Lewies vermoed ‘n inval

Hier ter plaatse in die Lewieshuishouding is daar ‘n merkbare oplewing. Vermoedens van ‘n Kaapse inval is vandag bevestig, en daarmee saam ook gerugte dat versterkings ten noorde van die Hex ook te wagte is. Die Kaapse kiddies kom Krismis kuier (hmm, lekker alliterasie né, dui op ‘n klappertandlekkerkuier!) Bowenal maak Skoonseun die familietroepe bymekaar om saam te kuier. daar gaan so baie mense hier by ons wees Vroukie sal vir die eerste keer al die Royal  erfstuk koppies kan gebruik, Royal Albert, Royal Doulton Royal Fokop, die hele lot. “Waar gaan almal slaap?”, wonder Vroukie wat floreer op ‘n logistieke uitdaging soos die. Die ouetehuis hier naby bedryf ‘n gastewoonstel teen billike tarief, die word bespreek. “Weet jy Vroukie, ek is seker baie van die inwoners sal vir die Kerstyd na hul kinders of familie gaan. Daar sal dus genoeg leë beddens wees. Ons moet plek in die afdeling vir verswakte bejaardes bespreek, dan word mens sommer goed geservice. Saans sorg hulle dat jy jou pilletjies kry en dat jy piepie en tandeborsel, en soggens kry jy safte kossies. Jy word gebad en…” “Lewies, jy praat nou kak. Help my liewer dink waar die mense hulle karre gaan bêre.” 

 

Ai, ‘n lekker kuier lê voor, net jammer die Parklanders kan nie meemaak nie.

 

(So tussen hakies, is Letterdash onwel? Die lettergroote op my blog is groot genoeg vir ‘n blinde te lees.)

Advertisements

Lewies wonder

Hoekom, dink ek terwyl ek die spatsels teen die muur en die plasse op die vloer afgetrokke gadeslaan, hoekom is daar nog deugsame vroue en moeders wat hulself genope voel om gehoor te gee aan oproepe soos: “Koue boude? Brei ‘n skattige jassie vir jou toilet. Volledige breipatroon op bladsy 7” Hoekom, as hulle nou sowaar besluit het om die brei te brei, kies hulle walglike skakerings van galgeel en swart. Hoekom trek hulle dan die skepping oor ‘n toiletdeksel wat reeds loodreg teen die toilet se watertenk staan. Hoekom moet die deksel dan juis op daardie heuglike maar kwesbare oomblik as die stroom eindelik in die bak sjor, skielik vorentoe val. Op die einste oomblik as ‘n man sy hande vol het om te doen wat ‘n man staande voor ‘n oop toiletbak doen. Die eerste instink is om jou wieket te beskerm. Onmiddellik word die deksel vasgegryp om enige liggaamlike besering te verhinder. Terselfdertyd egter swaai die stroom die kant toe en daai kant toe. Knyp help nie, die washer is in sy moer.Teen die tyd dat die rigting van die stroom weer gestabiliseer is, is die skade klaar gedaan. Plassse, spatsels en stroompies. Selfs die gebreide geel en swart poedel wat die nood toiletrol bewaar, se oë is vol trane. Die ergste is my broek se voorkant wat erg deurgeloop het en  nou papnat is. Verleentheid o verleentheid. Ek kan mos nie so terugkeer na die geselskap nie! (“Ai tog, ek sien Lewies het prostaatprobleme. Ek wonder of hy geopereer gaan word?” Of: “Hehehe, het julle gesien Oom Lewies het sy broek natgepie!”) Maak ‘n plan Lewies. Nonchalance is die wagwoord. Gelukkig is daar ‘n klein handewasbak in die toilet, kompleet met ‘n geel en swart gestreepte handdoek. Die gebruik ek om die plasse en spatsels op te droog. Ek vee selfs die  poedel se bakkies af. Om die nattigheid op die broek te verdoesel, spat ek water met my hand al oor die broek, sodat dit nie moet lyk asof die vlek net op een plek gekonsentreer is nie. So ja, dit kan ek verduidelik.

 

“Jissie! Julle waterdruk is darem baie hoog in die deel van die dorp! Toe ek die kraan oopdraai, spuit die water oor die wasbak se rand! Kyk net hoe lyk my broek!”