Gister besluit ek om vir Vroukie ook ‘n ryding aan te skaf as ons nou daar in Hermanus bly. Dan kan sy ook vrylik rondbeweeg as ek maters maak in die Hermanuspietersfontein Country Club. Toe kom ek op hierdie vonds af:

Petrus Mothibi, algemene nutsman, bouer, verwer, plaveier, skropwerker, het die fiets oor jare faktap getrap. Nou gaan hy roes in vrede in ons tuin daar in Hernmanus.
Vanoggend toe ek myselwers wakker hoes, val dit my op dat iets anders is–ek hoes nie meer fluitend soos ‘n jakkals in die laatnag nie, nee, dis nou ‘n produktiewe hoes, klink soos ‘n lewwetrie wat getrek word.
Die Nederlanders praat van een ziekenhuis as hulle nou hospitaal bedoel, en hier by die Lewieshuis is dit inderdaad so. My tante aan moederskant is tans hier by ons, herstellende na ‘n karpale tonnelsindroomloslating. Al die inwoners hier ter plaatse is dus slagoffer van een of ander skeet. Maar nou het ons darem iets om oor te gesels, behalwe die weer.
‘n Groot probleem wat ek en Vroukie ondervind as bronchitis – slagoffers is een van kommunikasie, met die dat die resonansieholtes geblokkeer is deur stuwing en slym. Vanoggend gaan sy vir siekteterapie, nee, nie perkussie deur ‘n fisioterapeut om die slym in die longe los te maak nie, maar daardie ou-ou toevlug van ‘n vrou: sy gaan haar hare “laat doen”. Toe sy ry sê sy: “As ek terugkom, drink ons ‘n bier by Checkers”. Rein gedagte, dink ek, maar bier drink by Checkers? Dis nou nie van die dienste wat hulle aanbied nie. “Bier drink by Checkers?” doen ek dus ietwat verbaas navraag. Met ‘n ligte, maar tog waarneembare, ge-irriteerdheid sê sy “Ek sê, as ek terugkom, moet ons jou bloeddruk check” Ai tog. As die misverstande voortduur, sal ek Vroukie se bloeddruk ook moet check.
Hoop julle beleef ‘n aangename naweek. Hier is ‘n stofwind besig om op te staan, maar dis lekker warm, regte weer vir braaivleis en rugby.