Kuiergaste

Ons het oor die naweek gaste uit die Kaap gehad, Boikie en sy familie.

Hier is Liam, die jongste kleinkind en enigste seuntjie (so ver!) uit die Lewiesnageslag.

En hier is sy ousus Mira

   

Maar saam met hulle was daar ook ‘n ongenooide gas, Gastro, wat ons kuier versuur het. Eers val Liam in, toe sy ma, toe die uwe, toe Vroukie, en laastens Boikie. Die kleintjies en hul ma kuier nou by die ander oupa en ouma op hul plaas net hier buite onse dorp, Boikie is reeds terug Kaap toe om die pot aan die kook te hou. Ek en Vroukie het gister tuis gebly om te herstel. Selwers voel ek vandag nog nie 100% nie en het dus nie gaan werk nie. ‘n Jaar of wat gelede sou ek my gewonde liggaam wel werk toe gesleep het, maar nie meer nie. 

Ons oudste kleinkind Kara is vanjaar skool toe in Hermanus. So het sy gelyk op die memorabele dag, ‘n regte graad eentjie parrabeentjie. By haar is haar sus Mia, ewe belangstellend ( en antisiperend geklee vir ‘n moontlike koue front!)

Advertisements

Twee klein woorde

 

Ek het na werk vinnig by Checkers ingespring vir ‘n paar goedjies, en is weer eens getref deur Checkers se toegewyde verbintenis om die agtergeblewenes in die werksmag op te neem. Dis verbasend hoe die kassiere opgelei is om ‘n hele transaksie, of dit nou een item of ‘n trollie vol is, te hanteer met net twee woorde in hul woordeskat, ongeag van die feit of die klant sê “More” “Good day” of “Dumela” net twee woorde is genoeg om die gesprek te voer: Ten eerste by die aanhoor van die groet word gemompel ” Plêstiek?” en na afloop van die proses “Straight?” Wat meer is nodig?

 

Die booi op die dak

Die dakverwery hier ten huise het begin met Senwes wat dakverf op ‘n special het, R445, 00 per 20 l, en die feit dat die gekontrakteerde verwer op die nippertjie ‘n ander werk kry wat meer betalend is. Hy stel voor dat sy pa, Petrus, in sy plek die dak sal verf. Iewers in my geheue protesteer ‘n herinnering. Die laaste keer toe Petrus hier geverf het het ek dramaties gesweer “Nooit weer nie!!”. Hy stamp die mure en die deure in hul happy moer in met die leer, hy bemors die wêreld met verfspatsels as hy die kwaste skoonmaak, hy vertrap die plante roekeloos, en nog vele ander. Maar ja, die verf is reeds gekoop en Petrus sê hy staan nou al van voor Krismis af, sal ek nie die joppie maar asseblief vir hom gee nie? Dalk is dit die Bybelse naam wat my laat swig. “Ok Petrus, kom ons maak ‘n prys, dan begin jy more”

 

Die eerste dag het nie te sleg afgeloop nie, dis hoofsaaklik voorbereiding en die herstel en verf van die nokteëls. Die tweede dag toe ek in die huis kom sê ek vir Vroukie hoe stink die huis dan na hondepoep? Maar sy ruik niks, sy is gefokus op ons kinders wat Woensdag, dis nou more, kom kuier. Die huis moet reg. Later toe ek kaalpoot in die spaarkamer loop voel ek die mat is nat. Ek dag eers Pamela die werfhond het ‘n glips gehad, maar toe sien ek die vlekke op die plafon. Dieselfde storie in een van die spaarkamers. Met die verwery maak Petrus die dak nat. Hy buig die tuinslang se punt om en maak dit met draad vas, om water te bespaar, sê hy. In die proses spuit die water dan terug, en onder die teëls in.

 

So is die naweek deurgebring met ‘n verfpoging om die vlekke in die plafon te bedek en om die stank van die nat matte uit te dryf. Dis nie maklik nie, laag op laag verf maar die geel kolle slaan weer deur soos ‘n nikotienvlek in ‘n ou onderbroek. Die matte stink bedompig en dis eers na die hoeveelste aanwending van droë matsjampoe en Shake ‘n Vac dat die hondepoepreuk bedaar. Sondag het ons op ons knieë deurgebring, maar nie in aanbidding nie.

 

 

Volgende keer sal ek luister as daardie stemmetjie van herinnering sy hand vermanend opsteek.

 

O, ek het nie vertel van die verfemmer wat van die dak afgeval het nie.

Doodskoot

So kort voor die runderpes is r in Namakawaland ‘n oom en antie. Hulle het kinders by dosyne. By die geboorte van die laaste een waarsku die dokter dat die antie se masjienerie nie meer so lekker is nie en dat sy bes moontlik nie nog ‘n geboorte sal oorleef nie. Die oom en antie skrik, want hulle is lief vir mekaar en wil nou nie sommer moedswillig die antie laat dood nie.

Nou slaap hulle op apart op sulke ysterkateltjies, maar die ongedurigheid broei in hulle. Een nag lê die oom wakker en hy hoor die antie se kateltjie kraak en kreun soos sy rondrol. Na ‘n rukkie is dit stil en hy kyk na haar, net om te sien dat sy hom met groot oë beloer. “Jy keek vi my,”sê hy. “Ja,”sê sy,”ek keek vi jou. ” “Nou maar hoekom keek jy vi my?” vra hy. “Ek dink” sê sy.  “Nou maar wat dink jy so innie laatnag?” vra hy. “Ek dink jy moet my maar die doodskoot kom sjee”

‘n Anderste soort koek

Ek sit nou hier met LAPA uitgewers (Lees Afrikaans Praat Afrikaans) se nuutste katalogus voor my. Een van die aanbiedinge is ‘n kookboek, Lekker Kuierkos, saamgestel deur Clover.  As lusmakertjie wod ‘n resep vir Kola Kakaskoek geplaas onder die afdeling Vakansievrolik. Genugtig! Kakaskoek! Is dit nou Kak askoek of Kakas koek? Nee dankie, hou verby!