Alleen, alleen

Af. Mors-af getrap. Hier kort agter die stuitjiebeen, stomp teen die nersderm af. Dis nou my tjank. Vroukie is al pasede Sondag Pretoria toe om in opdrag van haar werkgewer ‘n opleidingskursus daar by te woon.  Ai, is briel om so alleen te wees, geskei van katel en kooi as’t ware. Toe ek nou hoor sy gaan daai kant toe en ek het ‘n verposing aan die kant, wil-wil my verbeelding met my op loop gaan, los hotnot, nou kan ek… Uhmm ja, nou loop ek kop onderstebo soos ‘n brakhond wat jare aan ‘n ketting vas was en nou is die ketting losgemaak.  Ek het nie meer lus om die pelle te nooi vir ‘n uiteet soos wat ek gedink het nie. Dis nie pret om tot laat TV te kyk nie–trouens ek snoes al teen agt uur in. Om tyd te verwyl brou ek kos konkoksies, hoekom so ambisieus as ek alleen is weet nugter. Na twee aande se kerrie-pogings kry ek dit derde aand reg, maar fokkitie fok, nou is kerrie afgesaag! Vanaand sit ek so voor die TV en skielik pop Boer soek ‘n Vrou op die skerm. Nee, demmit, so alleen is ek ook nou nie. Al channel hoppende kom ek op Cincinatti Kid af (ok, moet my nie oor die vingers tik oor te veel of te min enne en tees in die spelling nie). Kyk, ou Steve Mcqueen was ‘n MENEER. Daai fok jou kyk in sy blou oë kon manne laat tuimel en vroue laat swymel. Simpel fliek, eintlik, maar ou Steve en Ann Magret  trek hom aan die nersvelle deur. Toe hop-hop ek en kry Giant, giant … ai tog, daai klein vissies wat mens lewendig opvreet. (hulle doen die vreetwerk) Watter robbish. Toe kyk ek Brian Habana se nege en dertig drieë in die Boktrui. Kyk, hy was goed. Hy het nie al daai drieë op ‘n skinkbord gekry nie, hy moes werk vir hulle. Ek hoop hy het vorm herwin vir more se wedstryd, wat ek eers more-aand sal kan kyk. More-aand? Nee wag Lewies, dan is Vroukie terug, kry jou prioriteite in orde, magtag!

 

En nou gaan ek kiep, selibaat en alleen.

Advertisements