Die laaste reis

Eendag as die laaste taxi voor my stoep toet

Om my af te voer na die terminus

Sal dit ‘n blinknuwe infark wees

Wat blitssnel en geluidloos die taak volbring

Of ‘n krokkerige kanker skorrokorro

Wat moeisaam kreunend en knarsend voortbeur

Of dalk die slap limousine van beroerte

Wat my roerloos na die bestemming bring

Of wat van die suikersoet diabetes 2

Wat ongemerk die passasier innooi

Of sal ek dalk self, moeg gewag,

Self agter die stuur inskuif?

(Nee, ek voel nie rerig so nie. ‘n Besoek vandag aan ‘n vriend vir wie die eindfluitjie geblaas het, het my tot inkenning en nadenke gestem)

Advertisements

Abel gaan sellulêr (Lees saam met Abel strip my moer)

“Sorrie, Baas”

Ek ken die stemtoon en weet wat gaan volg. “Hoeveel?” wil ek vra, maar ek wil nie die ou se waardigheid krenk nie.

“Jis Abel, wat is die probleem?”

“Ek dink nou so, Baas, want die anner baas wil my bel by die cell phone”

“Nou watter baas is dit Abel?”

“Want dis die baas wat bly daar annerkant”

“Waar annerkant Abel?” Moedswillig.

“Daar annerkant by Doringkruin, by daai lang straat hy loop so” Abel beduie ‘n boog met die arm.

“Watter lang straat Abel, wat is sy naam?” Lekker moedswillig.

“Baas?” Sal jou leer, Lewies.

“Nee ok Abel, maak nie saak nie.Hoekom wil die baas jou bel?”

“Want hy sê hy het werk vir my, dan weet hy nie om my te kry nie”

“Nou hoe pas ek in die prentjie, Abel?” Weer moedswillig, ek weet goed hoe ek in die prentjie pas.

“Baas?”

Fokkit Abel, maar ek sê dit nie.

“Hoekom vertel jy dit vir my Abel?”

“Want ek het gedink Baas, as Baas elke dag R30 trek ek kan die cell phone koop.”

“Met ander woorde as jy tien keer gewerk het behoort jy genoeg te hê vir ‘n cell phone”

“Baas?”

“Jy wil die geld spaar?”Stadig en afgemete stemtoon.

“Nee Baas”

“Nou hoe dan Abel”

“Die Baas moet my die geld leen, dan trek die Baas elke keer R30”

“Met ander woorde jy wil die geld vooruit hê en dan werk jy die lening terug?”

“Baas?”

Effense bloeddruk styging. Koop vir hom ‘n bleddie selfoon Lewies!

“Ok Abel, ek sal vir jou ‘n selfoon koop dan werk jy die geld terug”

“Want ek sê dankie. Ek is vrede. Die baas help my altyd”

“Dis reg so Abel. Ons help mekaar. Ek sal die cell phone Vrydag vir jou gee. Ka Labotlhano.”

“Eeeh Baas”

Ek koop toe vir Abel ‘n selfoon.

“Abel, weet jy hoe werk die selfoon?”

“Ja Baas, ek ken”

“Mooi, maar kom ek wys jou net in geval, en dan sit ek my nommer op”.

 Dit gaan moeilik want Abel is nie geletterd nie, ek weet nie wat maak hy van die syfers uit nie. Ewenwel.

Vrydagnag 12:00 “Smoke on the whaate, an fire in the skaai” My ringtone. Dis ‘n generiese SMS “Call you later, I’m busy now”, komende van Abel.

So gaan dit deur die nag. Ek sit later die selfoon af. Lyk my Abel het so vyf uur gaan slaap. So gaan dit deur die Saterdag, Saterdagnag, Sondag. Abel geniet die cell phone. Ek probeer hom bel maar hy antwoord nie.

Dinsdag kom hy weer werk.

“Abel, wat sukkel jy so met die cell phone?”

“Ek sukkel nie Baas, ek ken hom”

“Nou vir wat stuur jy my so baie SMSe?”

“Baas?”

“Hoekom bel jy my so baie?”

“Ek bel nie Baas”

“Ok dan, kom ons kyk weer, laat ek sien wat jy onthou”

Abel onthou fokol, die les word herhaal.

Geniepsig stel ek die alarm op drie uur in die oggend.

Vrydag is Abel weer by die werk.

“Hoe gaan dit met die cell phone Abel?”

“Hy is stukkend Baas. Hy bel by die nag, elke nag. Ek kan hom nie afswitch nie, hy pla my by die nag, ek kan nie slaap nie”

“Ok Abel, gee hom laat ek kyk”

“Kan nie Baas, ek het hom verkoop, ek soek nie die stukkende cell phone nie”

 (Verskoon die kakkerige teksuitleg, dis te danke aan “ons splinternuwe teksredigeerder wat baie probleme sal oplos. If it ain’t broke don’t fix it!)

Hierdie Saterdag was ‘n lekker Saterdag

Ja, ek het ‘n genoeglike dag beleef. Al die rugbyspanne wat ek ondersteun het gewen. Maar fokkit, Cheetahs, hoekom moet julle altyd wag tot op die nippertjie om die game te beklink! Jissie, en die Bokke! Knap gedaan!

 So teen laatmiddag vat ek vir Pamela die werfhond vir ‘n stappie en ek sien die somer staan regop hier op ons voorstoep, die witstinkhoute glinster groen in die middagson, kinders speel kaalpoot in die strate en die braaivleisrook hang soos ‘n donderwolk oor ons woongebied.

 Toe kyk ek so bietjie TV, Glitterati. Die eens skone en seksie Yvonne van den Bergh pronk soos die arm man se Edith Venter in so ‘n shabby gewaad wat dreig om haar tieties te ontnestel. “Kyk daai make up op haar wange” sê Vroukie. Maar daarvan kan ek nie getuig nie, ek kyk houtoog na daai regter tietie wat nou gaan uitpop. Voor daardie memorabele moment egter trek een of ander spoilsport die gewaad se waaghalsige hals in posisie net toe die kamera wyk.

 Daarna volg ‘n inane bespreking deur twee skepsels van twyfelagtige geslag  oor een of ander beuselagtigheid wat hulle so opwindend vind dat hulle klonterig in hul panties poep. Ek ween vir my taal. Ek ween vir my volk.

 Die boere wat vrou soek kan egter iets hieruit leer. Die geanaliseer en geredeneer en gespekuleer of Sannie of Annie nou die een vir my is, vergeet daarvan, gaan vir die een met die grootste tieties, dan is jy immers seker van een ding!

 

 

‘n Gesprek met Abel, of, Abel strip my moer.

“ Hallo Abel. Hoe gaan dit met jou”

 “ Eeeh, gaan goed Baas”

 “Die tuin lyk mooi Abel. Ek sien sommer jy het hard gewerk vandag”

 Abel pak sy tande uit.

 “Het jy die dooie blomme in die bedding by die swembad uitgehaal?”

 “Askies Baas?”

 “Die dooie blomme daar by die swembad, het jy hom uitgehaal?”

 “Eeeh Baas”

 “En het jy die bedding omgespit?”

 “Baas?”

 “Die bedding, het jy hom omgespit”

 “Eeh Baas.”

 “Het jy eers mis gegooi?”

 “Baas?’

 “Die kak van die skaap, die masipa ya dinku, het jy dit gegooi!!?  Matig geirriteerde stemtoon.

 “Eeeh Baas”

 “En het jy die bedding toe natgemaak?”

 “Baas?”

 “Die fokken bedding, het jy die fokken bedding toe natgemaak!!? Die metsi, jy het hom gegooi by die grond!!?” Erge geirriteerde stemtoon.

 “Eeeh Baas”

 Nou voel ek ietwat verleë omdat ek toegelaat het dat my irritasie bo toon voer.

 “Dankie Abel.” Apologetiese stemtoon.

 “Eeh Baas”

 “Ons gaan vanjaar ‘n spoggerige tuin hê, Abel”  Versoenend, amper gatkruiperig.

 “Baas?”

!!!

Koue water

Ons swembad is redelik privaat en mens kan waag on au naturel te swem, sonder gevaar om die buurvrou te onthuts, en ek  het so pas die temperatuur gaan beproef, maar dis nog bleddie koud, so ander halfduimpie, tot die buurvrou se teleurstelling.