Brak op straat

 Ek en Vroukie stap nou die aand flink deur die woonbuurt waar ons bly om lug te skep na die gevangeskap in ons onderskeie kantore. Skielik storm ‘n moerse  belseboel uit ‘n erf op ons af, erg aggresief, dis net tande en kwyl. Die hek staan oop en ek hoor mense agter in die erf, en om hulle aandag te trek skreeu ek “Voetsek” en allerhande ander gepaste dinge, wat ek weet mens nie moet doen nie want dan hits jy die brak net verder aan. Toe ek dink die hond vat my nou, sluip sy baas soos ‘n nat poep by die hek uit, so asof hy wil vra “Kan ek jou help?” Gelukkig word die situasie ontlont en die hond word agter die hek toegemaak, waar hy in die eerste instansie hoort. Ek en Vroukie had ‘n stewige skoot van die amber vloeistof nodig om tot bedaring te kom. Ek gaan verseker een van daai skokstokke koop om die brakke op ‘n afstand te hou, dit help nie om hulle te looi met ‘n sambok of ‘n kierie nie, hulle word net meer aggresief.  

23 thoughts on “Brak op straat”

  1. Ek moet bieg. Ons het jare gelede ‘n windhond gehad wat soos ‘n wafferse hoogspring-atleet oor ons sesvoet muur geseil het. Ons het al ons dae gehad om haar in die erf te hou.

  2. Ja lewies ek weet ook van mense hier by ons wat “kindertjies” het wat hulle honde nog aanhits om te byt, so het die gebeur so amper twee weke gelede wat my ou worsie op ons driveway dood gebyt is deur twee moerse groot alsations….ek voel baie hartseer en baie, baie agresief teenoor hulle, dis nie die eerste keer dat ons probleme gehad het met hulle rondloper honde nie….

  3. Party honde is maar net nuuskierig Kelkiewyn, maar hierdie backyard boerboele is agressief en gevaarlik. Sy baas behoort te weet om die hek toe te hou.

  4. Duiweltjie, vandag lees ek van die worsie wat deur ‘n tuindiens se werkers met ‘n tuinvurk doodgesteek is, daarna is sy pootjies skynbaar met ‘n graaf afgesteek. Die skepsel wat dit doen behoort langsaam te vrek van ‘n lelike siekte.

Leave a reply to pasella Cancel reply