Van ‘n begrafnis, hemelse hoenderpastei en ‘n besoek aan ‘n museum.


 Vrydagmiddag woon ek en Vroukie die begrafnis van die skoonma van ‘n kollega van my by. Die pastoor doen moeite om ‘n bietjie humor in die diens in te werk. Teen die einde van die diens vertel hy dat die oorledene, Tannie Grietjie, alombekend was vir die lekker hoenderpastei en appeltert wat sy gemaak het. Sy vroutjie het eendag uitgevra na die resep, maar die tante het laggend gesê dit sal eers na haar dood bekend word. Hy vra toe die skoondogters of hulle darem die resep het, en toe hulle hartseer maar instemmend knik, gooi hy sy hande in die lug en roep in ekstase uit, soos ‘n NG predikant wat sy eerste duiwel suksesvol uitdryf “Prys die koning—die resep is gered! Ek het gevrees Tannie Grietjie is vort die ewigheid in met die resep!” So hier en daar het iemand gelag en apostolies hande geklap, maar selwers het ek gedink die pastoortjie verkrag die somber en gewyde atmosfeer.


Op pad huis toe sê Vroukie sy het nou al baie gehoor van die museumwinkel wat opgetert is, ek moet bietjie daar stilhou. So snuffel ons deur al die parafernalieë toe een van die personeel daar aankom, iemand wat ek so verlangs ken. Saam stap ons deur die gebou terwyl hy nou te vertelle het van planne om die plek op te kikker. “Hou julle van oudhede?”vra hy en vertel hoe hy ou meubels opkoop en wat hy alles reeds bymekaar gemaak het. “Nee wat,” sê ek gevat, “die oudste voorwerp wat ek het is my vrou” Toe hy nou so lekker lag oor die spitsvondigheid, kyk ek na Vroukie om te sien of sy ook die grappie waardeer. Haar oë blits vuur, maar haar kyk is kil en yskoud, en ek weet: Hierdie gaan ‘n laaang naweek wees.

En dit was.

Advertisements

Die groot generasie-gaping

Ons Parklandse kinders kuier hier met Mira en Liam, onderskeidelik amper vier en amper twee. Gisteraand wil die ouers gaan Valentyn, en sal Vroukie en die uwe omgee om die twee vir die aand op te pas? :”Natuurlik nie, sal ‘n groot plesier wees!” jubel Vroukie andante cantabile, en ek koor aan die deskant “Maar al te graag,!” con majestuoso arpeggio, of iets in dier opgewonde en afwagtende voege. 

 

Oor die algemeen het die sessie goed verloop, sonder ‘n onvertroosbare gemis van die ouers, selfs die gaan slaap was pynloos. Die woeligheid egter het my op ‘n stadium laat wonder of die Bybelse Sara wat eers op tagtig gevat en gebaar het nie soms terugverlang het na haar bar baarmoeder jare nie.

 

Vanaand kuier hulle by die ander oupa en ouma, en hier sit ek en Vroukie hoog en droog, opgeskeep met mekaar, terwyl ons terugdink aan die kleintjies se manewales van gisteraand. Nee wat, hulle kan maar weer kom, ons kan hulle handle. 

 

 

 

The Alchemist

Ek het vertel van Chopper, die rondloperbrakkie wat ongenooid kom nes skrop het in ons werf en sommer gou-gou ook in ons harte. Die outjie het nou groter geword en alle vrese dat hy ‘n pieperige vlermuishond is die nek ingeslaan. Oorheersend in sy herkoms is Foxterriërbloed. Hy kon ook Plankie geheet het, hy is sommer hier op die straathoek aanmekaar gespyker. Maar die brakkie het een verstommende eienskap, hy het alchemistiese vermoëns. Hy vreet die afvalstukkies houtskool by die braaier en tjorts dan houtskooldrolle teen die ratio 50gm tuisgemaakte houtskool van 5 gm afvalhoutskool.Nou loop ek maar so met die graaf agter hom aan en drie tjortse later is daar genoeg houtskool vir Saterdagaand se braai. Die siklus word dan herhaal, Chopper vreet die afvalstukkies en produseer dan weer houtskool van gehalte. G’n garage houtskool weer vir my nie, en so word my koolstoftred hier op Moeder Aarde ook ligter. 

 

Ek dag toe hierdie magiese vermoë moet verder ondersoek word met die oog op welvaart en verryking. Ek draai ‘n R100-noot in ‘n stukkie steak toe en Chopper vreet te lekker. Maar g’n R100 drolle nie, net so ‘n slapskyt, ek dink die kos was te ryk.

 

Nou ja, laat ek gaan. Daar is ‘n paar prima tjoppies wat wag om gebraai te word.

 

Tjorts!

Mijn liewe Vroukie

Opgedragen aan mijn allerenigste, mijn eige Vroukie 


Mijn liewe Vroukie, ek is zo blij jy is die oukie

wat myn van heel boven ben gegeef

ganz mijn leven hier beneden saam te leef

ek lief jou altyd so veel en so baija

totlat ons eendag hiervandaan moet tsamaia

en zamen op een pienke wolkiekie

die ingelharpiekies laat tjie tjie tjie!

mijn liefste lewensmater als ik jou gedenk

word de goorste dag een fraai geskenk!