Popcorn gedagtes

Monica se lekker inskrywing oor springmielies roep aangename herinneringe by my op. Fliek en popcorn gaan saam soos brood en botter. Kleintyd het ons maats gereeld gaan fliek. Ek het in Kroonstad grootgeword, en daar was twee flieks so skuins oorkant mekaar, die Empire en die Scala. Saterdagmiddag was ons daar, ongeag van wat gewys het. As jy geld gehad het gaan jy fliek.Met die Saterdagmiddag matinee was daar ook ‘n local band wat gespeel het, sulke regte beatle na-apers met swart suits en wit hemde. Skadeloos deesdae, maar in daardie tyd se stoerheid en benepenheid regte  rebel rockers. Daar was ook ‘n usherette wat nie net die plekke aangewys het nie, maar wat ook tydens die vertoning in die gange op en afgeloop het gekyk het wie sit hul voet op die sitplekke se ruglenings. Dan lig sy met haar flits op die skuldige en roep in so ‘n skrilstem: “Haal af jou voete daar!” Wat posisie darem ook nie aan die ego doen nie. Pouse staan sy voor in die fliek met ‘n skinkbord aan ‘n strap om haar nek en smous sweets en siegrets. Rook was nie verbode in die fliekgebou nie, en die walm het swaar en benoud in die lug gehang. Die lig uit die projektorkamer het moeisaam deur die rookwolke gedring. Gedurende pouse kry jy ‘n pass out. Dan hol ons na die Missis Fords se kafee oorkant die fliek, jy moet hol anders staan jy in ‘n helse lang tou en word eers gehelp as die fliek al aan die gang is. Ons koop tiekie cones en popcorn. Die cones is klaar geskep en lê gereed in ‘n vrieskas. Missis Fords het ‘n swart ou gehad wat die cones help uitdeel het, sommer so met die kaal hand. Dan sê mens ‘Dankie Boy”. Nou eet ons te lekker. Die cones word in die popcorn gedruk en die popcorn word dan smaaklik gekou. Die pitte word gebêre en as die fliek weer aan die gang is gooi jy die ander ouens daarmee. Dit was so erg soos ‘n oorlogsverklaring en kon maklik op ‘n tiekiescrap uitloop. Gelukkig was die usherette daar om alle moeilikheid met haar skerp stem in die kiem te smoor.

 

Toe ons nou begin groot word was dit pret om die usherette te chaaf.Sy het ‘n haaslip gehad wat chirurgies herstel is maar het ‘n nasale neulstem as gevolg daarvan gehad. Eenkeer toe iemand weer haar siel so uittrek (sy het nooit agtergekom dat die ouens met haar ghaai nie) sê sy so op ‘n sangerige nasale noot, met iets soos hartseer in haar stem”Njulle wil njie soen njie,njulle wil njet njaai”

 

Jare later fliek ons hier in onse dorp saam met vriende. Die een ou is teësinnig om te gaan, hy hou nie van fliek nie, dis te koud in die fliek , dis raserig in die fliek, die kinders irriteer hom, maar hy gaan tog saam. Toe ons later in ‘n restaurant sit en gesels oor die fliek kom ons agter dat die ou nie luister nie. Toe sien ons die wit stukke popcorn wat hy in sy ore gedruk het om die kank te demp. Baie doeltreffend, sê hy, mens moet dit net uithaal as die fliek verby is anders mis jy die kuier!

12 thoughts on “Popcorn gedagtes”

  1. Hene Lewies, ek kan nie glo dat ek soveel van jou skrywes gemis het nie, maar ek het nou alles gelees van die dakverwery tot hier.Heerlike dae in die flieks omgekuier as kind!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s