Jinne Oupagrootjie!

Ons het vandag by Skoonpa gaan kuier, hy word Dinsdag 90 jaar. Sy jongste agterkleinkind was ook daar.

Jinne Oupagrootjie!! 90 jaar!! Ek is nou eers 90  dae!!

Advertisements

By gebrek aan woorde

…plaas ek fotos van Liam, die tweede manlike nasaat van Lewies

Hier op sy anner oupa se plaas, sy pa en sus Mira in die agtergrond

Kinderarbeid!

Maar ek sê vir sy pa, so teen dertien, veertien jaar verdamp daai begeerte om gras te sny soos mis voor die oggendson.

Ons maak planne om Kaapwaarts te gaan kuier vroeg volgende maand. Reeds is hier ‘n harlaboerla van presentjies koop en pakaas maak, lyk kompleet of ons op die Trek gaan.

Sies Lewies!

Vanoggend gaan ek en Vroukie Fruit and Veg toe. Die mens kan nie van brood alleen lewe nie. Die kassiere is ‘n mooi jong Boeremeisie. Toe dit my beurt is om geholpe te raak val sy met  ‘n bekoorlike gilletjie so half van haar sitplek. “Wat nou? Is jy ok?” vra ek besorg. “Ja Oom, dis net my boks wat gebreek het.” Jinne, wil ek sê, jy kan bly wees jy sit nie op ‘n doos nie, dan was hy nou middelen deur. Maar ek sê dit nie. Ek sê liewer: “Ai, amper ‘n injury on duty” 

Siener op die Sabbat

Vanoggend gaan ek gym toe. Daar sien ek ‘n Angie Motsega figuur wat ‘n staanfiets laat kreun. Die goue lycra broek span soos ‘n markiestent. Ek dink. Nee fok, Ousie, jy gaan nie hond haaraf maak nie.

 

Toe gaan ek Checkers toe. Daar sien ek ‘n vrou met ‘n Blou Bul hempie, kaalarm in die vroegoggendkoue. Sy lyk of sy in die Blou Bul skrum kan sak. Haar drie kindertjies het ook Blou Bul hempies aan. Hulle is wild, wakker en woelig. Die pa het nie ‘n Blou Bul hempie aan nie. Hy lyk ietwat oorbluf en gelate.

 

Ek sien ook ‘n man met olierige hare en ‘n lang baard wat hy gevleg het. The people of Wall Mart have arrived. 

 

Ek sien ook ‘n man met ‘n groot boeppens. Hy het ‘n kort denim broek aan. Hy het ook blou lang kouse aan met Grasshoppers. In die een kous is ‘n silwer kam gesteek.

 

Ek sien ook my buurvrou Klein Bybie daar. Sy is gegiet in ‘n wit langbroek. Sy het  lang wit stewels aan. Haar hare is delikaat gedoen in kunstige kartels. Haar oë is keurig gegrimeer, as sy haar wimpers fladder lyk dit soos Brenton Blue vlinders. Dit laat my dink aan Jo Ann Strauss.   Gedagtig aan haar Corollatjie se pap battery vermy ek haar. Ek is nie nou in ‘n bui vir ‘n gestotery nie.

 

Op pad huis toe speel Mantovani Moon River. Toe ry ek vinniger.

 

‘n Lekker Sondag verder vir elkeen wat hier lees.