Seun se Kersfees (Moenie lees as die gebruik van die manlike p-woord jou ontstel nie, maar daarsonder was die storie nie ‘n storie nie)

Seun is een van die engele wat op my voorstoep nesgeskop het.  So met Kersfees om die draai voel ek ‘n Bybelse welwillendheid om iets vir hom en sy gesin te doen wat die dag vir hom spesiaal sal maak. Dit sal nie veel kos nie, want sy lewe is uitsigloos, ‘n daaglikse geraap en geskraap om te oorleef.

“Seun”

“Ja Oubaas?”

“Hoeveel kinders het jy?”

“Twee, Oubaas”

“Seuns of dogters?”

“Seuntjies, Oubaas”

“Hoe oud is hulle?”

“Die een hy loop skool hierie jaar, die ander een next year” Hy beduie met sy hand asof hy water skep soos ‘n loteling van die Gideonsbende wat nie keuring geslaag het nie.

“Ok, Seun, ek sal vir hulle klere koop vir Krismis”

“Oubaas, dankie Oubaas!”

Toe maak ek so. Nogal verbaas oor die oulike kleinseuntjieklere by Pep en die billike pryse. Vroukie help soek, 5 tot 6 jaar en 6 tot 7 jaar. Vir elkeen ‘n bal en ‘n groot pak swiets.

Die Saterdag voor Kersfees is Seun baie ingenome en in sy skik met die uwe se pogings.

“Oubaas, dankie Oubaas! ” totdat ek verleë begin voel.

Dis nou ‘n hele pakkaas goed wat hy moet huis toe karwei en ek besluit om hom met die kar te vat. Terwyl ons deur die township se stowwerige dongas ry bekla Seun sy lot as ek en Vroukie die pad gevat het Hermanus toe. Wie gaan hom help met skoolklere vir die dogtertjie wat next year skool toe gaan?

“Van watter dogtertjie praat jy nou Seun? Jy het dan vir my gesë jy het twee seuntjies?. ”

“Oubaas, ek hoor die witmense sê  “seun en dogter” as hulle twee kinders het, die oudste een is “seun” en die kleintjie is “dogter”

Op hierdie stadium is heeltemal gediskonfokuleer. Ek het so pas ‘n lot geld spandeer op Krismisklere vir seuntjies, nou is daar ‘n dogtertjie watr niks gaan kry nie. Verstaan ek reg?

“So wat is dit nou?”

“Is die seuntjies Oubaas”

Nou verstaan ek glad nie.

“Seun, het hulle die polo of nie?’

“Die polo Oubaas?”

“Ja man, die polo, die piel. Het hulle die piel of nie?”

“Oubaas, die oudste een sy het die piel, die kleintjie hy het nie die piel nie.”

“So die een is ‘n seuntjie en die ander ‘n dogtertjie?”

“Eêêêh, Oubaas, ek sê mos so!”

Eish,

 

Advertisements

HNP oomblik

Hierdie storie begin op 1 Februarie 1972, toe die uwe, gewapen met graadsertifikaat nog nat van die ink, die onbekende arbeidsveld betree. Vandag, sommer netnou, plaas ek die finale punt aan die einde van daai storie. Van toe af geswoeg en gesweet om my brood te verdien, soms met lekkerte en soms met ‘n gevoel van eindelose hunkering na pensioen, veral post ’94 in die munisipale bestel waarin ek gewerk het. En nou, asof met ‘n abrakadabra-swaai van ‘n towerlap, is die oomblik hier–ek het so pas uit my kantoor van die afgelope 22 jaar gestap en met ‘n finale klik die lig afgesit. Net so, bingo bongo dis donker in die Kongo. Die kollegas gegroet wat aan diens was, three step handshakes en hugs, my gesig in die krullerige kartels van  Krismiskapsels, beloftes van ons sal Whats-up, hier en daar ‘n deinserigheid in die oog, Fifi wat slurpend snuif. Lewies, Meneer, Ntate, ons sal jou mis. En ek vir julle, ten spyte van die téte a téte oomblikke, die nie-opdaag by die werk , die verwagting dat ek a la Agony Aunt huislike en finansiële probleme sal oplos (en die vaste geloof dat laasgenoemde sal geskied met ‘n kitslening gefinansier deur Ntate Lewies.)  Ja ten spyte van dit alles, want die smiles as ek soggens groet, die plesierige luiddrugtigheid aan die teetafel wat slegs  Ntate se “Ke nako!” kreet kon demp, die eer om Ntate genoem te word,dit sal my bybly.

Hamba kahle, Emeritus!

Nog mensionaris

Liewe lesers, nog twee dae se aanmeld by die instelling waar ek die sweet van my aanskyn om den brode verkwansel, dan transformeer ek van mensionaris na pensioenaris. Maar met daai betiteling is ek selfs na veertig jaar in die tuig nie gediend nie–dus sal ek myselwers in die sosiale en finansiële handel en wandel as Emeritus, met die klem op die tweede lettergreep, let wel, a la die voorbeeld van ‘n ander pasgeworde pensionaris, naamlik die Koning van Afrikaanse Uitspraak, die einste, die enigste, die nimlike, of jy hom laaik of nie (hier volg ‘n  dawerende dromrol en ‘n uitspattige trompetgeskal): Riaaaaan Cruywagen!!!! bekendstel (Bliksis, hier skort grammatikale geometrie!–Sal as Emeritus genoeg tyd hê om die sin te analiseer, korrigeer en herpresenteer).

Deel van my onverdrote argwaan teen die roekelose gebruik van “pensionaris” spruit uit die volgende vignette wat hom afspeel in Roosheuwel Slaghuis hier in Klerksdorp, waar die Christelike slagter  al amper die ganse psalm 119 versie vir versie op ‘n uitstalbord in die slaghuis in kreatiewe dog haas leesbare kalligrafie geskryf het. Om sy belydenis van sy  Christelike oortuiging uit te leef bied hy aan pensionarisse afslag: R2 vir elke kilo vleis wat jy koop. (Ek het al vertel hoe hierdie gulhartigheid my eenkeer onthuts het, toe was die afslag slegs R1 per kilo maar is nou met 100% aangepas.) So staan ek en Vroukie voor die glastoonbank met die waarskuwing, die keer nie kalligrafies aangebied nie, dat mens nie eens moet dink om skuld te vra nie, want as jy nie betaal nie is daar kwaai vriendskap met die slagter. Ons mik so tussen die speserybottels wat op die toonbank uitgestal om die assistent te sien en ons bestelling te plaas. Vra sy weer, soos daai keer waarvan ek hierbo melding gemaak het, of ek ‘n pensionaris is en dus geregtig op die karmenaadjie-afslag. Nee, bely ek ewe eerlik, maar ek is op die punt om een te word. Waarop sy toe luid aan haar kollegas oordra, en aan al aan die ander klante binne ‘n benoude hoorafstand, “Julle, die oom is ‘n pensionaris, maar die antie lyk nog oukei.” Slaat my met ‘n nat T bone steak. Net daar besluit ek dat hierdie geriatriese term my nie aanstaan nie, emeritus sal dit wees.

Vroukie het gister haar laaste dag by die werk beleef aangesien daai instelling gesluit het tot na Nuwe Jaar. Nou loop sy hier in die huis rond, met ‘n glas wyn in die hand op onbehoorlike ure, terwyl sy allerhande vryheidsliedere sing: Born free, Free my heart, Heft burghers lied der vrijheid aan, Wil jy vry Kariena en diesulkes.

Een van die dae is ek Liberlewies!!

Op meer sober noot, ek en Vroukie gaan Kersfees in Bethlehem vier, nee, nie daai een onder die ster nie, die ander een langs die Jordaanrivier, aan huis van haar suster en die se famile. Dus bid ek al die bloggers ‘n geseënde Kerstyd en vrede, ja vrede, vir die nuwe jaar,

 

 

Die teerling is gewerp, die koeël is deur die kerk, die Rubicon is oorgesteek.

Ek het nou al ‘n paar keer vertel van my en Vroukie se voorneme om trans-Hex te emigreer en hoedat ons ‘n huis in Hermanus bekom het. Die nuutste verwikkelinge in die sage is dat ons huis hier in Klerksdorp verkoop is, wat volgens vriende en kollegas nogal gou gebeur het in hierdie tyd waar die eiensdommark pap is, soos die agente sê. Net nog ‘n aanduidding vir ons dat ons die regte besluit geneem het. Ons moes weliswaar R40 000, 00 in prys afkom, maar dis ‘n opoffering wat ons bereid is om te maak. Intussen het ek en Vroukie ons bedankings ingedien en my personeel het ‘n verbysterende afskeid vir my gereël. Ek was opreg aan die hart gegryp dat die klomp vir wie ek al om die hawerklap my moer gestrip het soveel moeite gedoen het om die geleentheid spesiaal en besonders te maak. Vroukie is ook genooi en het ‘n yslike bos blomme gekry.  Maar ek sal die klomp mis–hulle het my altyd met respek behandel en my in opregtheid “Ntate” genoem. Aan die einde van hierdie maand , op die 31 ste dag van die Desember in die jaar des  Onse Heere 2012, lê ek die tuig amptelik neer.My kantoor is so te sê gestrip van 34 jaar se opgegaarde dokumente, boeke, dagboeke van vorige jare (Hoekom opgegaar? Nee fok, die uwe weet ook nie!) en allerhande ander parafernalia. ‘n Paar laaste joppies wag nog om gedoen te word, en dan is dit Koebaai Meraai.  Intussen is ons hier by die huis aan die sorteer en uitgooi, die groot pakkery word in Januarie beplan, met moontlike trekdatum 21 Januarie. Praat van gemengde gevoelens om die huis en haard van 34 jaar te verlaat, maar die vooruitsig om as’t ware ‘n nuwe lewe in Hermanus te begin weeg baie sterker.