Finis

Gister was dit die gedenkdiens van Pa Felix, daar in die droewige Kroonstad. Ons was maar ‘n handjievol mense, skaars twee kerkbanke vol. Toe AVBOB se wit lykswa stadig in die straat afry was dit verby, die einde van ‘n leeftyd. Finis. Hoewel ons vrede en rustigheid het met sy afsterwe, was daar tog hartseer, maar geen angels nie. 

Dankie aan al die bloggers wat kommentaar gelewer het op my vorige pos, dankie vir jul medelye en woorde van bemoediging. Ek en Vroukie waardeer dit baie. Medelye beteken inderdaad om saam te voel, en dit maak die las ligter. Vreemd hoe daar so ‘n omgee en ondersteuning kan ontwikkel tussen mense wat mekaar net ken op grond van gesiglose verskynings hier op die blogs. 

Dit is ook eie aan die mens om comic relief te soek in beproewing–so vertel Skoonpa se eertydse buurman van die raad wat Oom Felix hom gegee het om van miere ontslae te raak–jy sit net ‘n vetterige been hier by die agterdeur. Gou-gou sak die miere dan daarop toe. Elke dan en wan skop jy die been so ‘n entjie straat toe, en sommer gou is die miere uit jou jaart en pla hulle nie meer nie!

26 thoughts on “Finis”

  1. Ai en is Kroonstad nie droewig nie? Jammer vir julle verlies, Lewies. Uit watter kerk was die begrafnis?

  2. Jammer vir julle verlies… *drukkie*Sug… ek sal die sommer met ‘n been in elke kamer moet begin…

  3. Nie besef julle gaan deur so ‘n hartseer tyd nie. Bly om te lees daar is geen angels nie..! En watter goeie raad is dit nie? Dit maak sommer sin…Sterkte Lewies. Vir jou en vir Vroutjie. Dis die mooi memories wat ons troos.

  4. Nee, Ouboet, daai takie is goed verrig deur Swaerkie. Hy sê dis die laaste keer, ek dog hy sou dit eendag vir my doen, nou lyk dit my ek sal dit maar self moet doen!

  5. Hi Murhpy! Nice om jou weer te sien! Die diens was uit Kroonheuwel NG, die gemeente waarvan hy en sy gesin jare lank lidmate was. Ek en Vroukie is ook uit daardie kerk getroud.

  6. Ek en ‘n groot pel het een aand ‘n deal gemaak. Ons gaan praat op mekaar se begrafnis. Ons was toe effens af van skaam af en het nie toe besef daar gaan net een speech wees nie.

  7. Einde van ‘n era, so word die bande wat mens met die verlede bind al hoe minder. Nou die dag toe ons my pa se 90e gevier het, toe dink ek dis eintlik sy lewende begrafnis, want dit was ‘n familiereunie en lekker fees. By sy begrafnis eendag, sal daar seker ook net ‘n paar banke vol wees, want al sy pelle en tydgenote is al vooruit.

  8. Nou lê net die onthou-dae voor..elke kersfees en verjaarsdag, ens. Na so 3 jaar vervaag dit en gaan daar sulke dae om wat mens nie eers meer aan dink nie. Dink aan julle..

  9. So was dit met Pa Felix ook–almal oorleef, en die wat nog in die lewe is ver weg, nie net in afstand nie maar ook in verstand.

Leave a reply to louisna Cancel reply