Parram pampam

En daar breek die onafwendbare oomblik aan–Little Drummer Boy teem oor die eter in Checkers. Nou is dit volspoed Klater Krismis toe.

Hierdie irritasietjie ten spyt, is daar ‘n tasbare gees van afwagting hier in nommer 19, die helfte van die Kaapse kinders kom kuier. Ai, kon dit nie maar almal gewees het nie! Die Stanforders het laat weet die saak is reg (sover, hulle planne is soms  vloeibaar!) maar die Parklanders moet werk en sal dalk Februarie se kant kom kuier. Nou is dit ‘n presente-gekopery vir die vale. (Die dat ek al so gatvol is vir daai arme drommer drommel!)

Maar dis ‘n plesierigheid vir die toekoms. Op die oomblik sit ek alweer hier ter lande soos die nimlike Piet Snot, soos Kiepie, soos ‘n eensame uil op ‘n kluit.Vroukie is so ‘n uur gelede weg Pretoria toe, sy moet ‘n kursus in elektroniese rekordbestuur gaan doen, vir die hele blerrie week! Fokkitie fok! Maar die donker wolk het ‘n silwer randjie, ek moet more self soontoe om in dieselfde gebou waar sy haar kursus doen, ‘n workshop oor arts, culture and heritage by te woon! More-aand skwat ek dus by haar.

En hoe gaan ek my tyd verwyl? Ek kan ‘n dvd kyk, ek kan lees (Spoor van Deon Meyer lê juis hier en wag) of ek kan êrens gaan kuier. Die kuiergedagte impliseer egter dat die hosts uit meegevoel kan aandring dat ek by hulle eet, wat weer embrioties kan wees vir ‘n laatnag kuier. Daarvoor sien ek nie op hierie Sondagaand kans nie. Alleen kan ek egter nie oor hierdie saak besluit nie, ek sal wag tot die sonnetjie betaamlik gesak het en dan met ‘n glasie plonk in die hand hieroor besin. Bacchus het altyd raad, die bliksem!

25 thoughts on “Parram pampam”

  1. lol – Bacchus het al vele probleme opgelos. Sterkte vir die week – se maar as ons vir jou ‘n bordjie kos kan deurblog.

  2. My kinders kom ook almal lekkerrrrrrr. Maar ek het nou vir jou ‘n blink plan uitgedink, hoekom gebruik jy nou nie hierdie week kreatief en maak vir daai kleinkinders van jou kerspersente nie 😉

  3. Dankie, maar nee dankie! Ek is van daai ouens wat sê “Kom 1 Januarie, dan gaan ek van ‘n paar lelike kilo’s ontslae raak” en Jan kom ook nie!

  4. Jissie Monica, jy dink te veel! Op ernstiger noot–ek hou daarvan om vir hulle stories te skryf, hulle is maar power (die stories nou!) maar dit het nogal ‘n vermaakwaarde. Ek dink op die oomblik juis aan een.

  5. En daar kaap Vroukie die boek, saamgevat Pretoria toe! Deon Meyer kan ‘n lekker storie spin, en dan het hy hier in onse buurdorp grootgeword. Ek voel ‘n spesiale lojaliteit teenoor hom net daaroor.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s