One lovely blog award

Ek het die eer aan Roosmaryn te danke. Dis egter terselfdertyd ‘n uitdaging om slegs vyf bloggers te benoem, en boonop te hoop dat hulle nie reeds benoem is nie.

Sewe dinge omtrent myself:

1 Ek is uit en uit ‘n regterbreinmens

2 Ek is verstrooid tot op ‘n punt waar ek vir myself gatvol word.

3 Ek is toetentaal rigtingbefok.

3 Ek staan aan die einde van my loopbaan, my oë waterig gerig op aftrede. 

4 Ek is ‘n Frankofiel (nee, dis nie iemand wat lelike goed met Frankfurters doen nie!) , naas die bokke is Les Blues my gunsteling rugbyspan.

5 Ek hou nie van Afrikaanse musiek nie, met enkele rare uitsonderings, en Chris Chameleon is nie een van daai uitsonderings nie.

6 Ek hou daarvan om soms alleen te wees.

7 Ek het twee honde, hulle lê graag hier by my voete as ek voor die rekenaar sit. Een van hulle het so pas gepoep, en ek dink as ek daai poep kan bottel kan ek dit bemark as ‘n anti-terroriste wapen. Maar dis my luck, my geldmaakplanne is nie haalbaar nie!

Ek benoem die volgende bloggers omdat ek hul blogs om verskillende redes geniet.

1 Elsa

2 Maryke

3 Flip

4 Wynvlieg

5 Joanna

Daar’s hy! Die taak is met plesierigheid volbring!

Advertisements

Is Oom ‘n pensioenaris Oom?

Ek koop gister so ‘n stukkie vleis vir ‘n kerrie bredie, is mos lekker koud en kerrie en sjerrie sit die koue koud. ‘n Stukkie chuck, so anderhalf kilo, teen omtrent R55 per kilo as ek reg onthou, maw so ampertjies R80 vir die pakkie vleis. Maar is ok, ons rek hom met aartappels en wortels en ertjies en stampkoring tot more toe

“Is Oom ‘n pensioenaris, Oom?” vra die blokmannetjie nuuskierig.

Ek is nou al gewoond dat al wat leef en beef my “Oom”, trouens meer mense sê vir my “Oom” as wat ek vir ander mense “Oom” en “Antie” sê. En hulle word al hoe ouer. Maar “pensioenaris” is ‘n nuwe een.

Moedswillig lieg ek “Ja, ‘n pensioenaris. Ek is met spensioen”

Met gulhartige uitgelatenheid verklaar hy:

“Dan kry Oom afslag!” so asof hy die Lotto wenner aankondig.

Gaaf, dink ek. Die slagter se belydenisskrif buite op die sypaadjie “Ek het Jesus lief!” is eerlik. Hy gee Christelik om vir sy medemens.

“En hoeveel afslag gee julle vir pensionarisse? Vyf, tien persent?”

” ‘n Rand Oom”  sê hy met ‘n Vader Teresa genoegdoening.

“‘n Rand?”

“Ja Oom”, “vir elke kilo vleis wat jy koop gee ons ‘n volle Rand af, maar net vir pensionarisse”

“‘n Rand per kilo?”

“Ja Oom”, ‘n uitdrukking van welsyn op sy gelaat.

“Met ander woorde, as ek varklonge koop teen R20 ‘n kilo kry ek meer afslag as wanneer ek fillet steak koop teen R100 per kilo.”

“Nee, oom, dit bly nog steeds ‘n Rand”

“En nou het ek ‘n kilo en ‘n half gekoop, dan moet jy my mos R1, 50 afslag gee.”

“Nee Oom, dit moet eers ‘n vol kilo wees.”

Ek sit die pakkie vleis neer en draai om.

“En nou Oom? Is die vleis te duur?”

“Nee, dis net te blerrie moeilik om gewoond te raak aan my status as pensioenaris!”

Drome

Oupa en Ouma sit op die stoep

Oupa gee ‘n harde roep

Ouma vra wat makeer

Oupa sê ek droom alweer

Elke keer as ek slaap

Droom ek van ons kinders in die Kaap

Van Paul en Sandra en Kara en Mia

En van Christo en Hanlie en Liam en Mira

Ek droom ek lees vir hulle uit ‘n storieboek

Ek droom ons drink koffie en eet koek

Ek droom ons swem in die koue see

Ek droom dat hulle my ‘n drukkie gee

Ek droom ons speel op die strand se sand

Ek droom ons loop oor die duine, hand aan hand

Ek droom ons kuier saam tot in die nanag uur

Ek droom ons sit onder die sterre voor ‘n vuur

Ek droom ek hoor hulle liedjies sing

Ek droom hoe dit vir my vrede bring

Ag, ek droom sommer.

‘n Skisofreniese diskoers oor Dorsale Derma Gestremdheid Sindroom, William Webb Ellis en ‘n moontlike ontheemding.

“Nou wat dink jy is ons kanse in die rugby wêreldbeker? Dink jy ons het ‘n kans?”

“Sjit, ek weet nie. Na nou die aand se geploeter tussen die Bulls en die Stormers weet ek wragtig nie. As dit ons topspanne is…”

“Dis miskien nou tyd vir ‘n nuwe aanslag, plan C. Stampkar en high kick and charge werk nie meer nie”

“Ek herrit! Ek herrit! Eufokkenreka ek herrit”!

“Ek weet—die Dorsale Derma Gestremdheid Sindroom…”

“…aangepas om voordelig benut te word in die spel van rugby!”

“Netso!! Bingfuckingo!”

“Kyk né, in die wedstryd tussen die Cheetahs en die Bulls het die Ingelse kommentator gedurig verwys na een van die Bulls se heelagterste spelers wat so blitsig ekselleryt. Na een so ‘n eksellerysjin wys hulle ‘n nabyskoot van sy gesig op die groot skerm. Toe sien ek twee dinge…”

“Een: daai verwilderde verwondering in sy oë: hy is stomgeslaan, hy het nie ‘n koekin kloe van wat nou gebeur het nie..”

“Netso, en nommer twee, daai oopmond gaap vir wind…”

“Dis mos ‘n kliniese eienskap van…”

“Die Dorsale Derma Gestremdheid Sindroom!”

(Vir die onkundige leser: ook bekend as ‘n kort rugvel)

“Sien jy, as hy sy mond oopmaak, gaan die onderste opening mos toe, want die rugvel, die dorsale derma, is te kort dat altwee openinge gelyktydig oopbly ,”

“En dan bou hy drukking op …’

… wat onderlangs ontsnap as hy sy mond toemaak, so word hy dan as’t ware voortgestu deur die ontsnappende lugstroom…”

“…en siedaar, eksellerysjin soos min! Jet aangedrewe!”

“As die mooi Afrikaans vir ‘jet’ spuitvliegtuig is, kan mens seker sê daai rugbyspeler is spuitpoepaangedrewe!”

“Dink nou net, as jy vyftien rugbyspelers het met die Dorsale Derma Gestremdheid Sindroom—hulle sal die opponenete mos dronk hardloop”

“G’n aanvallende kanale en verdedigingslinies van die teestanders sal werk nie..”

“… want daai vyftien hol kruis en dwars en hier kiep-kiep woerts deur ‘n gaping”

“Goeie plan, ek moet dit vir ou Pieter vertel, ons eer is op die spel”

“Kan egter lol in die skrums. Die agtal sal meer woema hê, maar die arme slotte!”

“Miskien kan mens iets doen om die spuitpoepgedrewenheid te beheer”

“Hulle moet leer om die pinkster te beheer”

“Jy meen sfinkter”

“Sê mos, spinkster”

“Dat so ‘n brein nou moet vrot”

“Dalk nie. Sê nou hy word gereinkarneer”

“Dink jy mens kan terug in tyd gereinkarneer word?”

“Soos terug in die tyd van Mao Tse Tung en die menseslagtings van daai tyd in China?”

“Sjit, net my luck. Ek kan nie ‘n dooie word Chinees praat nie”

“Wee’jy, hulle sê daai kinders is so slim, skaars twee jaar oud of hulle praat al Chinees”

“Ek het nie tyd vir nonsiespraat nie. Ek gaan nou die Dorsale Derma Gestremdheid Sindroom Google. Ek moet vir ou Pieter help.”

 

 

 

 

Oor ‘n ligte mistykie en ‘n stootjie op ‘n Saterdagmiddag.

 

Saterdagmiddag. Die Harleys brul. Die Cheetahs gaan nou opdraf. ‘n Koue kasteel staan op aandag.


Dan.


“Diennggg!” lui die voordeur klokkie.

Fok.

 

Voor die deur staan buurvrou, Klein Bybie, glansend soos ‘n sonstraal in die winter.


Fok waai by die venster uit.

 

“Kom in Klein Bybie, kom in jong! Dis darem te koud daar buite!”

Klein Bybie skud haar kop. Haar hare is blond en blink, in bekoorlike krulletjies en karteltjies. Haar wit jean sit styf, dit lyk of sy daarin gebore is.

“Nee dankie. Lewies. Ek is haastig. Ek het net kom hoor of jy my nie kan stoot nie”

“Stoot?”

“Ja,Nols werk oortyd op die myn. Kan jy my help”

“Help?” piep ek. “Stoot?” probeer ek weer terwyl ek my stem met moeite een oktaaf lig.

“Ja, asseblief” koer sy.

“Ek kom nou” sê ek. “Ek gaan net gou vir Vroukie sê ek is ‘n rukkie uit” My stem is wankelrig. Die klank sukkel hortend by die stuwing in my epiglottis verby.

“Jy is ‘n buurman duisend”

Vroukie is in die kombuis doenig.

“Vroukie, ek is net ‘n rukkie uit”. Lig ek haar met jaende asem in.

“Waarheen gaan jy? Die Cheetahs gaan nou afskop”

“Klein Bybie vra ek moet haar gou kom help met iets. Nols werk oortyd.”

“Oo,” sê Vroukie asof sy begryp. “Jinne Lewies, jy is ‘n buurman duisend, daai soort wat sy broek vir die buuurvrou sal uittrek”

Nou hoe weet sy?

“Moet ek nie kom help nie?”

Fok Vroukie! Ek het nie geweet jy is so kinky nie!

“Nee nee, ek sal regkom”

“Jy moet net oppas vir jou rug”

“My rug?”

“Ja, onthou, laas het jy jou rug seergemaak.”

“My rug?”

“Ja man, kan jy nie meer onthou nie? Jou voet het gegly en toe verloor jy jou balans en maak jou rug seer”

“Maar dit was toe ek die kar gestoot het”

“En nou wat dink jy wil Klein Bybie hê jy moet haar mee help? Toe ek nou in die tuin was het ek gehoor hoe karring sy die battery af toe die kar nie wil start nie.”

 

Ag ja, net ‘n ligte stootjie en toe vat die Corollatjie.

 

Klein Bybie waai vir my toe die kar brul. Haar tande skitter soos haelwolke in die namiddag.

“Dankie Lewies! Jy is ‘n buurman duisend! Jy verdien ‘n stukkie koek!”

 

 

 

Hierie pakkie gaan Kaap toe

Ons twee oudste kleinkinders verjaar hierdie maand-Kara word 8 op  11 Junie en Mia word 6 op 25 Junie. Dus gaan daar ‘n pakkie Kaap toe, Stanford toe, daar in die Overberg. In daai pakkie is vir elkeen ‘n Woollies toppie  (bietjie riskant,  want die twee chickies is nogal kieskeurig in hul kleresmaak), twee boeke , van Vroukie se kant ‘n vrugtestafie, van oupa Lewies tjoklits, paartie maskers, verjaarsdag kersies, neute en hotel badskuim en sepies. Ook vir die twee saam DVDs, Tangled en Liewe Lulu, oorgedub van hul ma se video uit die tagtigerjare.

Vir die ma ‘n tydskrif, ‘n outydse bottel vol tjoklits, ‘n getjipte ennemelbak, ‘n ennemel melkbeker gestop met pesto en olywe, die nuutste uitgawe van die koerant van die dorp waar die pa en ma grootgeword het, en vir die pa (en ma) ‘n klein botteltjie Jakkals en Bolf. 

En natuurlik baie liefde.