Kakkies

 

 

Vanmiddag so teen half vier se kant besluit ek ek het nou genog gehad van werk, ek gaan die pad vat. So sonder Vroukie voel ek roekeloos, ek wil iets doen wat ek nie gewoonlik doen nie, ek voel soos ‘n lokasiebrak wat aan ’n ketting vasgemaak was en nou skielik losgelaat word. Ek wil iets doen, maar weet nie wat nie. Nou slip ek maar werk en gaan gym toe. Verbeeldingloos, ja. Maar gesond vir liggaam en gees, en wel ja, dalk vir die oog ook!

 

Thembi, ons veelbesproke burgemeester se sekrateresse of PA of so-iets, het dieselfde idee. Sy parkeer haar BMW neffens my Toyotatjie. In Afrika terme is sy ‘n mooi vrou, net jammer haar een oog is so dwalend. As sy vir jou kyk, fokus hierdie oog so vyf en veertig grade noord-wes. Maar hier staan sy by haar Beemer, krappend in haar handsak.

 

“I’ve lost my kakkies” lamenteer sy.

 

“Your what?!” verneem ek hulpvaardig. Dalk kan ek help soek

 

“My kakkies”

 

“Your kakkies?”

 

“Yes, my kakkies”

 

“I wish I could lose some of my shitty things too” korswel ek vertroostend.

 

“ No Ntate, I must pick up my children”

 

Het daghet overal. Haar car keys! My magtag, sy sê mos so! Of amper so.

 

“Maybe it is still in your office,” bied ek aan terwyl sy nou freneties skrop in haar handsak. Sy kyk effe gestoord op, ‘n verwonderde frons op haar voorkop. Die mank ogie swaai suid-oos.

 

“In my office?” wonder sy.

 

“Maybe, you could have put it on your desk”

 

“Oh Ntate, you are right. I am sure my kakkies are on my desk. Thank you!”

 

Ja fok. My kakkies dra ek saam met my.

 

 

Advertisements

Bemoerd…


 

Hoogs bemoerd, verby kookpunt bemoerd. Dis nou ek. Ek het gister vertel van Vroukie wat in opdrag van Hoër Gesag vandag ‘n vergadering in Pretoria moes bywoon. Goed en gaaf, mens se werk verwag so af en toe sulke opofferinge en mens val in daarby, bietjie knorrig en onwillig maar darem. Soos ek vroeër vertel het was ek vandag in Mmabatho. Op pad terug bel Vroukie. Daar is vir Vrydag nog ‘n vergadering in Pretoria belê wat sy moet bywoon. Toe sy nou aan Hoër Gesag beduie dat sy vandag, Woensdag, terugkeer huis toe en dan weer Donderdag moet Pretoria toe om 9:00 by die vergadering te wees, so half in die hoop dat sy kwytgeskeld gaan word van bywoning, sê Hoër Gesag gul en begrypend, hy verstaan, hy verstaan, moenie worry nie, bly nou sommer vanaand (Woensdagaand) oor en dan kan jy more in die hoofkantoor werk, jy het mos jou lab top hier. Ja nee, sy het haar “lab ‘top. Nou ja, in plaas van een nag se oorslaap is dit nou drie.

 

“Vroukie, maar jy het mos nie klere vir drie dae ingepak nie”

 

“Ek het ‘n ekstra pantie ingepak, vir in case

 

“Maar dis drie dae”

 

“Wel, die derde dag trek ek nie een aan nie. Dis hulle verdiende loon!”

 

Ai, my Vroukie, altyd die rebel, altyd reg vir protes! Lydende verset!

 

Nou ja, hier sit die uwe. Hoogs bemoerd. Maar om te moermoereer sal nie help nie. Aanvaar die situasie, dis ‘n voldonge feit, fait accompli. Om te teem en teef help niks, Fokkol, met ‘n hoofletter.

 

Nou traai ek weer my slag in die kombuis, nie dat ek ‘n passie of afwyking het om vleis te verbrand nie maar om die tyd om te kry. Vannaand is ‘n Italiaanse gereg op die spyskaart, Pollo alla Turca. Hoender fillet met ‘n takkie of twee tiemie gebraai met uie en sampioene en opgedis met die oorskot van die yskas, aartappels en wortels. Smaak toe nie te vrot nie, nie blou lint nie maar darem. Gaan toe ook goed af met gisteraand se wynreste. Fokkit, hoekom is daar so ‘n holte in die wynbottel se boom? Baie misleidend. Dis omtrent die volume van ‘n geil glas. Jy dink die bottel is half vol dan is hy al die tyd half leeg.

 

Maar voor ek kon kosmaak moes ek eers skottelgoed was. Wie sou nou kon dink mens het dertien eetlepels nodig om gisteraand se kerrie en rys saam te slaan? Ek het nie eens geweet ons het soveel lepels nie. En die kastrol met die purple rinse? Ek dog gekookte aartappels vat langer as dit om te muf, sal my leer om die skottelgoed op te gaar.

 

Ai Vroukie, kom hys toe! 

 

 

 

 

 

 

 

 

(Verskoon die tipografie, Letterdash is ook bemoerd!)

 

 

 

 

 

 

 

Om te bieg of nie

Nee, ek gaan nie bieg nie. Ek gaan nie weer die allerverleenthede van die verlede uitgrou nie, laat Blommetjie maar vrot in die sloot.


Kan jy glo, die uwe is vanaand weer van sy gade verlate, in diens van hoër gesag sit sy weer in Pretoria. Toe maak ek kerrie en rys, en de kerrie smaak so kak soos kerrie en rys op ‘n Dopperbasaar. (“Skies susters.) Ek kort ‘n resep, of ander kerrie. Pamela die werfhond het ‘n homp topside mince as troos vir haar ounooi se afwesigheid gekry, ek gaan maar ‘n bottelkie rooies oopmaak, nie klaarmaak nie, more moet ek Mmabatho toe, en met al die klonkies en donkies wat daar by Rooigrond oor die pad flenter  moet ‘n mens oplet loop. Ek geniet nogal die ryery as ek alleen is, maar more het ek ‘n passassier. Hy laaik sokker en ek laaik rugby. Ek het nie lus om small talk te maak nie. Hoop maar hy dop om en dommel in.

 


Ek hoor…

(Lykdig vir ‘n kollega en vriendin)

Ek hoor die klanke van jou klavier in jou kantoor

Ek hoor die harmonieuse dreunsang van jou kore

Ek hoor jou geesdrif as ons ‘n nuwe projek bespreek

Ek hoor jou euforie as ons nabetragting hou

Ek hoor die speke sing as jy vertel van die Argus

Ek hoor jou verlange na jou liefkind in London

Ek hoor die kommer oor jou man se diabetes

En toe hoor ek jy is dood.


Mos

“Lewies, wanneer sit jy ‘n nuwe lig in die kombuis in? Ek het jou mos al lankal gevra”

“Jong, Vroukie, die rugby gaan nou begin. Dis mos die toets teen die All Blacks”

“ So dit sal nie vandag wees nie. jy sit mos altyd en suip as jy rugby kyk”

“Ai Vroukie, ek drink mos net een of twee whiskys”

“Een of twee te veel. Ek weet mos.”

“Ag fok Vroukie, jy moet mos nou nie so wees nie…”

“Moenie met daai houding by my kom nie. En jy weet mos ek hou nie daarvan as jy lelik praat nie.”

“Ag fok, Vroukie, “fok” is mos lankal nie meer ‘n vloekwoord nie. Dis hoeka deel van die omgangstaal”

“Mag so wees ja. Maar eers is dit “fok” en dan is dit mos ‘n hele geswetsery”

“Nee, Vroukie, nou oordryf jy. Jy weet mos ek is nie so nie”

“Ek weet. Die hele ding het nou begin omdat jy nie die lig insit nie. Dis donker in die kombuis, die een buis wat nog werk is mos nie sterk genoeg nie!”

“Ok Vroukie. Ek sit hom nou in. Dis mos nie ‘n fokken moerse groot job nie”

“Sien jy nou! Ek het jou mos gesê! Een “fok” en dan is dit ‘n geswets!”

“Ag Vroukie! Ek terg jou mos! Lekker uitgevang”

“Hmmm. As jy die lig ingesit het moet ek mos dankie sê, nie waar nie?”

“Hehehe! Net so! En die Bokke speel mos in elk geval kak!”

Dit was mos nou ‘n lekker tema!

Uit en tuis

 

 Alle goeie dinge kom tot ‘n einde, en ‘n lekker vakansiekuier by die kinders en kleinkiddies in die Kaap heeltemal te gou. Na ‘n oorslaap in Victoria – Wes kom ons gistermiddag hier by die huis aan, dankbaar dat ons veilig gery het en dat huis, haard en hond bewaar gebly het. Tussen die posstukke is die eerste herinnering aan ons vakansie, vanaf Maquassi Hills Municipality, Wolmaransstad, hier skaars aan die begin van ons reis, R350, 00 spoedoortreding. Ag fokkitie tog, en ek, ons, het heelpad die spoedbeperking dopgehou en probeer gehoorsaam. Ek suip eerder R350, 00 uit as wat ek dit aan Maquassi Hills Municipality skenk. Droogte vorentoe, swaer. Watter ander onaangename verrassings is op pad?

 

Juis hier vroeg-oggend gister dryf Vroukie op pad na Britstown.

 

“Jinne, Vroukie, jy is 30 km per uur oor die spoedbeperking.”

 

“Kan nie wees nie. Ons is lankal uit die 80 km sone”

 

“Nog steeds. Jy ry teen 150 km!”

 

“Oepsie!”

 

Naby Hopetown is ek aan die stuur. Daar in die veld neffens die pad sien ek ‘n vrou in ‘n blou uniform sit. Sy hurk onbetaamlik, oopketel. Skud seker die dou van die lelie af, dink ek. Dan blink iets tussen haar bene. Sjoe, die nood was hoog, kon sy nie maar weg van die toeskouers gemik het nie? So met die verbygaan sien ek dis ‘n kamera wat sy so tussen haar bene troetel. Ag ja. Nog ‘n aandenking uit die haai Karoo.

 

Die pad was mooi, verskeie verleggings en stop- en ry- beurte ten spyt, 13 van hulle. By sommige was ons darem in die rystroom en was daar nie ‘n gewaggery nie. Mens sien die positiewe sy daarvan in, ten minste word die pad in stand gehou. Verdra die ongerief maar geduldig.

 

Maar nou sit ek hier, hewig ontstem, met ander woorde de bliksem in. Vroukie en ‘n kollega is so teen vier uur hier weg Sandton toe waar sy vir die volgende drie dae ‘n workshop oor risk management moet bywoon. Wie is so bedonnerd in sy kop dat hy so-iets reël dat die afgevaardigdes op ‘n Sondagmiddag moet inklok? Het daai fokker dan geen persoonlike of gesinslewe nie? Om die moerigheid te koester sal nie help nie, en ek en ou Pamela die werfhond sal maar die Sabbatseensaamheid saam trotseer. Dalk gaan ek êrens kuier, sal maar sien wie my wil akkommodeer.

 

En more is dit terug in die tuig, en die tuig gaan skawe, dit weet ek. Die klein kakkertjies wat ek agtergelaat het is nou seker groot kak, saam met die wat intussen aangewas het.

 

In die sweet van jou aanskyn…