ‘n krullerige Royal Albert porseleinkoppie wat op ‘n sementvloer val. Een van die splintertjies het sy slymvlies deurboor en noodlottige inwendige beserings veroorsaak wat Greased Lightning se stuiptrekkende einde in ‘n skuimende slymbol beteken het, soos ‘n mikro Hiroshima hier voor die stomgeskokte toeskouers.

Maar Dingaansdag is om die draai! Mag die snelste slak seëvier!! Citius, Altius, Fortius!!

8 thoughts on “China Imports and Melamine Suppliers Slakren Super Series: Dingaansdag 2008”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s