Majestuoso Tempestuoso, of te wel Die Wind kom van Binne

 

Toe Dawid haar fyn handjies in sy forse manshande neem, weet sy hier kom moeilikheid. Haar hart bokspring in haar keel soos paddas op pad na die fontein na die lentereën,  haar hart klop soos ‘n hamermeul op die dorsvloer.

 

“Dawid…nee, ek kan nie nou nie” prewel sy onthuts, haar woorde leunagtig teenoor die emosie wat soos beskuitdeeg in haar binneste opwel, en sy besef: die ongemak wat sy nou ervaar is as gevolg van daai tweede porsie boontjiesop. Maar hoe kon sy dit van die hand wys, stomend, oorrompelend geurig op hierdie koue wintersdag.

 

“Speel vir my op die klavier. Laat jou lieflike vingers soos somer swaeltjies dartel oor die klawers, maak liefde met my in goddelike musiek, laat my vermurwe in die hemelse note.” Sy stem is skor, rasperig soos P80 skuurpapier.

 

Sy trek haar hande teensinnig terug. “Dawid, ek moet eers…”

 

“Nee,” val hy haar bruusk in die rede. “Jy moet niks anders as om my hart weg te voer met die wonderlike vaardigheid van jou vingers, ek meen nou op die klavier” voeg hy haastig by.

 

“Dawid, maar ek..” haar stemmetjie is klein, klein en benoud soos die van ‘n skoolmeisie voor langpouse. “Niks g’n gemaar nie, as musiek die voedsel van die liefde is, gee my nog, gee my tot ek oorversadig is”. Sy stem is dramaties, sonoor, lieflik en sterk op haar oor. Sy voel ‘n krieweling in haar. Sy GPS die posisie van die krieweling, senter in die afdalende kolon.

 

In haar nood besluit sy om ‘n kragtige stuk musiek aan te durf, Aus der sturm und drang der Alpinose hochland, gekomponeer deur die briljante Duitse musiek genie Adolf von Kartoffelen Salad In der Hose. Smittie Faan vertaal dit op RSG as ” ‘n Uiters hewige storm in die landelike gebied van die Alpe.”

 

Toe sy die eerste klawers ligweg betas,  voel sy hoe die drukking in haar kolon dramaties toeneem. Sy skuifel benoud rond op die klavierstoeltjie en jaag die tempo aan na molto andante.  Maar hoe meer molto sy speel hoe meer molto word die nood. Sy knyp en skuifel, knyp en skuifel, haar hande flits soos spieëlbeelde in die son, die klawers dawer freneties, spring soos ‘n quad bike teen die steilte van die magtige cresecendo, molto tempestuoso, tanto molto tempestuoso, tantissiom molto tempestuoso,  die sweet slaan op haar aanvallige voorhoof uit, haar Salon Fraai Vroutjie perm hang verlep en slierterig oor haar gesig, haar hande dartel en spring soos ‘n kudde springbokke in die lenteveld. Sy knyp en skuifel, knyp en skuifel, en dan, na wat na ‘n ewigheid voel, sien sy die oomblik van verligting voor haar soos Moses van ouds die beloofde land klaar en helder aanskou het vanaf die piek van berg Sion, die zenith van die crescendo, die absolute magiese klimaktiese stonde van die virtuose musiekstuk: majestuoso tempestuoso, wat die klank van die uitlating van die kolongasse sal kamoefleer, haar oomblik van redding! Steeds baie fyntjies en vroulik verslap sy die sluitspiere, reguleer die ontlading behendig. ‘n Glimlag ontplooi op haar gelaat, en die musiek tempo neem gaandeweg af, dralend soos stappers teen die helling van die heide.

 

“Brava! Bravissima”! Dawid se stem is jubilant. “Wonderlik! Wonderskoon! Wunderbar!! Nazdarovje!!!”

 

“Dawid, ek moet eers…”

 

“Nee, nee! Speel dit weer. Wat is die naam van die selestiale musiek”

 

“ Dit het ‘n lang Duitse naam, maar in Afrikaans staan dit bekend as “Die Storm”, maar nou moet ek eers…”

 

“Speel, speel, gee my oorvloed! Maar los net daai gedeelte waar die weerlig die lewwetrie raakslaan!”

 

 

 

 

Advertisements

Lewies se lekker luister liedjies

Ja, vir my is hulle lekker, so ietwat uit die oude doos, maar nog steeds lekker om na te luister.

L          Like a rolling stone                                Bob Dylan                                           

E          End of the Line                                     Travellin’ Wilburys

W        With a little help from my friends           Joe Cocker                                                     

I           It’s my heart                                         Francoise Hardy

E          Elberta                                                  Eric Clapton

S          Sultans of swing                                    Dire Straits

Lewies is in die wolke

 

3:47

Dis wat die wekradio se rooi liggies my vertel.

 

“Jissie, Vroukie, skuif bietjie op! Ek het nie meer plek om te lê nie!” sê ek so half fluisterend. Sy moet hoor en reageer, maar ek wil haar darem nou nie wakker maak nie.

 

Sy reageer onmiddellik. “Mmmprprmm!”murmel sy en du stywer teen my aan. Sy wen so 1cm veld. Ek druk versigtig terug maar in ‘n verrassingskuif draai sy halfpad om na my en wen nog ‘n sentimeter.

 

“Fokkit Vroukie” my fluistering is nie meer heeltemal fluisterend nie. “Lê soontoe! Ek het nie plek nie!”

 

Vroukie haal diep asem en sug behaaglik.

 

So gaan ek nie my verlore lêplek herwin nie. Ek trap vas en druk ferm teen haar. My toonaels grou grrts grrts in die laken in. Sy rol effens weg en ek wen veld. Net toe ekontspan kom sy met ‘n hernieude aanslag en skuif half onder my in. Ek hang nou soos ‘n vlermuis aan die kant van die bed.

 

Voor jy kan sê “Touch, pause, engage” slaan ek terug met ‘n stewige regterskouer, maar in ‘n klassieke Os du Randt skuif swaai sy die skrum en sit ‘n  onverwagse romaalbeweging aan die gang. Voordat ek my kan posisioneer teen die aanslag  is ons terug in my doelgebied. “Beassst!!!” sing die tinnitus in my ore.

 

Dan sê sy, “ More Skapie! Maar jy slaap te lekker vanoggend! Rustige nag gehad?”

Ek kyk op en sien haar waar sy hier by die bed staan met koffie in die hand. “Jy sal moet roer, die kallers suip uit!”

 

Dan het ek tog uiteindelik aan die slaap geraak.

 

“Nee, Vroukie, ek het nie ‘n rustige nag gehad nie. Jy het heel nag hier half bo-op my gelê. Ek het g’n plek gehad nie”

 

“En ‘n goeie more vir jou ook, Lewies”

 

“More Vroukie. Vir wat druk jy my die heel nag so van die bed af?”

 

“Ek het jou al lankal gesê die matras is hol gelê. Ons rol in die nag na mekaar toe”

 

“Die matras is so te sê splinternuut. Van wat sal hy nou al hol gelê wees?”

 

“Sê jy vir my! En die matras is nie so te sê splinternuut nie. Ek het die faktuur gaan uitgrawe. Ons het hom in 1995 gekoop. Dis hoog tyd dat hy vervang word”

 

“Hulle maak ook nie meer die goed soos in die ou dae nie, “ brom ek. “Dis vandat daar inner springs en coil springs en sulke goed in die matrasse gesit word dat dit nie meer hou nie. Daai outydse klaaperhaar matrasse waarmee ek grootgeword het was die beste.”

 

“ Jaaa, Skapie. Is net so”

 

So dwaal ons van winkel tot winkel en swerf op die internet rond. Die een is beter as die ander, die een het ‘n 2 jaar vervangingswaarborg, die ander 5 jaar. Die een kos dit die ander dat. Maar dan neem ons die gewigtige besluit.

 

Die volgende middag word die matras afgelewer, sommer met ‘n nuwe basis ook.  Vroukie maak flink bed op.

 

 “Ek het ook vir ons nuwe kussings gekoop, die ander was al so uit fatsoen uit”

 

Slapenstyd lê Vroukie al in die bed en lees toe ek uit die badkamer kom.

 

“En toe, “vra ek, “hoe’s die nuwe matras?”

 

“Kom probeer self,” nooi sy. Hoor ek iets in haar stem, dalk ‘n vaag bedekte uitnodigning?

 

“Kom sweef saam met my op cloud nine,” sê sy en klap-klap op die bed, “maar versigtig nê, onthou, die matras moet nog lank hou!”

 

 

 

 

Abel word ‘n Cheetah

Vroeg in die Curriebekerseisoen

“Hallo Abel. Hoe gaan dit?”

“Eeh, Baas. Gaan goed Baas”

“Jis Abel, jy het ‘n mooi hemp aan!”

Abel smaail dat sy blinde oog vonkel.

“Dis mos ‘n Cheetah hemp, Abel”

“Baas?”

“Dis ‘n Cheetah hemp, die supporters van die Cheetahs dra dit”

“Baas?”

“Die Cheetahs is ‘n rugby team Abel. Hulle supporters dra die hemde, soos die Chiefs se supporters die gold and black dra. Van die ander teams is die Sharks, hulle hemde is grys en swart, dan is daar die Bulls, hulle hemde is blou.”

“Ek ken nie die rugby nie Baas. Ek ken net foot ball. Ek like die Pirates”

“Ek ken weer nie van sokker nie. Waar kry jy die hemp, Abel? Het jy hom gekoop?”

“Nee, Baas, ek kry hom by die anner baas.”

“Die hemp is nog nuut. Ek wonder hoekom gee hy dit weg.”

“Baas?”

“Ek sê die hemp is nog nuut. Hoekom gee daai baas die hemp weg?”

“Die baas sê die hemp is kak. Annerdag ek sien hy dra nou ‘n blou hemp”

Boem tjiekie boem tjiekie

 My buurman in nommer twintig speel die elektroniese klawerbord, al het hy net hy nege vingers en ‘n lit. Met daai stompie kielie hy die note dat die musiek jubel. Boeremusiek. Boem tjiekie boem tjiekie boem fokken tjiekie. Toe, so met die haelstorm van ‘n week of wat gelede, stroom die water in sy elektroniese klawerbord en koenfoes die moederbord en wat nog. Sjit.

 Outsurance is vinnig en effektief. Vandag kry Buurman ‘n nuwe klawerbord. Sjit.

 Hy is in die sewende hemel. Jubelklanke kom op boeremusiekmaat oor die straat geboemtjiekie. Die wals, die seties, die vastrap, die jakkalsdraf, die hondegaloppie, sy repertoire is eindeloos. Die klanke buitel soos bronstige donkies in die weide.

 Die weerkantoor voorspel swaar reën in ons omgewing. Ek wonder of Buurman se dak al gefieks is.

Manjefieke Mafikeng

Dis waar ek verlede week deurgebring het, van Maandag tot Vrydag, om ‘n kursus te doen oor projekbestuur. Die kennis sal ek nou kan toepas–in die week wat ek daar was het ‘n hewige haelbui ons dorp (Klerksdorp) getref met skade aan plafonne en matte in die Lewies residensie, wat ‘n projek om eise en kwotasies gereed te kry. Onse tuin is in sy kanonmoer, dis net tyd en harde werk wat dit sal kan herstel. Daaroor kla ek nie te erg nie, bure en vriende het erge skade gehad met plafonne wat op meubels en elektroniese toerusting ingetuimel het, ruite wat stukkend geslaan is en karre wat deurgeloop het. Die aand van die haelstorm kry ek ‘n oproep uit Klerksdorp, die ou het ‘n selfoon opgetel en die adreslys oopgemaak, Baas Lewies is  die enigste Afrikaanse naam en hy bel toe. So kom dit uit dat dit Abel die tuinman se foon is. Die storm het hom so twee km van die huis gevang op pad na die taxis.  Abel sê die ice het hom so toiing-toiing teen die kop gepiets. Dit sal seker ‘n rukkie neem vir die ou om na normaal terug te keer. Sy torre dobber wild rond.

So in my allenigheid het ek ook ‘n nuwe lewensjaar betree. Ek kon darem ‘n paar kollegas stiek vir ‘n drankie, maar is maar kak om so alleen te wees as die ouderdom sy lippe aflek vir jou. Vir die wat wonder, ek is in die laaste jaar van die vierde dekade van die vorige eeu gebore, of te wel  MCMXLIX. Ek kry swaar om dit pront te sê, so al asof ek die naakte feite kan verdoesel!