Jinne Vroukie, is die dik rib jou dikrib?

Ek en Vroukie is vanoggend kwekery toe, sonder enige agenda, net om daar tussen die plante rond te snuffel. Maar soos altyd koop ons ‘n plant of twee wat hier in die hittige najaarson geplant word. Die arbeider het sy loon verdien, en ons sit in die koelte van die stinkhoutboom met ‘n verkilde wit wyntjie en gesels oor die verlede, die hede en die toekoms, laasgenoemde omhul in ‘n floers van onsekerheid, moet ons of moet ons nie. Terug na die verlede, daar is meer plesierigheid om in te skrop, soos ‘n plaashoender op ‘n ashoop. So dink ons terug aan ‘n bootvaart so ‘n jaar of twee gelede, lekker man. Die bloue see so om jou, almal happy en plesierig. Die enigste vlieg in die salf is die buitensporige drankprys. Maar dan drink mens ook minder en dis gesond so. Dus: ‘n ervaring soos min.

 

Ons is ‘n groepie van ses, swaertije en skoonsus (dis nou Vroukie se suster) en vriende van hulle, Peet en Mariaan (sê maar). Vir Peet en Mariaan ken ons nie, eers hier ter see ontmoet. Hulle is werklik aangename mense, en ons kom uit die staanspoor goed oor die weg. Veral saans aan tafel is dit ‘n plesierige geskerts en gelag, aangehelp deur die Italiaanse kelner Mario en sy kwinkslae.  Een aand na ete en ‘n bekostigbare glasie rooi wyn, (duiwelsdrek!) staan ons op die dek in die lig van die volmaan, vir ‘n oomblik is elkeen aan homself oorgelaat, versonke in sy eie gedagtes. Dis ‘n gewyde oomblik, en ek reik uit na Vroujie wat so met haar rug na my staan en begin liefderik aan haar dikrib knie met die duim en die wysvinger. Magtag, Vroukie, dink ek so by myselwers, die skeepscuisine doen jou goed, of nie goed nie, afhangende oor hoe mens nou voel as die dikrib so ‘n skilletjie  ontwikkel. Maar dit maak nie saak nie, die oomblik is groots, die vaarwater se skuim blink in die maanlig wat stol op die swart see, die polsslag is op minimum, die breinritme luier net genoeg om die oomblik in te drink. 

 

Dan kyk ek leepoog op, hier voor my staan Vroukie, aan die gesels met haar sus. Ek kyk na my hand wat die dikribbetjie so knibbel asof dit nie myne is nie. Dis hier in Mariaan se vlesighede wat my vingers dwaal soos Bambi in die woud! Ek los daai dikribbetjie asof ‘n bose gees dit in ‘n kool vuur verander het. Ek probeer snel dog grasieus die afstand tussen my en Mariaan vergroot, strompel in die proses oor my voete voordat ek veilige hawe bereik. Wat nou? Hoekom staan Mariaan daar soos ‘n hond wat regmaak om vir die volmaan te  tjank? Hoekom het sy nie padgegee of my indringerige hand weggestoot nie? Hoe hanteer ek die saak verder?

 

Ja wel, die volgende dag het ek moeite gemaak om haar en Peet êrens alleen raak te loop. ek het die hele petalje verduidelik. Almal het dit in goeie gees ontvang, en my eer is ongeskonde, maar ai, ek voel nog soos ‘n poephol as ek aan daardie episode terugdink!

 

‘n Paar maande later verneem ons dat Mariaan ‘n breukoperasie ondergaaan het. Vol bravade sê ek maar ek kon julle gesê het sy het ‘n breuk, ek het hom dan gevoel!

Advertisements

20 thoughts on “Jinne Vroukie, is die dik rib jou dikrib?”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s