Injury on duty: rondte nommer drie

Nou ja, daar is die derde katastrofe nou ontbloot. Gisteraand kom vriende by ons kuier, vanoggend staan die skottelgoed stapelhoog. Hmmm, dag die uwe, hier is ‘n geleentheid om die aandele te laat styg. “Moenie worry nie Vroukie, ek fieks die skottelgoed een, twee, drie.” Ek is mos ‘n boffin met die ding. En wie weet, dalk is daar payback in die vorm van SMS,(of is dit nou SMK?) Gits, dat daai klein maar besondere detail nou moet verlore gaan in die macula van ‘n senior wordende geheue. Terwyl ek nog so ywerig aan Mr Price se wynglas afdroog, breek die glas in my hand. Nog voordat die skerwe op die vloer spat, drup die vet bloeddruppels soos lentereën op die vloer. Nog ek nog Vroukie is behendig met die soort ding, maar op haar aanbeveling ontsmet ek die wond in ‘n sterk Savlon oplossing. Die bloed bly egter vloei en Vroukie sê ” Drup staaldruppels op om die bloeding te stop”.

“Jinne Vroukie, daai goed brand soos vuur op ‘n oop wond!”

“Kan nie erger wees as geboortepyne nie. Ek is al twee keer daardeur. Moenie ‘n sissie wees nie”

Ja maar jy het nog nie ‘n skop in die knaters gehad nie, wil ek sê, maar ek swyg en drup die staaldruppels op. Bliksament!! As geboortepyne erger is as dit is dit ‘n wonder dat die mensdom nog bestaan.

Maar hier sit ek nou, met ‘n pleister op die vinger en lus om ‘n glasie te skink terwyl die lenteson in die weste taan. Glasie? Nottendem! Skink hom in ‘n blikbeker!

Advertisements

Gepox, voorwaar.

Kyk, hierdie gebou waarin ek werk en waaroor my laaste twee blogs gegaan het, is gepox. Doodvirseker. Skaars terug van vakansie by die kinders in die Kaap, nog nie eens tyd gehad om daarvan te vertel nie, stap ek Donderdag lunch tyd na die keffie op die hoek vir ‘n Coke. By my terugkeer sien ek al die personeel voor die hoofingang saamgebondel. “En nou, as julle almal hier staan, wie beman die toonbanke?!” raas ek met soveel gesag as wat ek kan monster. Die stappie en die Coke-borrels in die keel ondersteun nie juis my sammajoor-poging nie. “Ntate! Sir! Meneer! Lewies!” roep hulle in orde van kultuur en rang. “Die plek is aan die brand!!”

 

Ek stik in die Coke en blaas die borreltjies by my neus uit. “Ag kak, man, die plek kan nie brand nie” wil ek sê maar ek handhaaf altyd ‘n ordentlike en selfrespekterende beeld teenoor die personeel wat hoofsaaklik uit dames bestaan. Dus sê ek “Kan nie wees nie! Julle speel seker!” Maar toe ek by die deur van die hoofingang in kyk sien ek net rook. “Waddehel gaan hier aan? Hejullediebrandweergebel!!??? Waar brand dit ?” 

 

Dit blyk toe dat van my kollegas, SAMWU strikers (ja, ek is ‘n munisipale amptenaar) die vullissakke in die bêreput van die gebou aan die brand gesteek. Die verstikkende rook het gou versprei in die gebou in en het soos ‘n cumulus wolk gehang in die area waar ek werk.

 

Nou ja, ons moes toe maar ontruim (weer). Ek het die voordeur vir die res van die dag laat oopstaan sodat die rook kon ontsnap. Vanoggend was dit leefbaar in die gebou, net die hyser het na stroois gestink, en sal seker nog vir ‘n paar dae.

 

Nou wat is die volgende ellende, wonder ek soos ou Farao van ouds toe Moses hom slaan met die tien plae.

‘n Strontstorm trek verby

Na gister se gemors was ek nogal benoud toe ek vanoggend die voordeur daar by die werk oopsluit. Die stank hang nog daar, maar baie verlep teen gister.  Die vertrek waar die storm losgebars het is redelik opgeruim, maar daar sit nog talle verdagte bruin vlekke teen die muur. Gelukkig is daar nie veel meubels in nie, en die wat in die slag gebly het is plastiek stoele en tafels, ook net so een of twee. Die hyser is langs hierdie vetrek, en daar pong dit nog lelik. Ons het twee manlike skoonmakers by die werk, en hoewel die twee bedrewe loodswaaiers is, takel hulle daai vetrek uit eie beweging, so in die stank, darem met neusmaskers. Daniël en Oom John skrop die mure en was die vloer met Jik, hulle was die meubels en die plafonplate wat deurgeloop het. Hulle was ook die hyser behoorlik met hul mix van Jik en Germotol. Ek vergeet skoon van die kere wat ek die vieste in geraak vir die twee, en gee vir hulle elkeen honderd Rand en ‘n belofte van ‘n dag af. Die bron van onheil was daar waar die kak gespat het, en na hul deeglike opruiming daar is die saak so negentig persent beredder. More kom Cleaning Specialists met ‘n spesiale reukverdrywer, hulle sal ook die mat in die aangerensende vetrek was. Daarna hoop ek alles is honkie -dorie.

 

Wat ‘n kakspul!

Daar is geen ander manier om die kakkastrofe te beskryf nie, geen eufemisme wat gepas is nie, kakkaklisme, kakkalêmitie ampers, maar sê kakspul, dan sien jy die ramp voor jou oë, ruik jy daardie stank van gefermenteerde riool wat vrygelaat word. Die gebou waarin ek werk, bestaan uit 4 vlakke, drie daarvan behorende tot die gedeelte waar ek my brood verdien. Ons is nou vanjaar 20 jaar in die gebou, paslik gevier ook nogal, en half trots dat dit so goed behoue gebly het, al is dit ‘n openbare gebou wat prooi is vir die vandalisme en ongeletterde grafitti van kwaaddoeners. Tot vandag toe. Toe tref die popo die fên, goed en behoorlik. Net jammer daai popo is al lankal geëet. Die rioolstelsel van die gebou bestaan uit ‘n struktuur pype wat van bo af by elke toilet aansluit, en dan deur die plafon op ons eerste vloer amper horisontaal loop om aan te sluit by die stelsel van die vloer onder ons. In daardie horisontale gedeelte is daar ‘n inspeksiegat. Erens deur die jare het die pyp aangepak, soos cholestrol in die are, en ‘n blokkasie veroorsaak. Na vele gesukkel om die probleem self op te los het ons ingenieursdepartement ‘n professionele plumber ingekry, daai soort wat sê “Jou kak is my brood en botter.” Maar waar anders moet daar oopgemaak word as juis by daai inspeksiegat, wat binne in ‘n vertrek is wat ons as vergaderingslokaal gebruik. En met al die gekarring in die pype spring daai prop met mening los, en ‘n stroom suiwer riool spuit by die inspeksiegat uit. Emmers vol. En die stank dring die hele gebou binne, elke vertrek, elke kantoor, tot die waar die uwe skuil. Dis nie ‘n stank van riool nie, g’n swaelreuk nie, eerder iets soos bobbejaanmis nadat die ou hom barstens gevreet het aan vrot grondboontjies en so drie dae later die lyf open. Daar was geen ander uitweg as om die gebou te ontruim en te sluit tot more nie, wanneer die loodgieters hopelik klaar sal wees, doeltreffend opgeruim het en die doodse stank verdamp het. Die een troos daarvan is ek dat ek nou by die huis sit en julle hierdie ongure storie vertel.