4h46. Dis toe die hadidas in die buurman se denneboom hul heksegroet begin gil.
Vroukie kom die badkamer in toe ek later staan en skeer en verneem na die kwaliteit van my nagrus.”Nee, ek het lekker geslaap totdat die bleddie hadidas begin raas het. Dis asof hulle al wat leef en beef wakker gemaak het, skielik blaf al wat ‘n brak is en die spul voëls wat die ou hier agter in daai sink kaia aanhou begin met hul gekras en gekrys . Dit so vroeg in die oggend, net toe ek ‘n laaste slapie insit”
“Ag my skapie (!), dis darem nie so erg nie, dit was in elk geval al opstaantyd.”
“Ja maar toe begin al wat ‘n voël is saam raas. Die duiwe koer en die mossies kwetter en daai bleddie koelievinke skreeu saam. G’n siel kan dit hou nie”
“Lyk my jy het met die verkeerde voet uit die bed geklim, hmm Skapie? Dis Vrydag, die naweek lê voor. Jy moenie so knorrig wees nie. Buitendien, dis ook nie alle voëls wat vroegoggend lastig is nie” sê sy. Haar stem is diep en donker, smeulend soos die hardehoutkole van ‘n nanag kampvuur, gelaai met die misterie en mistiek van vrouwees (ok, hier het ek ‘n bietjie meegevoer geraak). Daar is ‘n twienkel in haar oog, en toe kom ek weer laat by die werk.