Stap nommer 1: ‘n Misdaad moet vermoed word.
Die organisasie vir wie ek werk het ‘n rekening met ‘n maatskappy in Sandton. Ek reël ‘n tjek by ons Finansiesdept vir dienste gelewer en pos dit. Die maatskappy kla dat hulle nie die tjek gekry het nie. Ek doen navraag by Finansies, die tjek is reeds terugontvang, gewissel de lot. By verdere navraag blyk dit dat die tjek by ‘n Nedbank ATM in Thembisa inbetaal is in ‘n pasgeskepte rekening. ‘n Misdaad word vermoed.
Stap nommer 2: Die vermeende misdryf moet by die SAPS aangemeld word.
Ek sien egter nie kans om in die oorverhitte aanklagkantoor in die lang ry van tientalle mense wat hoesend en proesend en snuiwend en snotsnorkend gedweë, geduldig en gelate hul beurt afwag om hul storie van diesfstal, aanranding, huismoles en verkragting te vertel nie. Dinkend dat tjekbedrog moontlik as ‘n handelsmisdaad beskou word, bel ek die SAPS om te hoor presies waar ek die klag moet aanmeld, hopelik by die handelsmisdaadtak. Nee, sê die operatrise, dit weet sy nie, maar sy stuur ‘n bakkie na my kantoor.
Stap nommer 3: Die SAPS moet ‘n verklaring neem
Kort hierna kom twee polisiemanne my kantoor binne. Die hoof-indoena het ‘n polshorlosie so groot soos ‘n polishblik. Dit blink soos ‘n Hummer se rims. Wystertjies hardloop teen verskillende snelhede, kloksgewys en teenkloksgewys. Die effek kan mens onder hipnose plaas of ‘n migraine-aanval teweegbring, of dalk albei. Ek wend my blik opwaarts en verduidelik die probleem. Nee, sê die klokman, dis definitief ‘n saak vir die handelstak. Gaan lê die klag daar.
Stap nommer 4: Die vermeende misdryf moet by die regte kantoor aangemeld word.
Die SAPS se handelstak is binne loopafstand van my kantoor. Ek sorg dat ek na 14:00 daar aankom, ek wil nie inbreuk maak op die langarm se etensuur nie. Die eerste persoon aan wie ek die storie verduidelik, erken hy weet nie, hierdie is ‘n netelige kwessie wat hoër gesag se uitspraak verg. Hoër gesag frons onseker. Kom ons vra gesag nog ‘n strepie op die epoulette hoër. Dit is ‘n kaptein, vroulik, wit en Afrikaanssprekend.
Sy weifel nie ‘n oomblik nie, dis nie ‘n saak vir die misdaadhandelstak nie, definitief nie. Gaan na die polisiekantoor en gesels met ene Kaptein Serulame. Sy, sy sal jou help.
Stap nommer 5: Die vermeende misdryf moet by die regte kantoor aangemeld word
Die polisiekantoor is in ‘n ander gebou, ook binne loopafstand. My tred is aansienlik minder lig. Ek begin voel ek word rondgefok. Verbasend maklik spoor ek Kaptein Serulame op. Sy is vroulik, swart en Tswanasprekend. Sy lag vriendelik, haar tande flits wit maar onskadelik in haar swart gelaat. Die regte prosedure, sê sy, is om die saak by die aanklagkantoor aan te meld. Sy het begrip dat ek tot more in die tou sal sit, daarom beveel sy aan dat ek more kom. Vroeg. Ja, dink ek, voordat die spul uit hul dronkensroes ontwaak en besluit hulle is beroof, gebliksem of verkrag.
Stap nommer 6: Servimus et servamus (Die leuse wat eens op die polieste se badge gepryk het: Ons dien en ons bewaar)
Nee fok. Ek gaan terug kantoor toe en bel die SAPS by die nommer wat ek vroeër gebruik het. Stuur asseblief die bakkie. Kort daarna kom Kaptein Klokman en sy kornuit-konstabel by my kantoor in. Ek verduidelik die weloorwoë bevinding: Dis nie ‘n handelsmisdaad nie. Sal hulle asseblief die verklaring afneem. Ooohkei, dis maklik. Woerts warts een twee drie en tjip-tjop is ons kant en klaar. Batho pele jou bliksem!
Stap nommer 7; Die SAPS sal die saak ondersoek.
Saterdagoggend, dis nou vandag, lui my selfoon.
“Hallo, Lewies wat praat”
“Eeeehh… good morning, or is it good afternoon, Mr Lewies. How are you?”
“I am doing fine, Ntate. How are you?”
“I am well. Are you Mr Lewies?”
“Yebo Ntate. Nna ke wena?”
“I am Captain Mofulatsi of the SAPS, commercial branch. Your file regarding the cheque fraud has been referred to me for investigation.”
Mzansi kaofela!