Krakeel? Juistemint, krakeel.

My vorige blog Kaapse Kornuit Krakeel het kommentaar van bloggers uitgelok oor die betekenis van “krakeel” wat my die geleentheid gee om te beduie hoekom ek nou juis die woord wou gebruik. Wel, ten eerste oor die Rice Krispie krakerige alliterasie. Dit voel vir my of ek daai woorde fyntjies stukkend byt tussen die onderste en boonste voortande. Lekker! Louter taalplesier!


Maar wat beteken dit. Ek het nie geweet dis ‘n plek nie totdat Faansie hom mooi geposisioneer het. Dadelik is ek nuuskierig, eendag, nie ‘n verre eendag van versugting nie, wil ek keel natmaak in Krakeel met ‘n koue Kasteel. (Praat van alliterasie!) Maar dis ook ‘n werkwoord wat beteken om luidrugtig te raas, met ‘n ietwat ongunstige betekenis van rusie maak, met ander woorde so ‘n naweek sjebien lawaai. Ek het al êrens gelees dat ‘n skrywer verwys na ‘n swerm spreeus wat luiddrugtig krakeel in ‘n vrugteboord. Ongelukkig gee HAT nie die verwysing nie, die woordeboekmakers het seker tee geniet toe die spreeus krakeel. Toe dink ek aan ‘n klompie uitgelate kinders wat jil en lawaai, en ek brei “krakeel” soos ‘n stukkie woordeklei om te pas in wat ek wil sê. Te veel digterlike vryheid? Sê wie? Die woord dra mos die betekenis van “lawaai”, ek het net die ongunstige kwas afgevyl. Siedaar, “krakeel” ! Pure pikante peper!

Advertisements