Revenge of the Chopper Dog

Hier by ons aan huis het ‘n vreemde verskynsel kop uitgesteek. Ek en Vroukie vertoon ewe skielik en so saam-saam rooi knoppies op die lyf wat die jollie jeuk na ‘n ligte irritasie laat lyk. Ons bespiegel die kant en daai toe, en ‘n verklaring waartoe ek kom word algemeen aanvaar: dis van Vroukie se rondslapery. Ek het mos al hier op my blog my allenigheid beween wanneer sy in opdrag van haar betaalmeesters Pretoria toe moet gaan en dan daar moet oornag.Grand hotelle, sy en haar kollegas word nie gesnoep nie. Wat my laat dink: Die gaste in daardie hotelle kom uit alle uithoeke en agterbuurtes van sonnige Suid-Afrika, dis mos logies dat hulle allerhande goggas kan saamkarwei wat dan die hotelbeddegoed en kamers kan besmet. Hulle klim op Vroukie se bagasie en skop nes hier by ons. Gevolglik word Pest Control die volgende dag ingeroep. Hulle verklaring is ietwat anders: dis wel ‘n gogga, maar nie bed bugs soos ek gediagnoseer het nie–die kliniese voorkoms is die van vlooie. Die pesman besluit om die twee honde aan te keer en te ondersoek. Ligte mistykie. Ten eerste laat Pamela haar nie aankeer nie. Sy kies die hasepad en die pesman kan haar nie vang nie. Dus keer hy die meer goedgelowige Chopper aan. Toe hy Chopper se agterbene oopflêr en hier in sy private krap op soek na vlooie, los ou Chopper ‘n benoude straal hondepie so geel soos Fanta Orange hier oor die ou se hemp en broek.  Ou Chopper word baie vinnig neergesit en die pesman verklaar terwyl hy die piedruppels vies van sy hande afskud “Fokkit! Nee, hy is skoon Oom. Fok!

Nee Oom, hy het nie vlooie nie. Fok!”

34 thoughts on “Revenge of the Chopper Dog”

  1. Hoop vir julle part dis nie dieselfde bliks.. wat in Augustus net voor my in die Letaba kamp se chalet se bed geslaap het nie! Wat in ‘n 2 maande lange nagmerrie ontaard het.

  2. Die verskil tussen die knoppe en muskietbyte is dat dit heluit jeuk en nie weggaan nie, sommige daarvan is nou al ‘n week lank aktief.

  3. hehehe… sies hoekom vertel jy nie vir die stomme man die honde is skoon nie? Kry Mylocord salf by apteek werk uitstekend

  4. By ons het jolliejeuk so wraggieswaar ook sy intrek geneem. Hier was dit egter galbulte gewees en dit was nie ekke nie. 🙂

  5. Ons het ook eenkeer so aan’t jeuke gegaan….na vele ondersoek is dit toe al die tyd spreeus wat in die dak nesgemaak het. Spreeuluise klim net van ‘n spreeu af as hy dooi. Dooie spreeu gevind en huis gefumigate. Hulle is so groot soos ‘n speld se prik.

  6. Vlooie … meng boraks met sout en besprinkel jou hele huis daarmee, matte, donker hoeke ens. Bad vierpoot met sunlight liquid. Laat die skuim so om hulle bol. Bolle en bolle skuim en laat hulle maar so rukkie rondhardloop, doen weer en weer. Wag twee dae en herhaal. Voilla, dit het my laaste vlooi plaag verpletter.

  7. Ek sal die boraks en sout probeer. Chopper kan gebad word, maar Pamela kry wilde bevliegings. Ek moet maar die gif op die rug ding doen.

  8. Wou nog se dat indien dit vlooie is kan jy gerus die volgende probeer. By die veearts of as julle ‘n Dischem is kry jy pilletjies met die naam van Cap Star. Die vlooie val letterlik binne ‘n uur af dood. Dan gee ek so al om die anderdag weer vir hulle om die vlooi se siklus te breek en siedaar sonder dips en poeier en pesmanne is jy ontslae van die vlooie.

Leave a reply to pasella Cancel reply