Die boekgeskenk

Die boeke waaroor ek hier geblog het, het aangekom. Ek wou ‘n foto daarvan plaas, maar dis nou net moers of ek dit kan regkry. Ek kry elke keer ‘n error boodskap. Dus volstaan ek maar om te sê dat ek baie in my skik is daarmee. So ook Vroukie wat Tabernakel en Marita se kookboek tans onder hande het. Ek self lees nog aan Padmaker, nie op die lysie nie, en sal daarna Sneeuslaper nadertrek. Intussen blaai ek so deur die kookboeke. Die aanvallige Nigella Lawson het my egter teleurgestel. Sy is toe nie The Naked Chef nie. Dus kyk ek maar na haar koek en tert.

Advertisements

‘n Gawe van Bo

“Lewies!”

 

Dis 6:30. Ek maak reg om werk toe te gaan. Ek sit op die bank in die slaapkamer en maak my skoenveters vas. Hoekom is my arms deesdae so kort? Hoe verder ek rek om die veters by te kom, hoe stywer trek die band tussen my blaaie en hoe korter word my asem.

 

“Lewies!”

 

“Ja, Vroukie”, hyg ek aamborstig soos ‘n panfluit.

 

“Wat is fout? Is jy ok”

 

“EK weet nie. Ek weet egter ek koop nie weer skoene met veters nie. Dis van nou af slip ons vir my.” Dis ‘n lang uitering. Hier teen die einde raak my wind op. Ek is spyt ek het nie opgehou by “Ek weet nie”

 

“Dis jou pens wat so groot raak, Lewies. Dis al die lekker eet en drink van die vakansietyd.”

 

“Lewies!”

 

“Ja Vroukie?”

 

“Weet jy wat?”

 

“Weet ek wat wat Vroukie?”

 

“Ek is begaafd. “

 

“Begaafd? Hoe meen jy nou?”

 

“Ek het altyd so gedink, maar nou weet ek dit”

 

“Het jy ‘n gesig gesien?”

 

“Nie heeltemal dit nie, noem dit ‘n helder oomblik, ‘n ligstraal wat deur die wolke breek, ‘n…’n…”

 

“Ok Vroukie, I catch your drift. Vertel my meer van die begaafdheid”

 

“Kom kyk”

 

Sy steek haar hand uit en trek my op van die bank af op.

 

Sy lei my na die badkamer toe.

 

“Kyk!”

 

“Kyk wat?”

 

“Die toiletpapier”

 

“Die toiletpapier”

 

“Ja, die toiletpapier”

 

“Wat van die toiletpapier?”

 

“Sien jy die toiletpapier”

 

“Ja Vroukie. Ek sien die toiletpapier. Wat daarvan? Wat het dit met begaafdheid uit te waai?”

 

“Jy was mos nou net in die toilet”

 

“Ek dink so, ja”

 

“En?”

 

“En wat, Vroukie?”

 

“Was daar toiletpapier op die rolletjie toe jy uitkom?”

 

“Uhmm..”

 

“Jy sien Lewies, ek het nou so pas tot die besef gekom: ek is die enigste een in die huis wat ‘n leë toiletrolletjie kan omruil. Dink jy nie ook ek is begaafd nie?”

 

 

 

 

 

 

 

Die wit broek sit te styf…

…voel ek vanoggend toe ek regmaak vir werk. Nee, sê Vroukie, sy het nie oorgeslaan na ander seepoeier wat die materiaal kan laat krimp nie. Nou wat dan?

Terrwyl ek hieroor mymer dink ek aan die blogs wat ek verlede jaar geplaas het. Daar was so een of twee wat my ‘n pienke plesierigheid gegee het toe ek dit geskryf het. 

Ek gaan so een of twee daarvan herhaal. verskoon maar as dit julle verveel, en maak dan maar soos die oorlogtydsliedjie sê: “Wish me luck as you wave me goodbye” (Kan glad nie onthou wie dit gesing het nie–was vir seker nie Carike Keuzenkamp nie!)

Ok, hier is dier eerste een:

Maak groot oop en sê “Aaaah”

“Geografiese tong. Mnr Lewies, u het ‘n geografiese tong” konstateer die dokter ingenome.

 

“wha.. wha, ish..”

 

“Laat ek net eers my vingers uit u mond kry dan kan u praat. U wou sê?”

 

“Geografiese tong? Wat op aarde is dit?”

 

“Laat ek net gou een van my naslaanwerke raadpleeg dan vertel ek u in leke terme”

 

Die dokter swaai sy stoel om en krap in ‘n boekrak. Dan swaai hy terug met ‘n publikasie in sy hand wat ontstellend baie na ‘n ou Reader’s Digest lyk.  Hy lek oor sy lippe en met ‘n frons op sy voorkop lees hy. Dan sê hy, “Geografiese tong is ‘n  kondisie van die tong”.   Hy klap die publikasie toe en kyk triomfantelik na my.

 

“Uhhm ja, dokter, ek dink dis hoekom ek hier is.”

 

“Inderdaad. Die kondisie manifesteer as beduidende orale ulkusse aan die papillae binne die mond, veral op die linguale perifere en surfaas.  Die voorkoms van die kondisie vergelyk met die geografiese voorkoms van kontinente soos dit uitgebeeld word in wêreldkaart”.

 

“Dok meen my bek lyk binne soos ‘n atlas? Amper soos my oë wat Maandagoggende soos padkaarte lyk!” sê ek met familiêre gemeensaamheid.

Die dokter sit regop. Sy oë flits skerp na my deur sy swartraambril. Hy kyk lank en stip na my. Ek kriewel ongemaklik op die deurgeskifte stoel. Dan vra hy met afgemete artikulasie, sy stemtoon gemoduleerd, maar subtiel dreigend. Hy klink soos Riaan Cruywagen wat die luisteraars waarsku dat die volgende videogreep ontstellende beeldmateriaal bevat wat sensitiewe kykers mag, wel, ontstel.

 

“Presies hoeveel drink u, Meneer Lewies?” Die s-klanke seil sissende  tussen sy tande deur.

 

“Nee, nee, Dokter, ek drink nie eintlik nie. Ek drink net met Nagmaal en deesdae gaan ek nie juis kerk toe nie, so…” My stem raak weg as die dokter vooroor leun. Sy gesig is naby myne, sy oë is groot en wasig agter die dik lense van sy bril, dit lyk soos lasagne in ‘n Pyrex bak.*

 

“Meneer Lewies, lyk my u ligsinnige lewenstyl mag aandadig wees aan u kondisie. As u in liggaam en gees gesond wil lewe moet u hou by hierdie maksim: Corpus sanum in mente sana”

 

“O, ek ken daai een van my Standerd ses Latyn dae af, maar dit het anders gegaan, Mens sana…”

 

“Nee, die liggaam moet gesond wees, dan is die gees gesond” sê hy met driftige oortuiging. Sy vinger wat hy hier voor my neus rondswaai ruik na KY jellie.

 

“Ek sal u ‘n voorskrif gee vir die kondisie van die tong”


“Kan Dok my dalk so ‘n paar dae afboek, asseblief?” vra ek opprtunisties, die vooruitsig van ‘n paar dae weg van die werk uitlokkend in my gedagtes.

 

“Nee! U kondisie reverdig nie ‘n siekte nota nie!  Werk is die regte medisyne, dit sal u aandag van u kondisie aflei. Is daar dalk nog iets wat pla?”

 

“Ja wel, Dok, noudat jy dit noem. Man jy weet, hier op my jare begin dit mos lol as ‘n man, jy weet, as ‘n man nou …as dit nou hier by die huiswerk begin kom…”

 

“Wat bedoel u, Meneer Lewies? Wat se lollery praat u van?”

 

“Jy weet Dok, ‘n man se kragte begin afneem” sê ek veelbetekenend, “ Afneem, af. Jy weet mos”

 

“U sal meer spesifiek moet wees, ek weet nie wat u bedoel nie.”

 

“Nee kyk Dok, die kwessie van styfheid, dinge wat moet styf wees is nie styf nie en dinge wat nie moet styf wees nie, die is styf”

 

“O, ek begryp. Maak los u broek en buk vooroor”

 

“Vir wat?” wil ek onthuts weet.

 

“Ek gaan u ‘n Voltaren-inspuiting gee vir die styfheid”

 

“Fok Dok, verstaan jy nie? EK kla nie oor die styfheid nie…”

 

“Meneer Lewies, u roekelose taalgebruik is vir my voldoende bewys dat u kondisie te wyte is aan u onbeheersde lewenstyl”

 

“Jy meen my tong ontwikkel beduidende orale ulkusse aan die papillae binne die mond, veral op die linguale perifere en surfaas omdat ek so nou en dan kru taal gebruik?”

 

“Juistemint, Meneer Lewies. Na my medies-gefundeerde opninie is dit een van die primêre oorsake. Meneer Lewies, sit, ons het nog nie die oorsaak van die probleem van u styfheid bepaal nie! Waarheen gaan u?”

 

“Ek gaan ‘n ander dokter soek, ek sien juis hier oorkant die straat is ‘n toordokter !”

 

“Meneer Lewies, moenie die deur so hard klap nie!”

 

 

 

* Ek het hierdie vergelyking geleen (gesteel want ek gebruik dit gereeld!) by ‘n blogger, ek kan nie meer onthou wie nie. Dus, met erkenning aan die anonieme blogger)

 

 

Van afstand en verlange

‘n Paar Krismis fotos

.

Kara die clown

Mia demonstreer die platannaplons

Jislaaik Oupa!! Het jy gesien hé!?

Tja, so sit ek my en troos

Met kiekies van die kroos.

Sal ek julle nog kan oppie as ons mekaar weer sien? 

Phedracut Oupa, dis die geheim!

Hoe kort die stonde…

  1. … van die liefde. Laas jaar speel Vroukie Love is Tender toe ek moer strip vir die buurman. Vanjaar is dit ‘n ander storie, in die trant van Tchaikovsky se 1812 Overture, daai een met die baie kanonne. Dit alles omdat ek op die dak klim en deur my 2010 vuvuzela vir Buurman skreeu hy is ‘n poepol toe hy sy geheime cache krekkers uithaal, nadat vrede op aarde reeds neergedaal het. Die bliksem. Toe rig hy sy sky rockets op my toe ek soos Fiddler on the Roof dans om my balans op die nok van die dak te behou. Ek dink egter die groot onenigheid het begin toe ek terug in die huis aanmerkings begin maak het oor Andre Rieu en sy vool. Hy was op TV besig om Vroukie te vermaak met sy vool. Toe sê ek Kurt Darren is net so goed al sing hy sonder sy vool. Toe strip Vroukie se moer. Gelukkig slaap die honde vanaand in die huis as gevolg van Buurman se krekker skietery. Nou is daar meer plek in die hondehok vir my.
  2. Nog net 364 dae!!

(Letterdash het die syfertjies ingesit–dit beteken fokol)