Nou of nooit…

… sê ekvir Vroukie. Nou gaat ek die buurman bliksem! Ek wag al lankal vir so ‘n geleentheid, ek het immers in Standerd Sewe ‘n boek oor Karate gelees; “The way of the open hand” deur Sensei Baja Dan Hashimoto Oshkosh. Dis net een Oi Zukie, (in sy Oi) een Kawamuru (in sy mur) en een Trakimunti (in sy munti) en die krekkers is verby. En wat maak Vroukie toe? Van alle ding sit sy Elvis se Love me tender in die CD speler, en daar is ek door liefde oorwonne. Vroulike lis. Blerrie buurman kan bly wees, die bliksem! 

Amor vincit omnia!

Heppie heppie!

Advertisements

Bliksem!!

Klink of my fokken buurman ‘n paar dinamietstokke by die myn gesteel het. Die honde is angsbevange. Ek wens ek kon ‘n bom cracker in sy hol opdruk, die bliksem.

Koebaai Krismis

Die laaste Krismisgaste het vanoggend die pad gevat. Die kar was nog nie mooi om die draai nie toe is die Krismisboom, die Krismisliggies, die Krismiskrans gebêre. Al wat nog aan Krismis herinner hier by die Lewieswoning is Krismisskuld en Krismiskilo’s. 

Maar ek het darem ‘n laat Krismispresent ook gekry, kyk net hier:

Dear Lewies, 

 

By way of introduction, my name is Veni Govender, PA to Jaco Nel of Exclusive Books.

 

Congratulation on winning the book hamper for the Dekat Competition.

 

Please can you advise me which Exclusive Books store I send your prize to, as we (Exclusive Books) do not post book hampers.

 

 

 Thank you and

 

Kind Regards

 

Veni Govender

Vroukie het vir my ingeskryf en Bingo!! daar wen ek/sy die geskenkpak van 10 boeke:

Spoor Deon Meyer

Samoersa reis Johan Bakkes

Tabernakel Annelie Botes

Kitchen Nigella Lawson

Somerkos in Provence Marita van der Vyfer

Conversations with myself Nelson Mandela

Cooked out of the Frying Pan Justin Bonello

7de Laan Kookboek

The making of Spud, the movie

Die sneeuslaper Marlene van Niekerk

Ek is behoorlik in my noppies. 


Tafel vir Twee

“Tafel vir twee?”

“Ja, asseblief”

“Binne of buite?”

“Buite asseblief”

“Jammer, al die tafels buite is beset”

“Nou dan binne, asseblief”

“Daar is nie meer tweesitplek tafels beskikbaar nie, hulle is almal vol”

“Nou dan vier, solank ons nie hoef te deel nie”

“Volg my asseblief”

“Dankie”

“Die kelner sal nou by u wees”

“Goeienaand. My naam is Clarence. Ek sal u kelner vir die aand wees. Sal u solank ietsie drink?”

“Ja dankie. Bring asseblief vir ons die wynlys”

“Hier is dit.”

“’n Lekker rooi wyn Vroukie? Ons het mos iets om te vier”

“Sal lekker wees Lewies”

“Bring asseblief vir ons ‘n bottel Beyerskloof Pinotage”

“Die Beyerskloof is op, Meneer”

“Bring dan ‘n bottel Delheim Shiraz”

“Jammer Meneer, dis ook op.”

“Nou watse wyn het jy Seun?”

“Die bottels wyn is klaar, Meneer. Ons het net bokswyn”

“Nou hoekom de …”

“Lewies, die mense kyk vir jou”

“Watse rooi wyn het jy?”

“Johannisberger, Meneer”

“Is dit al? Het jy nie Drostdyhof of Overmeer of so-iets nie?”

“Nee Meneer. Net Johannisberger”

“Vroukie, kom ons loop. Ons gaan soek ‘n ander eetplek”

“Jammer Meneer. Totsiens Meneer. Kom gerus weer!”

Lewies mymer

So sit ek in mymering versonke, en veral 4 dinge verwonder ek my oor. Ek verstaan van die werking van die weë tussen ‘n man en ‘n vrou, en verstaan hoe ‘n akkedis teen ‘n rots kan uitklim. Ek verstaan selfs hoe die jam in die blik kom, maar wat ek nie verstaan nie, is:

 

Hoekom dink mense dis snaaks as iemand ‘n cheap Capey aksent swak naboots om iets te adverteer

 

Hoekom speel slaghuiseienaars Afrikaanse musiek kliphard om vleis te verkoop

 

Hoekom skroef die Ingelse maar die Boere spyker

 

Hoekom klink dit eners as ‘n Ingelse girlkie sê “No!” en ‘n Boeremeisie sê “Nou!” maar dit beteken heeltemal iets anders

 

O ja, ‘n vyfde raaisel, hoekom is die Kaapse draai so lank maar die fyndraai is so kort.

 

Tja, so sit ek maar en wonner.

 

Lewies kry ‘n roadworthy

 

“Goeie middag Meneer Lewies. Kom sit en vertel my wat bring u na my toe”

 

“Middag Dok. Nee, Dok, ek kom net vir die jaarlikse ondersoek, jy weet, om die stand van my gesondheid te bepaal. Bloeddruk en cholestrol, die prostaat en so aan.”

 

Die dokter slaan my leêr oop en lees fronsend daarin. Hy lek oor sy lippe en kou dan aan sy onderlip.

 

“Laas toe u hier was het ons bietjie gesels oor u algemene lewenswyse en ingesteldheid. U het die indruk geskep dat u opvlieënd van natuur is soos u roekelose taalgebruik geillustreer het. Ek het ook bedenkinge gehad oor u drankmisbruik”

 

“Ai Dok, ‘n knerts of twee in die aand is nou nie juis drankmisbruik nie.”

 

“Altemit. Ons sal dit gou vasstel as ek u lewer ondersoek. Wag asseblief vir my in die ondersoekkamer. Trek alles uit, hou net die onderbroek aan. Ek kom nou. Ek wil net ‘n pasiënt bel.”

 

Ek trek uit en gaan lê op die bed. Ek het gelukkig onthou om ‘n nuwe onderbroek aan te trek, pre ET, groen maar sonder gate. Die muur reg teenoor my lyk soos ‘n kroegrak, vol glasies en bekertjies en flessies. Skielik sit ek vinnig regop. Is hierdie boepmaag myne? Net myne? Ek het myselwers nog nooit van uit hierdie posisie betrag nie. Ek lê terug. As ek oor my maag kyk kan ek net my groottone sien. Allamagtag Lewies, g’n garagepaais en Coke meer vir jou nie! G’n bier en tjips oor die naweek nie! Ek probeer om die boep plat te druk, maar hy peul net na die kante toe uit. Is dit nie dalk ‘n breuk nie, wonder ek.

 

Dan sien ek my groottoonnaels raak. Demmit Lewies, hoekom het jy nie die bleddie naels geskrop nie! Jy weet mos jy kom dokter toe! Nie net vuil nie maar liederlik lank ook! Hier op die rakkie langs my kry ek ‘n klein skêrtjie langs ‘n paar verbande en pleisters. Die skêrtjie werk goed om die njarra uit te krap. Jissie! Hoekom stink dit so? Het ek êrens in ‘n sponsdoring getrap? Ek oorweeg eers om dit aan ‘n tissue af te vee en om dit in die vullisdrommetjie te gooi, maar as die dokter dit sien sal hy mos weet dit kom van my af. Die binnekant van die kussingsloop! Daar sal niemand dit sien nie, niemand sal dit eens weet nie. Die naels lyk goed, mooi skoon maar te lank. Die skêrtjie is te pieperig vir die knipwerk, die lemmetjies vou om die nael. Dan spring die stuk nael tog af en tjieng!! teen die glase in die rakkie. Ek soek vinnig daarna maar kry niks, Goed so, dan sal die dokter dit ook nie raaksien nie. Ek knip ook die ander een met ‘n gesukkel en gesaag. Genade, kan ‘n mens se naels sulke afmetings aanneem? G’n wonder daar is aartappels in my sokkies nie! Ek steek die stuk nael ook in die kussingsloop en lê tevrede terug.

 

Ek hoor die dokter nog praat in sy spreekkamer langsaan. Die aksie het mooi uitgewerk. Hier is ek presentabel van kop tot toon en g’n getuienis te bespeur nie! Ek sit weer skielik regop. Kop tot toon? Wat van my ore? Die dokter gaan mos met so ‘n tortsjie daarin lig. Sê nou die was is so dik dat hy niks sien nie? Die voorvinger is bietjie dik en boor net so ‘n entjie in die oor. Die pinkie gaan net diep genoeg in om te voel dat daar Iets is. Hier tussen die verbande kry ek ‘n pluisie-affêre wat die job sal doen. Toe ek dit uit die oor uittrek, lyk dit soos ‘n teelepel waarmee mens appelkooskonfyt geskep het. Ek smeer die jam af aan die binnekant van die sloop en herhaal die proses met die ander oor.

 

So ja, all dressed up! Ek lê  tevrede terug maar kom dan weer vinnig orent. Waarna gaan die dokter nog intens kyk? Prostaatondersoek! Ek gryp die sloop, dop hom om en trek hom so een maal deur. G’n briekmerke nie, dankie tog, maar ‘n vae, vreemde, onwelriekende reuk. Op die rakkie langs my sien ek ‘n blikkie baba-poeier. Lavender, nogal. Net die ding! Ek gooi ‘n handvol en vryf dit op daai plek in. Dan vee ek my hande af aan die binnekant van die sloop. Nou is ek gecover. Skielik sit ek weer regop, maar dan gaan die deur oop en die dokter kom binne. Hy snuif die lug soos ‘n Kalahari Boesman wat reën vermoed.

 

“Goed. Kom ons begin,” sê hy. “Gee asseblief vir ons ‘n urienemonster in die flessie”

Hy haal ‘n flessie van die rak af. Dan frons hy en keer dit in sy hand om. In die palm van sy hand lê die vermiste toonnael. Sy frons verdiep terwyl hy dit aandagtig bestudeer. Hy gooi die stuk nael in die vullisdrommmetjie en haal ‘n tweede flessie van die rak. Nadat hy dit al fronsend en lipkouend bekyk, het, gee hy dit aan.

 

“Los die flessie sommer in die toilet”, sê hy.

 

Die ondersoek vorder vinnig. Hy druk hier en daar en ek hoes en haal diep asem. Hy frons en lek oor sy lippe en tok-tok my tussen die blaaie. Hy krap my voetsole met ‘n vurkkerige instrument en slaat my op die knieë. My voete kriewel en my bene skop styf soos ‘n donkie wat gif gevreet het.

 

“Goed. Laat ek nou die prostaat betas,”

 

Betas? Fok Dok, betas! Dis mos ‘n woord daai gelaai met negatiewe innuendo!

 

“Lê op u linkersy en trek u bene op.”

 

Lam ter slagting!

 

“Meneer Lewies, waarom gebruik u baba-poeier hier onder?”

 

“Eeehh, Dok, uh, jy sien, ek, eh, ek het ‘n nuwe onderbroek aangetrek en die ding het my geskawe. Toe gooi ek so ‘n bietjie baba-poeier, laventel, vir die irritasie, jy weet.”

 

Daarna doen hy wat ‘n dokter moet doen as hy ‘n inwendige ondersoek uitvoer.

 

“Meneer Lewies, trek aan en kom sit. Dan vertel ek u oor u toestand.”

 

Toe hy by die ondersoekkamer se deur uitloop, hoor ek hy roep na die ontvangsdame: “Annemarie!! Sê asseblief vir Johanna sy moet die ondersoekkamer kom skoonmaak! Die plek stink soos ‘n plaas lewwetrie! “

 

Hy neem plaas agter sy lessenaar en kyk my aan deur al die samples van plastiek rugstringe, skelette en senuweestelsels. Hy haal diep asem. Sy fons verdiep soos ‘n ploegspoor op die wenakker. Hy lek oor sy lippe. Hy kyk my stip aan. “Meneer Lewies,” sê hy gewyd, “ ek het slegte nuus. Nee, nee, nie vir u nie. Vir die mediese wetenskap. Met u lewenstyl moes u al op die randjie van die graf gewees het, maar ek vind niks ooglopend verkeerd as ek u ouderdom in ag neem nie. Dalk werk u losbandige lewenstyl vir u. Dalk is daar tog iets te sê vir die matige gebruik van vino-flavoide.” Dan leun hy vooroor. Sy voorarms rus op die lessenaar. Hy steek sy kop uit soos ‘n skilpad in paarseisoen. Hy lek oor sy lippe. “Sê my,” kom sy stem vertroulik en sameswerend, “so tussen ons, presies wat drink u, en hoeveel daarvan?”

 

 

 

 

 

 

 

‘n Onwelkome passion gap

Verlede Saterdagaand toe ek die braaitjoppie die eerste byt gee, besluit die gekroonde voortand dis nou ‘n goeie tyd om in te konk. En daar sit ek soos ‘n arm bergie met ‘n halwe passion gap. Maandagoggend vroeg bel ek die tandarts vir ‘n noodafspraak, maar hy kan my eers Dinsdag help. Dis ok, dink ek , ek gaan Maandag na ‘n begrafnis toe en daar word mos nou nie juis gelag nie, dus sal die passion gap verborge bly tussen die snorbaarde. 

Dinsdag lê ek  magteloos op die tandarts se ondersoekstoel. ‘n Benoudheid neem pos van my, adrenalien begin pomp, veg of vlug. Nee wat lê stil en klem die stoel se rand vas, jy betaal mos om hier te wees.  Dis so die derde of vierde keer wat ek die ou besoek, ons het so ‘n stille professionele manier met mekaar, vriendelik sonder om familiêr hand – om -die – blaas te wees, heel gemaklik. Sê hy toe die kroon het sy laaste dae beleef, hy kan bietjie noodhulp toepas maar dit gaan nie langer as twee, drie maande hou nie. Dan sal die tandwortel verwyder moet word en of ‘n plaatjie of ‘n inplantaat is die voorland. Goed en gaaf, my mediese fonds is vir die jaar afgestorwe, as die tand hou tot in die nuwe jaar is dit piekfyn.

“Nou sê my Dok,” wil ek weet voordat sy vingers weer in my mond vroetel, “hoe haal jy die tandwortel uit, daar is mos niks om met ‘n tang vas te vat nie?”

Sy verstommende antwoord is, (en nou is sy vingers weer in my mond) en daar is so ‘n neerbuigende stemtoon te bespeur, ” Oor die fynere tegniek van die prosedure hoef jy jou nie te bekommer nie”

Anvanklik weet ek nie of reg verstaan nie, Is dit die adrenalien wat my moer pomp of is ek oorsensitief. Ek lê daar met ‘n bek vol tanne en vingers, ek kan niks sê of vra nie. Maar hoe meer ek dink hoe meer strip ek. Fokkit, ek is die pasiënt, en geregtig daarop om te weet wat hy met my gaan doen en hoe hy dit gaan doen. Ek moet hom immers betaal vir die diens, en bleddie baie ook, vermoed ek.

Toe ek nou weer half duiselig orent is, groet ek. “Totsiens Dok” maar eintlik bedoel ek, “Vaarwel, Poephol”

(My blog lettergrootte is nog steeds yslik groot, ervaar julle ook die probleem? Dit maak dit moeilik om inskrywings te lees)