Dagsê Grootseun!!

15:08, Woensdag 15 April 2009

In hierdie hoek Dames en Here, met die bos swart hare, teen 3,44kg, Liam Enso Ferreira Bohotha!!!
En in hierdie hierdie hoek, die wêreld, met al sy vreugde en al sy verdriet.

Mag jy tot volle selfverwesenliking kom, Liam, mag die waarhede van die lewe aan jou ontbloot word, mag jy groei in  gees in die aangesig van die wêreld se aanslae, mag jy ‘n man onder die manne word!

(En mag jy jou pa net soveel kak gee as wat hy my gegee het!! Aag ok, en net soveel plesier!!)

Aan die ouers, Chris en Hanlie, moerse!! Julle is ouers duisend! Aan ousus Mira, moenie lat hy jou boelie nie, roer hom !!

Soli deo gloria. 

Hier kiep kiep

So beloof ek Vroukie om te sorg vir die avondmaal, Poulet a la Weber. Maar ‘n halwe sakkie chemiese donkiedrolle (wat dreig om nie te brand nie), ‘n halwe sakkie houtskool met die SABS merk(!), ‘n halwe liter diesel, ‘n halwe klein boksie rooiwyn later, kom die kiepie half verbrand uit die die Weber. Wat het verkeerd gegaan? Oom F, kan jy help? Darem lê Pamela die werfhond met so ‘n halwe geluksalige smaail op haar hondegevreet hier neffens my voete. Ek verwag so half en half moeilikheid vanaand. More aand bestel ek pizzas.

Ondernemingsgees

 Ek sit nou en blaai deur onse dorpskoerant en lees die klein advertensies, daar waar enigiets van ‘n hout piepot tot ‘n duikboot adverteer word. Dr Owama adverteer, naas die gebruiklike Lucky with casino and Lotto en vergroting van daai orgaan waarvan Joost erken dat hy minder bedeeld is, dat hy ook raad het met die seldsame kwaal “watter in the vijun”.

‘n Ander ou smous “passels”, 350 stukke en meer.

Ja, so traai ons maar.

Repliek: Ikonoklastiese fundamentalisme

So sit ek in die laatsomer sonnetjie en mymer oor Oupa se wyshede. Die son eis sy tol en ‘n man word dors.

“Vroukie!! Bring daar vir my ‘n bier en ‘n bakkie peanuts!!” Nie asseblief nie, die is ‘n opdrag, in die gees van Oupa se wysheid nr 6, Die man is die hoof van die huis. “Ek het nog g’n nat of droog oor my lippe gehad nie”

“Natuurlik nie, “roep sy êrens uit die huis”jy sit nog die heeldag op jou gat in die son en droom oor jou oupa se slimmighede. As jy bier wil hê, lig jou gat en gaan haal dit self. Dis in die yskas, vir ingeval jy nie weet nie. Maar ek sê jou nou, as jy weer gesuip raak, slaap jy nie vannag in my bed nie!”

Haar stem is skerp soos lemmetjiesdraad, soos die geklief van ‘n horssweep in die yl maanlig op ‘n koue Karoonag. Dit voel of die spookmeisie van Uniondale my haar in ‘n omhelsing neem.

Ag ja, lang naweek, lang naweek voorwaar.

Harmansdrup

Hierie internet is vanaand so stadig soos harmansdrup in ‘n freezer. Ek gaan liewer lees of TV kyk voor ek moer strip vir ‘n lewelose stuk masjien. Het die Pirates of Penzance weer kabel gesteel in die Mosambiek stroom?