Nineteen seventy three, it was a very good year

More is ek en Vroukie sewe en dertig jaar in die heilige verbind, eat your heart out Angus Buchan! Ja nee, sewe en dertig jaar gelede lyk ek soos one Greek god, nou lyk ek soos  one goddamn Greek. Ai, maar Vroukie is nog dieselfde chick wat my doerie jare laat swymel het soos ‘n werfhoender in die somerson.  Ek onthou daai herfsdag van April, die straatbome se blare wat lui en loom afdwarrel grond toe, die wasigheid in die lug asof die blou tanend swig voor die kilte wat ongemerk toeneem. Die Vrystaat het daai dag met 26-13 oor Noord-Transvaal geseevier, Joggie Jansen en Pikkie du Toit was…. ok, ja, Vroukie was pragtig in haar reinwit trourok wat haar ma met soveel liefde gemaak het. (Sy het ook die going away outfit gemaak, ‘n broekpak met ‘n baadjie met sulke baie knope, die knoopsgate moedswillig te klein, het ek later gedink toe ek oorweeg om ‘n spanner in te span om daai baadjie oop te knoop!).

 

Toe die dawerende triomfantelike gejubel van Mendelsohn se Troumars losbars en die gaste soos een man uit hul sitplekke ruis ( nie rys nie) het hoendervel van kop tot toon oor my getrek. Ek het net vir haar gesien. Ek het gevoel of ek sweef toe ek haar tegemoet stap. Ek het nie eens die verslae hartseer in haar pa se oe gesien nie, eers later op ‘n troufoto gemerk hoe bekommernis oor sy gelaat huiwer.

 

Van die predikant se boodskap onthou ek vandag niks nie. Was seker maar die welbekende gedeelte uit Efesiers waar Paulus die vrou tot ewige slavin van die man verdoem. Vroukie onthou dit ook nie. Daarna die onthaal, die lekker kuier met ons vriende en familie, baie van wie ons lank gelede gesien het en daarna ook nie weer nie, Ant Koek se Hoenderhaan, pragtige blomme, uithalerkos, Skoonpa wat ‘n kas bier vir die jong manne aandra, die geskenke oopmaak (stainless steel bakke, panne, skottels, potte en bekers was baie gewild daai jare). Die volgende dag Margate toe in ons rooi Fiat vir ‘n week in Oom Wynand en Antie Liz se vakansiehuis, hul trougeskenk aan ons. En wat natuurlik daarop gevolg het!

 

Die hoendervleis gevoel is nie meer daar nie, maar as ek Vroukie so skelm bekyk, is daar so ‘n rustige tevredenheid wat oor my kom, ‘n gevoel van verwondering dat daar in die grote skeppingsplan ‘n roete so fyn uitgewerk is dat ons twee se paadjies moes kruis, dat ons paadjies ‘n snelweg na geluk geword het, sonder afdraaie en ompaaie. Enkele slaggatewel, maar niks wat die rit teegehou het nie.

 

Dankie my lewensmater, my jou aan my sy is daar vreugde langs die steiltes!

 

 

36 thoughts on “Nineteen seventy three, it was a very good year”

  1. geluk Lewies!!!………. het geen vokkin idee hoe miesies Lewies uithou nie, maar nou ja, jy het seker die die vrystaat score aan jou kant gehad …hehehehehe

  2. Lewies jy laat my skoon jaloers ‘n mens kan uit jou skrywe sien dat julle mekaar innig lief het. Baie geluk!

  3. lewies, moed en geduld, ek is seker sy het baie (ek like so die woord ‘baie’, dis mos in die Afrikaanse mooiheid van ons uit die malay ingebring as ek reg onthou), maar as ek dit nou sou stel soos daa innie Kaap waa ek opgegroei het, djy moetdjou vokkin sterre dank vrind

  4. So tong moet heuning kry…Ek lees hierdie en ek kan sien jy is diep gelukkig… En ek kry seer toe jy my met die stukkie rugby sweep bykom … jy moes dit eenvoudig inlas … hoeveel jaar was dit terug ? hehehe … Wanneer jy die lees is jy seker besig om vonkelwyn te geniet … Veels geluk en se vir mevrou ook ek en Erika stuur ons gelukwense …

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s