Papperye

 
Vanoggend toe ek wil skeer sal ek uitvind die skeermes se battery is pap . hoe dit gebeur het sonder dat ek agterkom die ding is aan die afloop weet nugter, maar nou ja, hier op die heilige Vrydag is dit so. Daar is nog skeergel vir ‘n nat skeer, maar toe ek dit spuit prrrrt ‘n banale geluid daaruit wat mens sal laat bloos as dit jou liggaam sou ontsnap.. Daar blerts so ‘n slapskyt slymerige slikkerigheid uit wat enige moeder vervaard na die kroepdruppels sal laat gryp as sy dit in haar baba se doek sou ontdek. Toe ek die skeermes deur die gedoente trek klink dit so rasperig asof die Dalai Lama in ‘n bemoerde bui sy Zen tuin hark. So stomp soos ‘n bleddie buskaartjie. Bloeddruppels spring op soos poppies in Vlaandere veld. Ek plak die wonde toe met stukkies toiletpapier om die bloedvloei te stop. Dit help darem, maar as ek my gesig so in die spieël betrag, lyk dit soos Ramses die Derde se mummie nadat die vismotte hom beetgehad het.

Vroukie kom die badkamer binne en roep verbaas “My kwit Skapie (!), probeer jy selfmoord pleeg? Kyk hoe lyk jou gesig! wat op aarde gaan aan?”

“Die bleddie (aan die leser: voeg self meer gepaste byvoeglike naamwoorde uit die F register in, sommer ‘n paar) skeermes se battery is pap, die (voeg weer byvoeglike naamwoorde in) skeergel se viskositeit is soos die van katpis en die (en weer) skeermes is in sy moer in stomp. Ek bloei my vrek en dit alles oor ‘n (en weer, maar nou met mening, en sommer baie) pap battery !” Ek kom agter daar is onverbloemde ongeduld in my stem.

“ Ai Skapie, moenie so ongeduldig wees nie. Dis Vrydag, en die naweek lê voor. En ek is seker jou batterye is nie pap nie, hmm?” Subtiele beklemtoning op “jou”, haar stem is soel soos ‘n somersnag langs die see, warm soos swart fluweel.

En toe kom ek alweer laat by die werk.

18 thoughts on “Papperye”

  1. Jou Voki word toe nie soos die katjie s’n met ‘n “v” gespel nie.Lekker vertelling. Ek glo nog aan die natskeer met ‘n kwas en seep. Net jammer Gillette se lemmetjies is nou al hier by die R20.00 stuk. Ek dink jou batterye is nog effe goedkoper.Dankie vir die moed inpraat daar by Engele blog.

Leave a reply to pasella Cancel reply