Lewies wonder

Hoekom, dink ek terwyl ek die spatsels teen die muur en die plasse op die vloer afgetrokke gadeslaan, hoekom is daar nog deugsame vroue en moeders wat hulself genope voel om gehoor te gee aan oproepe soos: “Koue boude? Brei ‘n skattige jassie vir jou toilet. Volledige breipatroon op bladsy 7” Hoekom, as hulle nou sowaar besluit het om die brei te brei, kies hulle walglike skakerings van galgeel en swart. Hoekom trek hulle dan die skepping oor ‘n toiletdeksel wat reeds loodreg teen die toilet se watertenk staan. Hoekom moet die deksel dan juis op daardie heuglike maar kwesbare oomblik as die stroom eindelik in die bak sjor, skielik vorentoe val. Op die einste oomblik as ‘n man sy hande vol het om te doen wat ‘n man staande voor ‘n oop toiletbak doen. Die eerste instink is om jou wieket te beskerm. Onmiddellik word die deksel vasgegryp om enige liggaamlike besering te verhinder. Terselfdertyd egter swaai die stroom die kant toe en daai kant toe. Knyp help nie, die washer is in sy moer.Teen die tyd dat die rigting van die stroom weer gestabiliseer is, is die skade klaar gedaan. Plassse, spatsels en stroompies. Selfs die gebreide geel en swart poedel wat die nood toiletrol bewaar, se oë is vol trane. Die ergste is my broek se voorkant wat erg deurgeloop het en  nou papnat is. Verleentheid o verleentheid. Ek kan mos nie so terugkeer na die geselskap nie! (“Ai tog, ek sien Lewies het prostaatprobleme. Ek wonder of hy geopereer gaan word?” Of: “Hehehe, het julle gesien Oom Lewies het sy broek natgepie!”) Maak ‘n plan Lewies. Nonchalance is die wagwoord. Gelukkig is daar ‘n klein handewasbak in die toilet, kompleet met ‘n geel en swart gestreepte handdoek. Die gebruik ek om die plasse en spatsels op te droog. Ek vee selfs die  poedel se bakkies af. Om die nattigheid op die broek te verdoesel, spat ek water met my hand al oor die broek, sodat dit nie moet lyk asof die vlek net op een plek gekonsentreer is nie. So ja, dit kan ek verduidelik.

 

“Jissie! Julle waterdruk is darem baie hoog in die deel van die dorp! Toe ek die kraan oopdraai, spuit die water oor die wasbak se rand! Kyk net hoe lyk my broek!”

 

23 thoughts on “Lewies wonder”

  1. hehehehehe… ek het nou te lekker gelag. Siestog jy het my simpatie Ek is bly ek is nie ‘n man nie – ek sou in elk geval nie al tdie tools kan hanteer nie

  2. Ons het gister in Parys gaan ronddwaal. Vreemde goete wat die antique shops smous. daar moet ‘n soort verlange na vergange dinge wees.

  3. Luister Lewies, jy maak nie mooi nie! Ek is veronderstel om depressief te wees en wroegend na my blog te blaai, toe lag ek tog te lekker toe my oog jou post vang. Sies man!

  4. Ha! Ek dog dis iets wat net met my gebeur en dat my verskoning uniek is. Ai Oom Lewies hoe kan jy mansgeheime so uitblaker, niemand gaan my mos na dese glo oor die spatsels op my broek nie!

  5. Jis ek het in jare nie sulke breigoed gesien nie – bleddie onhigienies, die goed.Hou vannie slim drukstorie…

Leave a comment