Pamela se storie

Pamela se storie

Ek vertel nou van my allenigheid en teer op simpatie wat ek ontvang. Eintlik is ek nie heeltemal alleen nie, die mens se beste viriend lê hier by my voete en volg my waar ek gaan in kaniene kameraderie.  Ja, Pamela die werfhond bewaak haar ouwaas en hou sy doen en late dop. Umbra canis, vir die wat so ‘n spatseltjie Latyn onthou—‘n honde –skaduwee.

Pamela se teenwoordigheid en haar posisie as amptelike werfhond is nou nie sommer toevallig nie. Daar is ‘n storie aan verbonde.

Ons het afskeid geneem van ons vorige werfhond, Mary – Lou, die kordaatste Staffie wat mens jou kon voorstel. “Nie weer ‘n hond of kat of enige lewende dier op onse erf nie” die afskeid is te swaar, te veel rompslomp as ons weggaan ensovoorts. Die plesier en genot van ‘n diere-asem sal ons maar ontbeer. (Terloops, die veearts wat Mary-Lou uit die lewe gehelp het, hakkel baie erg. Toe ek en Vroukie nou daar staan en snot en trane huil, probeer hy ons troos, ‘n scene uit ‘n Leon Schuster – movie!)

So twee jaar gelede kom ons terug van ‘n kuier daar in die Kaapse kontrei. Die Juliemaand, in die midde van ‘n ongenadige koue front. Die bure vertel van die rondloperhond wat in hul erf tussen die struike gekraam het. Die hond is erg verwilder en die DBV besluit om haar voorlopig te los eerder as om  die kans te waag dat sy die pad vat en die kleintjies agter laat. Die hond snuffel in ons voorerf en Vroukie gee brood en melk. Binne ‘n dag of wat kom vra die brak gereeld kos. Met moeite en geduld wen ons so ‘n bietjie van haar vertroue en neem na ‘n week die kleintjies in. Tien van hulle.. Ek bou ‘n bed in die buitekamer en ons gee die ma kos. Twee maal ‘n dag kry sy twee snye growwe brood (koolhidrate), melk (kalsium vir die suigelinge), ‘n rou eier (proteiene) en ‘n skep Butch (vet vir die koue). Ma en kroos gedy en binnne ‘n week of drie hol die kleintjies die agterplaas vol, Jackpot, Miempie, Zuma (so ‘n geletjie met skelm akkedisogies) Breyten (‘n wakker rakker, baster Wors êrens langs die pad) Simson en kie.  Ons sukkel nie om base vir hulle te kry nie, alhoewel ons uit die hele boerdery net R50 maak toe Zuma verkoop is. Die ander, vry en mahala weggegee, darem na wat ons gereken het is betroubare base. Miempie, verneem ons, is gek na KFC en slaap by haar baas op die bed. Arme Simson is reeds afgesterwe, glo gif ingekry.

So het sy gelyk

Die ma-hond sien so treurig en verwaarloos daaruit dat ek en Vroukie besluit om haar maar te hou. Wie sal so ‘n lelike hond nou wil hê? Gaan sy DBV toe sal sy vir seker uitgesit word. Na haar beproewing kort sy ‘n goeie huis en ‘n mooi naam. Pamela. So in haar sogende toestand laat sy ons nogal dink aan die teef weergawe van Pamela Anderson. Sy is van duistere en onbepaalbare afkoms, Africanis, (Afrikahond), lokasiehond. Ja, julle wat die k-woord wil gebruik is reg, sy is een.

En hier is sy vandag, stert in die lug, baas op haar werf,  Hier pik geen hadida wurms op die gras nie. Die bure se kat speel chicken met haar, spring kort-kort oor die muur en drink water uit die voëlbak, net om die hond te treiter. Sy raak verwoed verbouereerd as ek ‘n halsband om haar nek sit, was sy dalk vasgeketting waar sy vandaan kom?  Stappies is dus beperk tot Saterdag- of Sondagmiddag as dit stil is in die omgewing. Ek voel onrustig om met haar te stap sonder ‘n leiband, maar sy moet darem die naweekuitgawe van die honde snuffelkoerant lees.

Ja Pamela, waar woon jou ouma?

Pensies lekker dik. Breyten is die swartetije, reg voor hom is Miempie. Zuma heel voor.

 

So lyk ou Pammy nou

Advertisements

23 thoughts on “Pamela se storie”

  1. Diere is redeloos(teenoor mense in elk geval) en het iemand nodig om namens hulle te praat. Ek word verskriklik de moer in as mense diere aanhou en nie hul vepligtinge nakom nie.

  2. Julle sal geseend wees, Lewies! Dis nog in ding van die 3e wereld, hulle kan net nie diere versorg nie-geen respek vir ENIGE lewe nie. Iemand het eenkeer gese: You can judge the degree of civilisation by the way a race treats it’s animals”……Dit se alles.

  3. Lewies ek het sopas besluit indien ek terug kom aarde toe in my tweede lewe wil ek bitter graag julle hond wees!Ek kan byna nie glo dis dieselfde hond nie, sy is pragtig.

    1. Dankie dat jy so ver terug lees! Sy was gister net mooi agt jaar by ons. So vier jaar gelede het nog ‘n rondlopertjie homself by ons tuisgemaak, was nogal ‘n ding om die twee brakke Hermanus toe te bring.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s