Twee okkupeerders van Oupa Lewies se kamers van die hart

Mira en Liam op die mouterbaaiks wat hulle so hel-uit ry

Howzit Oupa! Lekka innie Kaap ek sê! Niemand tjaaf my gal nie en ek is almal se pel! Cool!

(My ma kom al mooi reg om my hare te sny. Sy sê volgende keer vat sy die skêr en nie die fukken mes nie!)

Lewies, oom Gert en punjab.

Dawerende applous toe oom Gert, die oudste onder ons, die bal rol as seremoniële opening van ‘n geveinsde rolbaltoernooi. Die rolbalklub stel nie sy geriewe beskikbaar vir sosiale geleenthede soos hierdie reunie van oud en nog in die tuig kollegas nie. Maar nou is die saak beredder, alle voorskrifte is met daai een bal nagekom. Lekker om die manne weer te sien. Party van hulle is deur kwaai siektetoestande, geknou maar nie geknak nie. Ander lyk nog soos toet. Ou Willem dra nog steeds dieselfde patch leerbaadjie wat lyk of dit van muskeljaatkatvel gemaak is. Ander blesseriger en penseriger. Ek skat ek val in die groep..

Daar by ‘n ander groepie staan hulle en luister na Fred. Fred het bietjie gevat. Sy stem is diep en skor, klink soos iemand wat in ‘n bad seepwater poep. Sy taalgebruik is mildelik gekrui. Veral die f-woord in al sy vorme en verbuigings word kwistig ingespan sodat mens sou kon dink dat ou Fred ‘n ernstige hakkelprobleem het. iets is vreemd aan Fred, hier so by sy bo-lip langs. Het hy ‘n snor gekweek? Nee, duidelik nie. het hy snor gehad en afgeskeer? Nee, ek glo nie. Dan sien ek. Fred praat, maar sy bo-lip beweeg glad nie. Al sê hy ook “ Fokken bliksem” roer daar nie ‘n spiertjie nie. Lyk of sy bo-lip gebotoks is.

Die tradisionele toesprake volg, mooi toegelig met videogrepe uit die goeie ou dae. Die manne raak half weemoedig. Dat daai dae so vinnig verby moes vlieg. “In my dae sou ons nie die kak van die stakers gevat het nie” klink kort-kort op. Mandela, F W de Klerk, Victor Matfield,  klink dit gesellig.

Skielik is daar ‘n groot kommosie by die deur. Dis Oom Gert. Hy staan met ‘n rolbal in sy hand. Sy grys hare staan woes orent. Die Brylcreem wat dit flussies in toom gehou het loop in stroompies langs sy gesig af.Sy oë is wydgesper. en wild.

“Yom kippoer!!” skreeu hy en slinger die rolbal met onverwagse krag tussen die mense in. Die bal wip kletterend oor die teelvloer. Die manne probeer vervaard uit die pad van die aanrollende bal spring. Die ko-ordinasie en ratsheid is egter nie meer oral so skerp nie. Dis ‘n gestamp en ‘n gestruikel en ‘n geswets. “Wie de fok het Oom Gert se Coke gespike!” skreeu iemand. Dan tref die bal die poedingtafel se poot. Middelpen! Die tafel val neer met ‘n lawaai van breekgoed wat in skerwe spat op die teelvloer. Groen en rooi jellie en vla dryf soos moerasslik op die vloer.

“Banzai!” skreeu Oom Gert weer en sink dan in die naaste stoel neer. Hy is doodsbleek en haal hygend en hortend asem. Sy asem fluit soos ‘n virgin moffie wat benoude winde laat. Almal storm op hom af. “Oom Gert! Oom Gert” Is jy ok?” Oom Gert kyk op met waterige ogies. “Punjab”, së hy.

“Ons moet iets doen, oom Gert lyk nie ok nie”

“Gee hom nog ‘n dop laat hy kan ontspan”

“Fok Lewies, is jy mal?!”

“Ok, gee hom Coke en ‘n bietjie soutwater om sy elektroliete aan te vul. Gooi sommer bietjie sout by die Coke”

Oom Gert pers sy lippe opmekaar en weier om van die brousel te drink

“Die goed is vrotsleg man. Gooi bietjie Woestersous en tamatiesous by” doen Fred aan die hand.

“En ‘n bietjie custard”, beveel iemand aan. “Pasop net vir die glasstukke”

“Kom Oom Gert. Sluk bietjie man. Ons kan jou nie so huis toe vat na Ant Marie toe nie”

Die beeld van ‘n toornife Ant Marie doem uit die vergete dieptes van Oom Gert se geheue op. Hy gryp die gals en slaan met een, twee teue die konkoksie weg.

“Rashnapaldi” sê hy.

Soos ons vir hom kyk, kom die kleur terug in sy wange. Sy deinende asemhaling word egaliger. Sy hare gaan lê en ‘n uitdrukking van begrip kom in sy oë.

“Bliksem” sê hy.

Die paartie kom weer gaandeweg aan die gang, minus die vooruitsig van poeding.

Mandela, F W de Klerk, Victor Matfield, klink dit gesellig.

Parram pampam

En daar breek die onafwendbare oomblik aan–Little Drummer Boy teem oor die eter in Checkers. Nou is dit volspoed Klater Krismis toe.

Hierdie irritasietjie ten spyt, is daar ‘n tasbare gees van afwagting hier in nommer 19, die helfte van die Kaapse kinders kom kuier. Ai, kon dit nie maar almal gewees het nie! Die Stanforders het laat weet die saak is reg (sover, hulle planne is soms  vloeibaar!) maar die Parklanders moet werk en sal dalk Februarie se kant kom kuier. Nou is dit ‘n presente-gekopery vir die vale. (Die dat ek al so gatvol is vir daai arme drommer drommel!)

Maar dis ‘n plesierigheid vir die toekoms. Op die oomblik sit ek alweer hier ter lande soos die nimlike Piet Snot, soos Kiepie, soos ‘n eensame uil op ‘n kluit.Vroukie is so ‘n uur gelede weg Pretoria toe, sy moet ‘n kursus in elektroniese rekordbestuur gaan doen, vir die hele blerrie week! Fokkitie fok! Maar die donker wolk het ‘n silwer randjie, ek moet more self soontoe om in dieselfde gebou waar sy haar kursus doen, ‘n workshop oor arts, culture and heritage by te woon! More-aand skwat ek dus by haar.

En hoe gaan ek my tyd verwyl? Ek kan ‘n dvd kyk, ek kan lees (Spoor van Deon Meyer lê juis hier en wag) of ek kan êrens gaan kuier. Die kuiergedagte impliseer egter dat die hosts uit meegevoel kan aandring dat ek by hulle eet, wat weer embrioties kan wees vir ‘n laatnag kuier. Daarvoor sien ek nie op hierie Sondagaand kans nie. Alleen kan ek egter nie oor hierdie saak besluit nie, ek sal wag tot die sonnetjie betaamlik gesak het en dan met ‘n glasie plonk in die hand hieroor besin. Bacchus het altyd raad, die bliksem!

Oor ‘n kort rugvel en blinde liefde

Gistermiddag karring ek in die voortuin. By die bure langsaan is Klein Bybie en haar ma Antie Bybie die res van die familie aan die groet. Hulle het elkeen ‘n groterige pakkie wat in geskenkpaier met ‘n babamotief toegedraai is. My Sherlock instink sê dus dat hulle op pad is na ‘n babatee.

Ant Bybie is uitgevat in ‘n broekpak van groen kosmosmateriaal met skakerings van oranje. Die broek het wye pype, maar hulle is volgestop. Ant Bybie is nie ‘n aansienlike vrou nie. Sy het ‘n kongenitale defek, ‘n kort rugvel. Dit veroorsaak dat haar mond ooprek as sy haar oe-ol toeknyp, en as sy haar mond toemaak, gaan die oe-ol oop. Aangesien die oe-ol gewoonlik net een of twee keer per dag oopgemaak word, loop sy dus amper heeldag met ‘n aggresiewe gryns op haar gesig, ‘n gryns wat nie juis getemper word deur haar lang tande nie.

Klein Bybie daarenteen het nie die defek nie. Om die waarheid te sê, sy het geen liggaamlike defek nie. Sy is gegiet in ‘n jean wat haar seksie rondings eer aandoen. Sy balanseer haar met die grasie van ‘n gimnas op haar rooi spykerhakskoene. ‘n Donkerbril met ‘n wit raam beskerm haar blou oë teen die fel son. Haar blonde hare tuimel mals en uitbundig oor haar skouers.

Nols, Klein Bybie se man en Oom Bertus, haar pa, staan ook daar rond vir die groetslag. Piston, hul seuntjie van so drie jaar, probeer klouplek aan sy ma se jean kry, maar die enigste vou in die jean is te hoog op vir hom om by te kom. Hy het ‘n t shirkie aan wat sê “Praat Afrikaans of hou jou bek” As hy my gewaar, steek hy ‘n swietgevlekte swart tong uit. Ek lig my middelvinger vir hom waarop hy sy ouma aan haar kosmosbroek gryp. Oom Bertus het haar egter intussen in ‘n omhelsing beet en hy soen haar lank en innig, so asof sy nou op ‘n reis na ‘n ver plek gaan en hy haar nie gou weer gaan sien nie. Hierdie oomblik van vertedering raak my diep, en die eeu-oue waarheid van die ding tussen ‘n man en ‘n vrou kom soos helder daglig by my op, die liefde is blind, hy is stokblind!