‘n Nuwe jaar met nuwe dinge.

Vaarwel 2011, ‘n jaar van min hoogte- en laagtepunte, ‘n jaar stil soos kalm see wat gekom en gegaan het soos ‘n skadudroom.

 

Ek sien uit na 2012 met afwagting en ‘n tikke benoudheid. Dis die jaar waarin ek en Vroukie twee van die belangrikste besluite in ons lewens gaan uitvoer: ten eerste gaan ons na lang jare se werk uittree, so twee jaar voor verpligte pensioen. Ons het die kat mooi uit die boom gekyk en besluit êrens moet mens besin dat jy nou genoeg vergader het om in blote bestaansvereistes te voorsien, maar dat die lewe ook meer inhou as om net te bestaan en dat lewenskwaliteit ook belangrik is. Tweedens gaan ons sak en pak Hermanus toe verhuis, om nader aan ons kinders en kleinkinders te wees en ook om as’t ware ‘n tweede lewe daar te begin. Ons het reeds ‘n baie beskeie huis daar gekoop en sien met opwinding uit na die regmaak en opknap van die huis en die beplanning  en herontwerp van die tuin. Die plekkie is binne loopafstand van die see en die middedorp, en ons droom van see toe stap en rondslenter in die dorp, om nuwe plekke te ontdek, rond te ry in die Overberg, off the beaten track, en natuurlik om meer te sien van die kinders en die kleintjies. Die gedagte aan oppak en trek, om hierdie huis met 34 jaar se baie lief en min leed te verlaat, goeie vriende agter te laat, dis nou waar die benoudheid inkom. Mense sê jy moenie uit jou ondersteuningsnetwerk padgee nie, hier ter plaatse is myne beperk tot die vrou by Neserhof Drankwinkel wat bereid is om my ses biere op skuld te gee as my beursie by die huis vergeet is.

 

Aan almal wat hier lees, en ook aan die wat nie hier lees nie–voorspeod in 2012! Hêppie-hêppie! Ek klink vanaand so te midde van klappergeknal, hoeters en skreeuende taaiers ‘n glasie op al my blogvriende.

33 thoughts on “‘n Nuwe jaar met nuwe dinge.”

  1. Dis beslis ‘n gewigtige besluit, LewiesMaar daar is mos ‘n tyd om te kom en een om te gaan. Ek dink julle gaan so gelukkig wees op Hermanus…ten spyte van al die onthou wat julle gaan agterlaat.Ek sal vanaand my cheers op julle toekoms klink.

  2. Sterkte… mag die besluite minder moeilik wees as wat jy voorsien.*fluister* Ek het nooit in my heel wildste drome kon dink dis so ongelooflik lekker om afgetree te wees nie. Ek mis niks… nie eers die kinders of die mense nie. Probeer dit jy sal sien.

  3. Jy kan nie ‘n fout maak om jou droom te laat waar word nie. En ek is seker daar gaan ook ‘n plekkie wees waar jy ses biere op skuld kan kry. Hier op die plaas poep nie eers ‘n koei met middernag nie. So ons doen dit heel rustig vanaand. Ons sal ook ‘n glasie klink… mooi gaan …

  4. Dankie Bruggie. Ek is ‘n stoere Vrystater en sal seker altyd een wees, maar die Kaap lê my baie naby aan die hart, ek sal gelukkig kan wees daar.

  5. Ai Ludwig, ek wens ons kon vanaand die stilte geniet, maar ek is bevrees hierdie myndorp ontplof as die donkerte toeslaan.

  6. 2012 is voorwaar jaar van groot omwenteling vir julle. alle voorspoed en seën daarmeevolgende jaar is ons weer terug op onse pos in die Kaap – gaan julle kom beloer.

  7. Klink wonderlik. Ek en Wyseman praat nou die dag so, as ons die dag aftree is daar ‘n vereiste; daar moet vinnige goedkoop internet wees.

  8. Wat ‘n lekker vooruitsig! Geniet die beplanning en mag die werklikheid nog lekekrder as die drome en beplanning wees! Ek beny jou!

  9. Ai Lewies dit is goeie nuus en dink net dan hoef jy nie weer die oggend se voor werk-aktiwiteite af te rammel nie :)xR

Leave a reply to pasella Cancel reply