O die pyngedagte

Wrang, o wrang die vrugte van die wingerd, en bitter, ja bitterder as gal die wroeging van spyt en selfverwyt, en beskamend die verleentheid van roekelose oordaad. O! Dat ek my stem verhef het teen Vroukie! ‘n Skandelike smetvlek! O! Wou dat Zeus my eerder bliksem met ‘n skitterskig vanaf Olympus, of dat ek weggeraap word na die droewige Hades van  die weggeraaptes, of dat ek die swart buitenste duisternis ingewerp word, om vir ewig eensaam deur die Ewige te wentel saam met Sojoesj Ses,  eer ek my stem verhef het teen Vroukie!


En toe doen ek wat ek dink ‘n man moet doen as hy in die kak is. Ek sit my beste voet voor. Ek vra hartlik en inniglik ekskuus. Ek maak oggendkoffie en lewer dit af. Ek maak brekfis, weliswaar net muesli en jogurt en melk, maar darem. Ek haal ewe farmaseuties haar vitamiene tablette vir die dag uit, sommer ‘n dubbeldosis, en ook allerhande profilaktiese medikasies. Ek sit ‘n skoon glas met water daar neer vir die drinkslag. Ek maak die bed op, alleen. Ek vou haar pajamas netjies op en bêre dit onder haar kopkussing. Ek sit tandepasta op haar tandeborsel. Ek borsel nie my tande met haar borsel nie. Ek tel die tydskrifte in die toilet op. Ek vee die toiletbak se rand af en laat die deksel sak. Ek haal die leë toiletrolletjie af en sit ‘n nuwe een in. Ek maak die garage se deur oop. Ek sit haar laptop in die kattebak. Ek probeer haar koebaai soen. Die aand skink ek vir haar ‘n glasie van my ses jaar en ‘n maand oue KWV, daai wat ek verlede jaar as 5 jaar oue KWV vir my verjaarsdag gekry het. Met vier stukkies ys en ‘n katspoegie water. Ek weerstaan wyslik die versoeking om vir my ‘n dubbel te gooi.


Sy sit in die woonkamer voor die TV toe ek dit afgee. Sy sit op my plek. Sy swaai die remote soos ‘n septer. ”Bring vir my ‘n stukkie sjokolade, “ sê sy. “Twee blokkies”. Sy kyk vir my. “Tjik Tjik” tjik sy soos daai merrie in die Toyota advertensie. Chopper kyk op van waar hy op die matjie voor die TV lê. Hy trek sy stert, wat gewoonlik soos ‘n Karoo windpomp waai in die noordewind, tussen sy bene in. Sy ore hang soos verlepte pampoenblare in ‘n hittegolf. Hy sluip soos ‘n amoeba by die deur uit. Pamela spring regop, haar ore gespits. Sy kyk my reg in die oë. Ek sweer daar is ‘n smaail op haar brakgesig. Chicks stick together.  “En dan kom sit jy hier by my en kyk TV, “ vervolg Vroukie. “Maar Vroukie, dis dan Pasella. Jy weet ek kan nie daai idiotiese gegrinnik van die aanbieders hanteer nie”


“Ek weet,” sê sy. “Kom sit” Ek gaan sit. Op haar plek. Pamela slaan met ‘n tevrede plof neer. Chopper loer versigteig om die kosyn.


Slapenstyd vra ek, “Vroukie, is jy nog kwaad vir my? Ek weet ek het my soos ‘n otter gedra maar jy kan seker nie altyd vir my kwaad bly nie.”

“Nee Lewies, ek is nie meer vir jou kwaad nie .”

“Nou waarom martel jy my met Pasella?”

“Want ek kan.”

 

Advertisements