Man in die spieƫl

Vanoggend skeertyd

“Wie is jy? vra ek die man in die spieël.

“Ek is Lewies”

“Aikona, jy maak ‘n fout, ek is Lewies”

“Wat laat jou so dink?”

“Wel”  antwoord ek, “ten eerste het ek nie so ‘n moerse bles nie. Ten tweede is my vel nie so beplooi nie. Ten derde is my snor nie so grys nie”

“Hoe oud is jy?” vra die man in die spieël.

“Ek is vandag presies twee en sestig jaar, elf maande en dertig dae oud.”

“Met ander woorde jy is more drie en sestig”

“Netso”

“Nou wat verwag jy Lewies?”

Tja, so spoed die lewe verby teen sestig minute per uur

Advertisements

My stuiwer oor Morne Steyn

Hoe verganklik en verraderlik is roem en heldeverering nie! Enkele jare gelede toe Morne Steyn die Bokke uit die kak uitgeskop het en die kak uit die Engelse, juig die koerante :”Morne jou beaut!” Toe dit blyk dat hy ook menslik is en sy speilpeil ‘n afwenteling toon, verander die kreet “Gee Morne die boot!” Gisteraand se nuus op Kyknet het egter tot die slymerigste dieptes van smetterige snotjoernalistiek gedaal toe hulle die hekke oopmaak en die hondsdol brakke op Morne sit. Ja nee, dis ‘n free for all waar elkeen sy oomblik op TV uitbuit om Morne sleg te sê, elke Amalekiet en transvestiet spoel sy bitterbek uit. Dis die drekkige droessem van powervrot TV sportjoernalistiek op sy beste, in HD beeld. Mog die bekrompe siel wat dit uitgedink in sy eie walgspuug (dankie Pruim!) stik.

 

Hoeveel van Morne se swak spel is nie te wyte aan sy afrigter, die heimlike Meyer nie. Dis tog hy wat die spelpatroon bepaal: “Staan diep en skop die bal moer toe” As hy nou sien die plan werk nie, het hy mos rustyd tot sy beskikking om te sê “Staan vlakker en laat die bal loop. Die voorspelers kan die game verder opfok”

 

En nou moet Johan Goosen daai kastaiingrige bal uit die vuur krap. Wat gaan Meyer heimlik in sy oor fluister? “Speel jou normale game ” of “Staan diep en skop die bal moer toe?”

 

 

 

 

 

Die onsekerheid hier op die blogs oor wat met ons gaan gebeur met die groot trek wat op hande is, laat my dink aan ‘n politieke vergandering daar uit die veertigs. Dit speel af in Tweeling se dorpsaal waar die mense op sulke houtstoele sit. Daar is so ‘n verwyfderige jong man wat kort-kort opspring as die toespraak driftig raak, dan skreeu hy” Maar wie sal ons beskerm?” Agter hom sit ‘n fris antie van die plaas af, daai soort wat ‘n mudsak mielies vrou-alleen op die wa gooi. Toe hy weer opspring, gryp sy hom aan die kraag en pluk hom neer en sê: :”Sit stront, ek sal  jou beskerm!” Hoop daar is iemand wat ons sal beskerm!