Lewies droom van ‘n plekkie by die see

Volgende jaar, op ouderdom iets in die sestig

Gebeur dit hopenlik regtig

Dat ek by die ou hawemuur van Hermanus

Ledig kan sit op my anus

Terwyl die whale crier kraai

En die see-meeue oor die blou see draai

En die walvisse baljaar in Walkerbaai

En die jong meisies hul lywe braai

En die jong manne hulle lustig aai

En ek bestel vir Vroukie, ewe fraai

Gin en tonic, met London Dry

En Ou Lucas sing oor die draadloos “Aai, aai, aai”

Van sy possie op Victoriabaai

En ek stuur al my sorge in hul malle maai.

Advertisements

Lewies die geduldige

Hier trek ons al by Krismisklater en Jingle Bells en ek het nog nie geteef en geteem daaroor nie. Ek is besig om my touch te verloor.

 

Voordat ek myself hier as ‘n krenterige knorpot mag voordoen, vertel ek gou die (lamerige) storie:

Jarre gelede ry die trein van Uitenhage na Grahamstad in ‘n sirkelroete, as jy nie op een van die twee stasies afklim nie, kom jy weer uit by die een waar jy begin het. So sit twee ouens, onbekend aan mekaar en ook onbekend met die weë van treinry, oorkant mekaar in ‘n kompartement. Hulle is maar ongemaklik met mekaar en gesels nie meer as die verpligte ordentlikhede nie.  So mis hulle ook die afklim op Uitenhage en sonder dat hulle weet is hulle weer op pad Grahamstad toe. Dis toe dat die een ou sy mede-passassier so skeef aankyk en temerig sê: “Nou verstaan ek dit nie. Netnou kyk jy vir my en nou kyk ek vir jou.”

Lewies en ‘n vet Griek juig saam

Hallelujah! Bingo!! Eureka!!! (soos daai vet Griek dit toenteryd uitgejubel het). Vandag het ek die amperse onmoontlike, Herkuleiese taak vir die manlike geslag met sukses vervolmaak; ek het ge-multi task!! Ge Mul Ti Task!! Sonder om iets te breek, iets op te fok of lelik te praat. Drie dinge tegelyk. Een: ek maak kos. Niks haute cuisine of cordon blue nie, nie eens uit ‘n boek nie, sommer geurige maalvleis en stampkoring (klink darem beter as mince). Terselfdertyd was ek ‘n merske bondel wasgoed en ek onthou die keer om die super ball in te sit. Onderwyl dit alles aan die gang is was ek die stapel skottelgoed wat deur die week opgegaar het. Waar kom dit alles vandaan? Ek was dan alleen? Kan een mens soveel skottelgoed in so ‘n kort tyd genereer? G’n gebreekte glase en bloed die keer nie.

Nou sit ek met ‘n beskaafde rooietjie in ‘n skitterskoon Sunlight glas en wag op Vroukie. Hier êrens in my reptielbrein begin ‘n vae kommer egter gedaante aanneem, noudat ek hierie eg vroulike vermoë bemesster het, sê nou, sê nou net Vroukie begin wonder of sy dalk Lesbiese neigings begin ontwikkel as ek haar nou groet na die lang afwesigheid?

Hallo Piet

En hier sit die uwe weer stoksielsaligalleen soos Piet Snot. Vroukie is weg. Nee, nee, darem nie as gevolg van die marakkas wat ek in my vorige blog beskryf het nie, maar weer eens in opdrag van haar werkgewer. Die keer na ‘n byeenkoms van formidabele aard in die stat van Taung, te moer en gone hiervandaan, so op die randjie van die rooi Kalahari. Maar moenie worry nie, liewe leser, ek gaan jou nie verveel met ‘n lamentasie van die hartsverlorenheid wat hier heers nie. Selwers voel ek ook nie om my aan droefgeestigheid oor te gee nie en my met sak en as te beklee nie. Herstel, ek voel so maar ek gaan nie toegee aan daardie swartgallige drang nie. Dus bou ek vanaand ‘n kitsvuurtjie en sit so ‘n minuskule stukkie steak op. Daar is darem genoeg om vir die werfhonde Pamela en Chopper elk ‘n anderhalfduimpie af te staan. Daarby kook ek aartappels en ertjies en kerf ‘n tamatie op. So a la deus ex machina diep ek ‘n halfbottel Tall Horse, wat op onverklaarbare wyse die naweek oorleef het, in die kombuiskas op. En wolla! Maar iets kort. Ja dis Vroukie. Hoe kan ek myself geniet as ek weet sy sit daar ver in ‘n verbale bombardement, opvallend eenkant vanweë haar pigment. Ai Vroukie, byt vas jong! Dis alles vir volkkenvaderland!