‘n Paar snappies van my kuier doer in die Kaap

 

Hier het ons klein Kara se sesde verjaardag gevier.
Mia, die cheeky cheetah, en Kara en Mira.

Mira aan die kuns pleeg en Liam smaail vir sy maatjie.

Ek was hier ook, en dis wat ek gedrink het!

Sweet home Alabama

So hier is ek terug uit die Kaap, gatvol gery maar dankbaar om veilig tuis te wees. Huis en haard en hond ongeskonde. ‘n Dag by die werk agter die rug, die eerste peperwoorde vroeg – vroeg al geprewel. Die kuier was lekker, gaaf om die jongste kleinkind in lewende lywe te sien. Mooi outjie, lyk nes sy oupa! More sal ek meer vertel van my wedervaringe daar in die land van die Visvoete, vanaand is my go uit, vroeg kooi toe. Vroukie het ‘n lekker karmenaadjie saamgebring, die oermoeder van alle verkoues, kan maar net hoop ek kry nie ook ‘n porsie daarvan nie.

Wederom

Ek het nog nie vanaand veel deur die blogs geblaai nie, maar ek kan my voorstel die algemene tema is die koue wat hier ten noorde toegeslaan het. Ek het maar ‘n nuwe bottel OBS aangeskaf om te help.
More slaan ons die lang pad Kaap toe, hoop om in Kimberley oor te slaap. Dis so 300km van Klerksdorp af, maar ek sal seker eers teen 14:00 se kant by die werk wegkom. Tot tyd en wyl ek weer terug is, 24 Junie, sal ek maar skaars wees hier op die blogs, ek wil nie die internetfasiliteite misbruik daar waar ek gaan kuier nie. Tot dan, hamba karamba amigos!

Kaapse draai

Hie in die Lewieshuishouding is daar ‘n ligte opwinding, soos ‘n lui Vrystaatse dwarrelwind wat van ver af aankom en al hoe sneller begin dartel en draai. Onse koppe staan Kaap se kant toe, na ons kinders wat hulle daar ter plaatse in die land van die Visvoete gaan vestig het. Daar het hulle Bybels vermeerder, en dis nou juis daai olyfboompies wat ons lok om winter nieteenstaande, die Kaapse draai te vat.

Die Stanfordse beach babes vier altwee hul happy birthday dag, soos hulle sê, hierdie maand, Kara haar sesde en Mia haar vierde. Dan Parklands toe om te sien hoe lyk Mira Luna op twee en die pas aangekome bulkalfie, Liam Enso, nog vars op die rak.

Wat is ‘n oupa en ouma dan wat nie allerhande bederfgoeterjies saamneem as daar gekuier word nie, veral so met die verjaardae saam. So bevind ek en Vroukie ons verlede Saterdag hier in onse dorp se winkels. Ons soek die lekker kinderplekke uit, Crazy Store. ‘n kunswinkel, ‘n nuwe boekwinkel, die ander Indiër se materiaalwinkel. Ons koop feëtjie-en kabouterbeeldjies vir die beach babes se fairy garden, vir elkeen ‘n handvol krale om hul eie neklis te ryg, Die Nuwe Kinderverseboek, streepsuikerkouse vir die winter, en by die Indiër skelpienk, amper sê ek koeliepienk, netterige materiaal wat Vroukie op hierdie oomblik besig is om in tutu’s te omskep vir die fancy dress wêreld waarin die twee so maklik in verdwyn. (ook het die kleuterskool op Stanford begin met balletklasse vir die kleintjies). Wat ons nie gekoop het nie is Barbie dolls en acoutrement, dis res non grata in daai huishouding. Vir die Parklanders is daar ook kleurvolle klere en kombersies, ‘n geel tutu vir Mia Luna,  opwipboekies en ‘n Major for Minors cd vir Liam (nie oor dit subliminaal opvoedkundig is nie, maar omdat dit op ‘n special was). Nou loop ons so oopoë vir allerhande dingetjies wat die vier sal vermaak.
Skoon kens.
En eintlik is dit ons wat die meeste opgewonde raak as ons iets raaksien wat na ons mening die outjies se hartjies sal bly maak.  Skoon kens.