Einaaa!

Dis nou  Vroukie wat hier skryf  net om te sê dat Lewies vandag moes hospitaal toe agv die dekselse fknkop wat sy vinger gepiets het.   Vanmiddag is hy teater toe vir dreinering van die gemors onder narkose en effe wegsny van aangetaste weefsel.  Dan nog glo ‘n dag of wat daar bly vir toediening van antibiotika binne-aars.

So maak mens

 

 

Die vinger is ietwat beter, maar of dit toegeskryf kan word aan die behandeling of aan die feit dat die senuwees dalk afgevrot is sal ek eers more kan bepaal as ek die anti-biotiese pleister afhaal. Intusssen sit ek hier met my vinger in my oor, by wyse van aangepaste eufemistiese spreke. Ietwat gatvol (is dit ‘n sinspeling?) oor my onaktiwiteit ten opsigte van die daaglikse huisjoppies soos skottelgoedwas ensovoorts. Ek is nie ‘n uithalerkok nie, soos ‘n vorige blog getuig,  maar dit kos nou ook nie blou lint kulinêre vermoëns om die groente te skil en tjop terwyl Vroukie die fyner biznis aan ‘n dooie hoender doen nie. En jy sal my ook nie die skrik op die lyf jaag met ‘n hoop skottelgoed nie. In ‘n vorige lewe was ek dalk die skottelgoedwasser in die kombuis van Josef die dromer se bakker en skinker. ‘n Minderwaardige posisie, nie eens ‘n nagmerrie werd nie. Maar dan is ek ook ‘n beskeie mens sonder aspirasies na hoë ampte. Kyk nou net wat het van die arme bakker geword, of was dit nou die skinker?

 

Ek benader ‘n hoop skottelgoed met ‘n militêre strategie so oud soos die Romeinse Imperium, Divide et impera, verdeel en heers. Eers word die wynglase (Hene Vroukie, het ons gisteraand Nagmaal bedien?) en die koffiebekers eenkant gesit, (weer met ‘n uitroep van verbasing: Hene Vroukie, hier is dan meer bekers as al die mense wat ons ken tesaam!).  Dan word die graad twee besoedeling geidentifiseer, messe, vurke, lepels, teelepeltjies, koekvurkies (koekvurkies?!) klein bordjies, papbordjies, groot borde en die plethora van plestiek bakkertjies en kakkertjies wat ongemerk en ongenooid in die wasbak opeindig. Nou vir die groot kanonne, die toestelle wat ek gebruik het om vanoggend se brekfis voor te berei en allerlei ander vetterige en aangebrande potte, panne, en kastrolle wat hier vergader is. Verder is dit easy peasy. Sorg dat daar musiek op die draadloos is, lekker musiek, dooilike musiek werk nie. Op die oomblik is Eric Clapton en BB King se Ridin’ with the King koek in die hoek. O ja, darem ‘n glasie rooiwyn ook, sommer plonk, hierdie is ‘n nederige joppie en verg nie embellishment nie.

 

Dan takel ek die spulletjie met warm water, ‘n sponsie en Sunlight liquid, definitief nie ‘n goedkoop plaasvervanger nie. By die potte en panne moet ek egter meer aggresief te werk gaan  Vervang die musiek met Rodger Waters se Pros and Cons of Hitch Hiking, draai die volume effens hoër, gooi die glas weer vol, tot die meniskus rooi soos die sonsopkoms vir jou oor die glas se rand loer, en skrop freneties met staalwol en ander hulpmiddels. Gooi Vim by, Handy Andy, spuit hardnekkige aanpaksels met Zeb, beitel die heel tawwes met ‘n skroewedraaier af. In enkele gevalle van totale mislukking moet die kooktoestel  maar as verlore beskou word en afgeskryf word. Dit is egter die laaste opsie en mens kan eers twee, drie dae later bepaal of die pot of pan reddeloos verlore is of nie as die swembadsuur wat jy ten einde raad daarin gegooi het, of die aanpaksel of die erd of albei weggevreet het. Pasop egter  vir die swembadsuur, soms reageer dit hewig en volatiel met die aanpaksel, na gelang van die koolstofgehalte daarvan. Die rookwolk wat gevorm word kan ‘n amegtige hoesbui en branderige en tranende oë tot gevolg hê. (Het julle geweet ‘n Hart aluminium poaching pan kos deesdae R130, 00 by Pick’ n Pay?)

 

Raait. Dan afdroog. Dis nogal lekker as daar ‘n skoon en droë afdroogdoek byderhand is. Ek het egter al geleer dat daai fensie soort met die rooi tjeks soos Yassir Arafat se kopdoek nie werk nie. Hulle word slym-snotterig soos ‘n Pep Stores sakdoek en kan maklik breekskade tot gevolg hê. (Weet julle hoe duur is ‘n gewone wit bord deesdae by @ Home?) Die panne en potte en hout brood- en snyborde sit ek in die son by die agterdeur om lekker droog te word.  Terwyl ek afdroog pak en sommer weg ook, en tjop-tjop, en voor jy kan sê “Vukenmes” is die spulletjie opgeruim. As die finale coup de grace vee ek die wasbak uit, maak dit mooi droog en hier kiep-kiep daar kiep-kiep met die vadoek oor die kombuiskas.  Heel ten laaste vee ek die glas- en bordskerwe op en voila!! Aan die kant! Reg vir more se skottelgoed.

 

“Surpraais Vroukie! Kyk,  ek het vir jou die skottelgoed gewas!!”

 

“Ag Lewies, jy moes nie!”

Mira se eerste les in consumerism

Mira, die derde kleindogter het Dinsdag verjaar, vir die derde keer.

Haar ma roep haar om saam te gaan winkels toe.

Haar antwoord weerspieel hierdie grondige beginsel van verbruikersweerstand:

 

“Fokken stupid”

 

Siedaar, die antwoord op die globale ekonomiese krisis!

 

(En ‘n besorgde Oupa Lewies wonder: Waar leer die kind die geswets?)

Jy sal moet vinger trek, Lewies

Die seer vinger word toe nie beter nie, en gister wil ek na ons huisdokter, die een wat Saterdag naweek af was. Hy is egter self in die bed met aritmiese hartkloppings. Dus terug na Dr Jane se Moer, (wat eintlik baie oulik is, maar as ek haar nou so voorstel verloor my vorige inskrywing sy pit.) Bloedtoetse vir witbloedligaamtelling om die graad van infeksie te bepaal, pynlike dreinering van die wond en die waarskuwing dat, as dinge nie nou verbeter nie, is dit hospitaal toe vir ‘n intraveneuse anti-biotika drup. Fokkit! dokter, dis net ‘n spinnekop byt! Nietemin, meneer Lewies!

 

Laasnag klop my vinger asof die  Van Rensburgtelgie van Noot vir Noot sy tamboerstreke daarop uithaal. Traai weer die huisdokter, hy is in, en ek kan so half-drie kom. Die vinger lyk nou erg, soos gister se olierige, oopgebarste Russians in ‘n sleazy Griekse take-away. Wondvog kristalliseer in geel korrels op my vel. Maar ek voel ek kry nou behoorlike behandeling. Huisdokter bekyk die wond noukeurig, buig die vinger dat die etter uitspat soos vet uit goedkoop wors op ‘n braaivleis vuur. Dan draai hy ‘n pleister om wat in anti-biotika “geimpregneer” is. Die moet ek vir drie dae dra. Hoe hou ek dit vir drie dae skoon, wonder ek stilweg. Sal maar later daaroor bodder. Dan ‘n inspuiting van baie sterk anti-biotika, dan ‘n voorskrif vir Flagyl, wat ek saam met die reeeds voorgeskrewe anti-biotika moet gebruik. Dit sal glo anaerobiese organismes uitwis. Dit klink soos oorlog, en my liggaam is die slagveld. “Anaerobiese troepe, ruk up na die r indeksvinger, tweede digtale area. Daar is ‘n versterking van vyandelike magte, fok hulle op!!”  Klink of  Flagyl net die ding is om so ‘n aanval te stuit, een geringe kinkel in die kabel egter, die apsteekster waarsku my ernstig: Geen alkohol saam met die Flagyl nie, nie eens ‘n enkele night cap nie. Flagyl verhinder die opname van alkohol in die lewer en dit bly dus in die bloedstroom, nie alleen veroorsaak dit gevoglik ‘n aanhoudende euforie van ‘n Fuck you Jack I’m allright gevoel nie, dit kan, sal se die apsteekster, alkoholvergiftiging veroorsaak. So much for a Bhjells. Daarby boek hy my vir die res van die week af. Onder ander omstandighede was dit goed en gaaf, maar ek het my nie voorberei vir so ‘n onverwagse afwesigheid nie. Ek sal maar die beplande vergaderings gaan bywoon en so op ‘n afstand betrokke bly sonder om te woelig te wees.

 

En dit alles as gevolg van een klein spinnekop se veglustigheid. Klein kak.

 

(Dr Jane se Moer vertel my dat ‘n mens gemiddeld 13 spinnekoppies in sy lewe insluk as hy slaap. En ek kan juis so lekker oopbek le en kwyl)

Wys my jou wysvinger…

Datum: Saterdag 8 Mei 2010

Tyd:    12:46,3

Plek:    Quick Care Kliniek, Anncron Hospitaal, Klerksdorp

Dramtis Personae, in volgorde van verskyning) Lewies, Opper Nurse Owerste, Vroukie, Junior Nurse, Dokter Jane se Moer.

Nurse Owerste (saaklik)   Middag Meneer Lewies. Wat skyn die probleem te wees?

Lewies (met geklemde kaak)  Middag Nurse Owerste. Kyk my vinger.

Nurse Owerste: (val Lewies in die rede) Meneer Lewies!

Lewies:  Nee, nee, Nurse Owerste, my r wysvinger. Kyk, hy is seer, fokken seer.

Nurse Owerste (haastig) Meneer Lewies!

Lewies (apologeties) : Sorry Nurse Owerste, maar hy is fokken seer, anders sou ek nie op Saterdag 8 Mei 2010 om 12: 46, 3 hier by Quick Care kom hulp soek het nie.

Nurse Owerste: Wie is u dokter, Meneer Lewies?

Lewies: Dr Maarskalk.

Nurse Owerste: Hy is naweek af. Dr Jane se Moer staan in vir hom

Lewies: Dis ok, ek gee nie om nie, my vinger is nou so fokken seer…

Nurse Owerste (ontsteld en terregwysend) Meneer Lewies!! U taal! Florrie Nagtegaal sou dit nie geduld het nie!

Lewies (weer eens apologeties) Askies Nurse Owerste. Ek bedoel enige dokter is nou welkom om te help.

Nurse Owerste: Nou goed. Ek sal haar bel sodra u u hierdie vorms ingevul het en u rekening vereffen het.

(Exit Nurse Owerste. Sy kom terug met ‘n stapel vorms met digte tipopgrafie (Fine print) en wat baie amptelik lyk.)

Lewies: Fok Nurse Owerste! My vinger is blerrie seer! Ek kan nie skryf nie!!

(In ‘n deus ex machina oomblik tree Vroukie uit die agtergrond na vore.)

Vroukie: Toemaar, ek sal die vorms invul, dan kan jy net teken

(Die spanning is voorlopig ontlont)

Nurse Owerste;  Meneer Lewies, voordat ek Dr Jane se Moer bel, moet u eers die verskuldigde bedrag van R450, 00 vir Dr Se Moer betaal, plus R50 vir Quick Care se administrasie. In harde kontant.

Lewies (geskok tot in sy fondasie) Fok Nurse, wie loop nou met R450, 00 in sy gatsak rond? Wat van ‘n kredietkaart?

Nurse Owerste: Dis nie ons beleid nie, Meneer Lewies. Wat se soort motor ry u?

Lewies (Aanvanklik verbaas, maar dan gemelik) So ‘n faktap Corolla.

Nurse Owerste (Begrypend) O, dan het u seker nie meer karskuld nie. In daardie geval sal ons u kredietkaart aanvaar.

(Junior Nurse trek die gordyne toe)

14: 46, 3

Dr Jane se Moer:  Middag, middag julle!

Nurste by diensstasie, sing op musiek van Kaptein Span die Seile: Goeie middag Dokter se Moer, en hoe gaan dit met Dokter vandag?

Dr se Moer (valsetto sic) Dit gaan goed met my, hoeveel Rande het julle vir my gekry?

Na hierdie intermezzo wend Dr se Moer haar na Lewies.

Dr se Moer: (stroperig)  : Meneer Lewies, wys my u kwitansie

Lewies: Fok Dok, tjek my vinger!!

Dr se Moer: Eers die kwitansie, Meneer Lewies!

Lewies: (weer eens apologeties) Sorry Dok, hier’s hy.

Dr se Moer (betrag die kwitansie en dan Lewies se r wysvinger noukeurig) Dis ‘n bytplek.

Lewies: Wat het my gebyt, in u mediese opinie, Dr se Moer?

Dr se Moer: Iets

Lewies: O

Dr se Moer; Goed, ek sal u ‘n voorskrif gee, anti-biotika en iets vir die pyn. Ook ‘n Voltaren inspuiting om die swelling en infeksie tee te werk. Junior Nurse, dien asb vir Meneer Lewies ‘n Voltaren inspuiting toe.

Junior Nurse trippel opgewonde nader met ‘n spuitnaald wat sy triomfantelik soos ‘n vaandel voor haar uit hou.

Junior Nurse: Meneer Lewies, maak die los die broekie en le op u sytjie op die bedjie

Lewies maak so.

Lewies: Eina fok! Dis bleddie seer!

Junior Nurse: Kan nie wees nie! Ek het net nou ‘n ook ‘n oom gespuit en hy het gese hy het niks gevoel nie!

Lewies: Is jy seker jy het dieselfde naald gebruik?

Junior Nurse: Meneer Lewies! Ek gebruik elke keer ‘n nuwe naald, steriel! daai oom het niks gevoel nie!

Lewies: Ja, ek het hom gesien toe ek hier aankom. Hy het so kruppel-kruppel oor die straat gehobbel.

Dis hoe my Saterdag verloop het.

En so het my vinger gelyk.

So lyk hy nou

So lyk hy na mediese behandeling

Nou gaan ek my eie medisyne gebruik. Give that finger a Bhjells!!

( En daai klein fokkertjie wat my gebyt het, mag jy en jou nageslag gebroedsel in die Rooi Boek van erg bedreigde spesies opeindig!!)

‘n Wegkomkansie

‘n Onverwagse gelukkie het vir my en Vroukie voorgeval, ‘n weeklange kuiertjie by die see, Ballito se see, saam met onse swaerkie en skoonste suster. Die kuiertjie is al lank beprut, maar ‘n paar onverwagse kinkels het gedreig om dit te ontspoor.  Nou is ons alweer tuis, die vakansie net ‘n aangename herinnering.

 

So lyk dit daar.

 

 

Volmaan

 

 

Skuins voor die son sak

 

 

Op pad deur die Vrystaat, Golden Gate Nasionale Park

 

 

 

 

 

By ons tuiskoms vind ons dat ‘n geniepsige haelbui ‘n uur of wat vantevore uitgesak het, hierdie impatiens het welig en hoog gestaan, vol in die laaste blom voor die winter. Nou hoef ons darem nie te wonder of hulle moet uit en of hulle nog ‘n paar dae sal kan oorleef voor die ryp kom nie.