Lewies kry ‘n roadworthy

 

“Goeie middag Meneer Lewies. Kom sit en vertel my wat bring u na my toe”

 

“Middag Dok. Nee, Dok, ek kom net vir die jaarlikse ondersoek, jy weet, om die stand van my gesondheid te bepaal. Bloeddruk en cholestrol, die prostaat en so aan.”

 

Die dokter slaan my leêr oop en lees fronsend daarin. Hy lek oor sy lippe en kou dan aan sy onderlip.

 

“Laas toe u hier was het ons bietjie gesels oor u algemene lewenswyse en ingesteldheid. U het die indruk geskep dat u opvlieënd van natuur is soos u roekelose taalgebruik geillustreer het. Ek het ook bedenkinge gehad oor u drankmisbruik”

 

“Ai Dok, ‘n knerts of twee in die aand is nou nie juis drankmisbruik nie.”

 

“Altemit. Ons sal dit gou vasstel as ek u lewer ondersoek. Wag asseblief vir my in die ondersoekkamer. Trek alles uit, hou net die onderbroek aan. Ek kom nou. Ek wil net ‘n pasiënt bel.”

 

Ek trek uit en gaan lê op die bed. Ek het gelukkig onthou om ‘n nuwe onderbroek aan te trek, pre ET, groen maar sonder gate. Die muur reg teenoor my lyk soos ‘n kroegrak, vol glasies en bekertjies en flessies. Skielik sit ek vinnig regop. Is hierdie boepmaag myne? Net myne? Ek het myselwers nog nooit van uit hierdie posisie betrag nie. Ek lê terug. As ek oor my maag kyk kan ek net my groottone sien. Allamagtag Lewies, g’n garagepaais en Coke meer vir jou nie! G’n bier en tjips oor die naweek nie! Ek probeer om die boep plat te druk, maar hy peul net na die kante toe uit. Is dit nie dalk ‘n breuk nie, wonder ek.

 

Dan sien ek my groottoonnaels raak. Demmit Lewies, hoekom het jy nie die bleddie naels geskrop nie! Jy weet mos jy kom dokter toe! Nie net vuil nie maar liederlik lank ook! Hier op die rakkie langs my kry ek ‘n klein skêrtjie langs ‘n paar verbande en pleisters. Die skêrtjie werk goed om die njarra uit te krap. Jissie! Hoekom stink dit so? Het ek êrens in ‘n sponsdoring getrap? Ek oorweeg eers om dit aan ‘n tissue af te vee en om dit in die vullisdrommetjie te gooi, maar as die dokter dit sien sal hy mos weet dit kom van my af. Die binnekant van die kussingsloop! Daar sal niemand dit sien nie, niemand sal dit eens weet nie. Die naels lyk goed, mooi skoon maar te lank. Die skêrtjie is te pieperig vir die knipwerk, die lemmetjies vou om die nael. Dan spring die stuk nael tog af en tjieng!! teen die glase in die rakkie. Ek soek vinnig daarna maar kry niks, Goed so, dan sal die dokter dit ook nie raaksien nie. Ek knip ook die ander een met ‘n gesukkel en gesaag. Genade, kan ‘n mens se naels sulke afmetings aanneem? G’n wonder daar is aartappels in my sokkies nie! Ek steek die stuk nael ook in die kussingsloop en lê tevrede terug.

 

Ek hoor die dokter nog praat in sy spreekkamer langsaan. Die aksie het mooi uitgewerk. Hier is ek presentabel van kop tot toon en g’n getuienis te bespeur nie! Ek sit weer skielik regop. Kop tot toon? Wat van my ore? Die dokter gaan mos met so ‘n tortsjie daarin lig. Sê nou die was is so dik dat hy niks sien nie? Die voorvinger is bietjie dik en boor net so ‘n entjie in die oor. Die pinkie gaan net diep genoeg in om te voel dat daar Iets is. Hier tussen die verbande kry ek ‘n pluisie-affêre wat die job sal doen. Toe ek dit uit die oor uittrek, lyk dit soos ‘n teelepel waarmee mens appelkooskonfyt geskep het. Ek smeer die jam af aan die binnekant van die sloop en herhaal die proses met die ander oor.

 

So ja, all dressed up! Ek lê  tevrede terug maar kom dan weer vinnig orent. Waarna gaan die dokter nog intens kyk? Prostaatondersoek! Ek gryp die sloop, dop hom om en trek hom so een maal deur. G’n briekmerke nie, dankie tog, maar ‘n vae, vreemde, onwelriekende reuk. Op die rakkie langs my sien ek ‘n blikkie baba-poeier. Lavender, nogal. Net die ding! Ek gooi ‘n handvol en vryf dit op daai plek in. Dan vee ek my hande af aan die binnekant van die sloop. Nou is ek gecover. Skielik sit ek weer regop, maar dan gaan die deur oop en die dokter kom binne. Hy snuif die lug soos ‘n Kalahari Boesman wat reën vermoed.

 

“Goed. Kom ons begin,” sê hy. “Gee asseblief vir ons ‘n urienemonster in die flessie”

Hy haal ‘n flessie van die rak af. Dan frons hy en keer dit in sy hand om. In die palm van sy hand lê die vermiste toonnael. Sy frons verdiep terwyl hy dit aandagtig bestudeer. Hy gooi die stuk nael in die vullisdrommmetjie en haal ‘n tweede flessie van die rak. Nadat hy dit al fronsend en lipkouend bekyk, het, gee hy dit aan.

 

“Los die flessie sommer in die toilet”, sê hy.

 

Die ondersoek vorder vinnig. Hy druk hier en daar en ek hoes en haal diep asem. Hy frons en lek oor sy lippe en tok-tok my tussen die blaaie. Hy krap my voetsole met ‘n vurkkerige instrument en slaat my op die knieë. My voete kriewel en my bene skop styf soos ‘n donkie wat gif gevreet het.

 

“Goed. Laat ek nou die prostaat betas,”

 

Betas? Fok Dok, betas! Dis mos ‘n woord daai gelaai met negatiewe innuendo!

 

“Lê op u linkersy en trek u bene op.”

 

Lam ter slagting!

 

“Meneer Lewies, waarom gebruik u baba-poeier hier onder?”

 

“Eeehh, Dok, uh, jy sien, ek, eh, ek het ‘n nuwe onderbroek aangetrek en die ding het my geskawe. Toe gooi ek so ‘n bietjie baba-poeier, laventel, vir die irritasie, jy weet.”

 

Daarna doen hy wat ‘n dokter moet doen as hy ‘n inwendige ondersoek uitvoer.

 

“Meneer Lewies, trek aan en kom sit. Dan vertel ek u oor u toestand.”

 

Toe hy by die ondersoekkamer se deur uitloop, hoor ek hy roep na die ontvangsdame: “Annemarie!! Sê asseblief vir Johanna sy moet die ondersoekkamer kom skoonmaak! Die plek stink soos ‘n plaas lewwetrie! “

 

Hy neem plaas agter sy lessenaar en kyk my aan deur al die samples van plastiek rugstringe, skelette en senuweestelsels. Hy haal diep asem. Sy fons verdiep soos ‘n ploegspoor op die wenakker. Hy lek oor sy lippe. Hy kyk my stip aan. “Meneer Lewies,” sê hy gewyd, “ ek het slegte nuus. Nee, nee, nie vir u nie. Vir die mediese wetenskap. Met u lewenstyl moes u al op die randjie van die graf gewees het, maar ek vind niks ooglopend verkeerd as ek u ouderdom in ag neem nie. Dalk werk u losbandige lewenstyl vir u. Dalk is daar tog iets te sê vir die matige gebruik van vino-flavoide.” Dan leun hy vooroor. Sy voorarms rus op die lessenaar. Hy steek sy kop uit soos ‘n skilpad in paarseisoen. Hy lek oor sy lippe. “Sê my,” kom sy stem vertroulik en sameswerend, “so tussen ons, presies wat drink u, en hoeveel daarvan?”

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements

17 thoughts on “Lewies kry ‘n roadworthy”

  1. Njarra 😀 Ons noem dit gehappie en getêtsie (nee ek weet nie hoe om dit te spel nie) en my ma het altyd gepraat van nghoe (spelling? – dis met so ‘n klapgeluid uitgespreek).

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s