Wille Kaazi Straat

Dit gaan wild in Wille Kaazi Straat!!

 

Geluk aan die Bulls, julle is die beste, al trek my are nou as ek dit moet erken.

 

Ek het een ding agtergekom tydens die prysuitdeling: Mankewatsenaam Stofile lyk of hy die game baie meer geniet het as gert oosthuizen (die kleinletters is so bedoel, hy verdien nie hoofletters nie, en eintlik wou ek sê Doosthuizen, met ‘n hoofletter, maar Vroukie loer oor my skouer en sê Lewies, as jy nou die vroue-parte bedoel, is jy op rantsoen), wat daar gestaan het asof hy nie kan wag om huis toe te gaan om die Sewende Laan Omnibus heruitsending van Mei 2000 te kyk nie, fokken verveelde uitdrukking op sy politiese aanskyn.

 

 

 

 

‘n Gelukkie by die ongeluk

Ek wou gister hier op die blogs kom rondloop, maar wat ‘n frustrasie! Ek het later gedink Lettertrash is seker onder konstruksie en het liefs die aftog geblaas. Maar nou! Jinne, hierdie Letterdash dash nou wragtig met spoed! Die blaaie maak oop vinniger as wat ek kan kliek, maar dan het ek mos Die Vinger. Die is ook aan die beter word, geen pyn meer nie, net nog stewig verbind. Maandag weer dokter toe vir, hopelik, die laaste keer. Een gelukkie by die ongeluk is dat ek tyd gehad het om agterstallige leeswerk in te haal. Ek het net op Afrikaans gekonsentreer, daar het die afgelope tyd soveel verskyn waaroor ek nuuskierig was.

 

Hier is my lysie:

 

Karin Brynard               Plaasmoord

 

Frans van Rensburg       Lammervanger

 

Wynand Coetzer           Skerpioen

 

Marita van der Vyver      Dis koue kos skat

 

Deon Meyer                  Karoonag (net die titelverhaal, ek dink nie ek gaan die boek verder lees nie)

 

Annemari Coetzer (Onse Annemari)  Aan die windkant

 

Etienne van Heerden   30 nagte in Amsterdam (amper klaar)

 

‘n Lekker pot-pouri, elkeen met sy eie bekoring. 30 nagte is my gunsteling, dan Dis koue kos. Skerpioen is ‘n besonderse leeservaring, ‘n samevlegting van verskillende  mitologieë. Annemari se boek het die ledigheid op ‘n lekker manier verdryf, vol uiteenlopende karakters, elkeen met sy storie, wat netjies in die verhaallyn saamgevat word.

 

En dan het ek ook kans gehad om behoorlik op die blogs te baljaar!

 

Baberspan se knewel.

 

Ek het die storietjie geplaas net nadat ek begin blog het. Ek het hom nou bietjie afgestof en plaas hom weer met die oog op die Tolla kompetisie.

 

 

Baberspan is net hier om die draai van die dorp waar ek bly. As dit nou die jaar lekker gereën het, is dit ‘n lushof daar onder die wilgerbome. En groot visse wat daar loop, baber, karp,geelvis. Dis voorwaar ‘n vistermansparadys. So besluit ek toe een Saterdag ‘n tydjie gelede om te gaan lyn natmaak. Ek is vroeg-vroeg by die huis weg, met al die visvanggereedskap , ‘n padkossie en ‘n ietsie vir die keel, as die sonnetjie begin steek.

 

Ek kry toe ook ‘n gawe plekkie daar teen die water. Terwyl ek my daar tuis maak vir die dag se visvang, sien ek  ‘n paddatjie wat tussen die modderige gras spring. Lewendige aas, dink ek en haak die paddatjie aan die hoek. Ek het skaars ingegooi, of ‘n vis vat die hoek. Ek kan sommer voel dis ‘n grote die.

 

Ek stoei die kant toe en daai kant toe, maar die vis steek vas, kop tussen die knieë, en dan vat hy weer die lyn en seil deur die water dat die branderskuim so spat. Dis eers so skuins voor skemer toe ek voel sy kragte verslap, en eindelik katrol ek hom in na die oewer.  Dis ‘n yslike baber, soos ek nog nooit gesien het nie. Sy snorbaarde is soos dik soos my duim en langer as my arm. Hulle hang soos slurpe om sy bek. Ek steek my hand uit om die vis uit te trek, en die volgende oomblik slaan hy sy tentakels om my lyf en pluk my nader terwyl sy bek hier voor my oopgaap soos ‘n myntonnel op nege skag. Ek spook en spartel, maar verniet, duim vir duim trek hy my nader, totdat hy my kop bietjie vir bietjie in sy bek insuig. Dis stikdonker daarbinne, en ‘n stank soos uit die donker diepte van die dood slaan soos ‘n slymerige warm moeraswalm in my gesig op. Dit ruik asof die oorskot van die dood self daar in die duisternis nes gemaak het. Ek haal my flits uit my gatsak en lig in die donkerte in.  Hier voor in die flou lig van die flits sien ek die tamaai buikholte van die vis. Sy ribbebene span soos marmerpilare in die gewelf van ‘n Gotiese katedraal. Sy vlesige ingewande hang soos stalagtiete in die Kangogrot.  Hier voor my hang sy mangels, so groot soos die klok van ‘n sendingkerk, met klepel en al. Ek gryp dit vas en dan  klink dit meteens asof die koster die klok aan die tou beet kry en dit wild en wakker begin lui Dit  dreun  en dawer dat hoor en sien vergaan. Die baber se grate vibreer op maat van die gebeier van die klok en dan klink dit asof die orrelis agter die orrel inskuif  en die stoppe een vir een ooptrek.. Gewyde hallelujamusiek styg uit die vis se ingewande op terwyl die fyner visgrate ritmies in perkussie saam vibreer. Die argitektuur van die vis se ingewandsvolume is ‘n akoestiese perfeksie waarin al die klanke in harmonie saam jubel.

 

Die onverwagse irritasie op sy mangels veroorsaak skielik ‘n hewige niesbui en slungels slym en spoeg trek soos papgekookte macaroni uit ‘n koshuiskombuis by my verby terwyl een weergalmende niessametrekking na die ander deur die baber se liggaam ruk. Soos Jona van her  beland ek op my rug op die oewer van die kuil. Ek sukkel orent, net betyds om te sien  hoe daai padda wat ek as aas gebruik het, op ‘n amegtige niesgolf deur die lug aangevlieg kom. Hy gryp vas aan die een horing van my Bloubul hoedjie en swaai soos ‘n paaldanseres  al in die rondte voordat hy op die gras hier voor my voete val. Met ‘n paar mankerige spronge verdwyn hy in die gras. Die baber klap met sy stert op die water en sink dan in die dieptes weg. Ek kyk om my rond. Daar is geen ander siel te sien nie., niemand om hierdie ongelooflike verhaal van die groot vis wat weggekom het te staaf nie. Dus toets ek hom hier op jou voor ek dit by die klub vir my maters vertel. Glo jy dit?

 

 

 

 

Ek ken ‘n ou, ou grappie

Netnou bel Skoonpa om te hoor van Die Vinger. Nou, ek het al van Skoonpa vertel. Hy vier vanjaar, DV, 89.  Toe hy nou hoor van die veloorplanting wat ek more moet ondergaan, skop sy langtermyn geheue in, en hy vertel hierdie grappie om my te troos: (‘n Ou grappie, sê hy, wat so lank in sy geheue gebêre is dat dit nou eers na vore kom so met my spinnefokvinger)

 

Die ou moet ‘n veloorplanting op sy bo-lip kry. Maklik né, maar hy het ‘n snor wat hy nie wil prysgee nie. ‘n Chick wat by die dokter werk bied haar hulp aan . Hy kan maar ‘n velletjie kry van haar suidelike anatomie, daar is genoeg hare om die snor in stand te hou. (Skoonpa het dit meer grafies beskryf)

 

Alles loop toe goed af, met die een enkele probleem. As die ou nou aan daai deng denk, begin sy bo-lip bewe.

  

You rock Skoonpa! As ek kan oud word met jou positiewe kyk op die lewe, met jou sin vir humor, sien ek kans!!

 

 

(so terloops, hoe plaas mens ‘n link, so in blou wat sê hier, is daar iemand daar buite wat my kan help?

By voorbaat dank,

Hoogagtend die uwe in konstipasie

Lewies )

Keer vir jou gatsak Lewies!

 

Gister so teen 11:00 se kant lui my selfoon. Ek en Vroukie is by die kwekery. Panfluit musiek uit die kwekery se restaurant hyg hees en hartseer  hier waar ons tussen die saailinge skrop.

 

“Hallo, Lewies wat praat”

 

“…here. …grn hsw ..quote”

 

“Wie? Watse quote?”

 

“Sjjjhhh…One tousand seven hunnnerd in total…sjjjhhh…go ahead?”

 

“I can’t hear you properly. There is some distortion. Come again?”

 

“…grrr ..solenoid switch…brakes…clutch expensive…gearbox..labour special sshhh grrr “

 

“You must have the wrong number. I did not request a quote for repairs to my car.”

 

“No no shhhjjj grrnn, ha ha ha ..not car… shjjk grnn washing machine!”

 

Vroukie: “Lewies!! Wat is dit? Is jy ok? Jy is skielik so bleek” Sy kyk vervaard rond asof sy iemand in ‘n nooddiens uniform soek om te help.

 

“Fok Vroukie! Dis die ou wat gister die wasmasjien kom oplaai het vir herstelwerk. Daar gaat ons budget, poer in sy moer”

 

“Kom, kom sit. Ek bestel vir ons tee.”

 

Oor die luidsprekers teem Amazing Grace droewiglik.

Pure kind

So sit ek en Vroukie vanaand rugby en kyk.

 

“Jissie, Vroukie, die Waratahs het darem ‘n paar jong manne in die span”

 

Vroukie kyk op van die boek wat sy lees. Aan die Windkant.

 

“Ja, kyk net, daai een is vyftien”

 

“Fok Vroukie, dis die heelagter, dis sy nommer. Dink jy nou rerig die vaskopstut is net een jaar oud?”

 

“Die wat?”

 

“Ai Vroukie, jy weet seker ook nie hoe die onkant reël werk nie”

 

“Die wat?”

 

Ai Vroukie. Dankie dat jy saam met my kyk.

Hair, beautiful hair…

Ek kyk vanaand Supersterre, en hierdie onomstootlike waarheid kom meteens by my op,  dis ‘n feit wat staan soos ‘n koei wat lê, Riaan Cruywagen en Manuel Escorcio deel nie dieselfde haarstilis nie.

 

Ag ja, Jane se Moer.

Duimpie se maat

Gisteroggend weer dr toe om die wond skoon te maak en te beoordeel vir ‘n veloorplanting. Vroukie gaan saam vir morele ondersteuning en om haar self te vergewis van die toedrag van sake.

 

“Dokter is nie vandag in nie” deel die ontvangsdame ons mee. ” maar Dokter het my aangsê om die wond skoon te maak en nuwe verbande op te sit.’

 

Sy lyk heel tevrede. “Kyk, hier is nie meer bloeding of wondvog nie, die weefsel is pienk, wat beteken dat daar bloedvloei is.”

 

“Wag eers!” roep Vroukie skielik. “Ek wil gou ‘n foto daarvan neem” Sy klink soos ‘n smetjoernalis wat ‘n scoop ruik vir die nuutste uitgawe van Son. Sy vroetel in haar handsak op soek na haar selfoon. Dit klink soos ‘n somer warrelwind in ‘n skrootwerf. Ek poseer die vinger en Vroukie snêp soos ‘n bedrewe mammarazzi.

 

“Dokter het nog plek op sy operasielys vir Maandag. Kom so tien uur se kant hospitaal toe. Ek sit jou op die lys vir 16:00” sê die ontvangsdame cum nurse.

 

Dankie tog. Wou dat hierdie bitter beker van beproewing dan teen volgende week hierdie tyd tot die droesem geledig is!

 

 

Wat het van Gawie geword?

Na aanleiding van Maankind se uitdaging.

(‘n Variasie op ‘n bekende tema, maar in lyn met my afwyking)

“Hallo Lewies. Malena hier.”

 

“Malena! Wat ‘n verrassing! Hoe gaan dit?”

 

“Man, ek is bekommerd oor Gawie. Jy weet seker dat hy meer as ‘n maand gelede Kleinmond toe is om die finale redigering aan sy proefskrif te doen voordat hy dit inhandig.”

 

“Ja ek weet. Ek sukkel juis om hom in die hande te kry.  Hy het ‘n klompie internasionale boeklenings aangevra hier by die biblioteek. Dit het nou gekom. Ek probeer hom bel om hom daarvan te sê maar hy antwoord nie sy sel nie.”

 

“Lewies, ek is bekommerd jong. Ek was van die begin af nie ten gunste van sy Sabbatsbreek nie, maar nou ja. Hy wou opsluit Kleinmond toe. Hy sê altyd hoe hy DF Malherbe kan visualiseer daar waar hy Hans – die Skipper sit en uitdroom het. “

 

“Waar bly hy?”

 

“Hy het plek gekry in ‘n baie oulike gastehuis daar. Hy is veral opgetrek met die hospita en haar man. Laas toe ons gesels het het hy  vertel dat die hospita ‘n taamlike eksentrieke mens is, ietwat met die maan behep. Sy doen glo een of ander rituele Keltiese dans op haar sypaadjie as dit volmaan is en sing ‘n antieke inkantasie. Sy trek nogal rooi Crocs aan vir die storie”

 

“Genade. Wat sou haar besiel?”

 

“Dis glo om die honde van haar sypaadjie af te hou. Maar ek dink dis die lekker kos wat sy voorsit wat Gawie finaal oorreed het om juis daar te gaan bly. Jy weet hoe lekker hy kan eet. Ek keer en keer maar hy hoor nie. Sy gewig het nou heeltemal hande uitgeruk. Jy sal hom nie ken nie, hy is spekvet. Hy sê sy maak so ‘n lekker herderspastei”

 

“Herderspastei is mos maar eintlik oorskietvleis.”

 

“Nee, sy gebruik een of ander eksotiese wildsvleis wat sy van die Bosveld af bestel. Glo een of ander ou-ou resep, aangepass so van geslag tot geslag. Sy is erg geheimsinnig daaroor.  Daar is glo nie ‘n beentjie in die dis te sien om die wildsoort te indentifiseer nie. Sy maak dit ook net op die aand na volmaan. Dan kom eet die hele dorp daar.”

 

“Ek onthou nou, Malena, die laaste keer toe ek met hom gesels het was juis so kort voor volmaan. Ek het buite gesit en my verkyk aan die skaduwees van die plante in die helder maanlig.”

 

“ Hy het vir my gesê hy wil nie gesteur wees nie, hy wil in vrede werk, die proefskrif vir eens en altyd afhandel. Maar nou verlang ek darem te veel, ek moet met hom praat.”

 

“Sê jou wat. Kom ek en jy gaan verras hom die naweek”

 

“Dankie Lewies. Dis juis wat ek wou vra maar ek wil nie lastig wees nie.”

 

“Nonsens. Ons is dan ou vriende. Dis juis weer volmaan Vrydag. Ek bespreek vir ons al drie plek by die gastehuis vir daardie befaamde ete van herderspastei”

 

“Ek is seker Gawie sal dit geniet. Netsoos in die ou dae voor ons elkeen sy koers gekry het, ons drie saam aan die tafel”

 

 

 

 

By die huis

Gisteroggend haal die dokter die verband af. “mmm,” sê hy”die vinger lyk mooi!” Ek stem nie saam nie, maar ek berus. Dankie tog as hy so sê. Vir my lyk dit of die voorste lit aan ‘n flentertjie hang. Teen volgende week sal ‘n veloorplanting gedoen word om die kratertjie op te vul. Miskien kan ‘n tummy tuck in die proses geinkorporer word, dan wen ek beide kante toe. Nee,sê die dokter, daai vel kom sommer hier uit die bo-arm uit. Daar gaan my bicep. Ek kom agter ek kan nie juis aktief hier op die blogs wees nie, lees so hier en daar en probeer met die middelvinger tik. Hy is egter meer geskool in ‘n ander aktiwiteit, veral in taxi verkeer, en so rats soos ‘n oorgewig skrumskakel. Die seer vinger hou ook nie van die beweging nie. Ek sal dus hopelik later weer kan saamgesels–voorlopig sit ek soos ‘n muurblommetjie en waarneem wat op die blogs se dansvloer aangaan.

 

Dankie aan almal wat simpatie en meegevoel uitgespreek het. Vreemd hoe mens kan vertroosting kry uit die onderskraging van mense wat jy net in die gees leer ken het–maar dan, dis sekerlik die innerlike wat die ware mens weerspieël.

 

Gou-gou ‘n grappie, as julle hom ken, ignoreer. Ons weet nou al almal Mbeki se vrou se naam is Mstofie en die kinders is Mkateltjie en Mstoeltjie. Mstoeltjie het intussen groot geword, hy is nou MLazyboy.