Die teerling is gewerp, die koeël is deur die kerk, die Rubicon is oorgesteek.

Ek het nou al ‘n paar keer vertel van my en Vroukie se voorneme om trans-Hex te emigreer en hoedat ons ‘n huis in Hermanus bekom het. Die nuutste verwikkelinge in die sage is dat ons huis hier in Klerksdorp verkoop is, wat volgens vriende en kollegas nogal gou gebeur het in hierdie tyd waar die eiensdommark pap is, soos die agente sê. Net nog ‘n aanduidding vir ons dat ons die regte besluit geneem het. Ons moes weliswaar R40 000, 00 in prys afkom, maar dis ‘n opoffering wat ons bereid is om te maak. Intussen het ek en Vroukie ons bedankings ingedien en my personeel het ‘n verbysterende afskeid vir my gereël. Ek was opreg aan die hart gegryp dat die klomp vir wie ek al om die hawerklap my moer gestrip het soveel moeite gedoen het om die geleentheid spesiaal en besonders te maak. Vroukie is ook genooi en het ‘n yslike bos blomme gekry.  Maar ek sal die klomp mis–hulle het my altyd met respek behandel en my in opregtheid “Ntate” genoem. Aan die einde van hierdie maand , op die 31 ste dag van die Desember in die jaar des  Onse Heere 2012, lê ek die tuig amptelik neer.My kantoor is so te sê gestrip van 34 jaar se opgegaarde dokumente, boeke, dagboeke van vorige jare (Hoekom opgegaar? Nee fok, die uwe weet ook nie!) en allerhande ander parafernalia. ‘n Paar laaste joppies wag nog om gedoen te word, en dan is dit Koebaai Meraai.  Intussen is ons hier by die huis aan die sorteer en uitgooi, die groot pakkery word in Januarie beplan, met moontlike trekdatum 21 Januarie. Praat van gemengde gevoelens om die huis en haard van 34 jaar te verlaat, maar die vooruitsig om as’t ware ‘n nuwe lewe in Hermanus te begin weeg baie sterker.

17 thoughts on “Die teerling is gewerp, die koeël is deur die kerk, die Rubicon is oorgesteek.”

  1. Baie sterkte met die verhuising! Dit is nogals ‘n proses om van jare se opgaar ontslae te raak! dan wonder ‘n mens altyd hoekom het jy so opgegaar. Aan die ander kant, as jy te maklik weggooi, kry jy dikwels kort daarna daai einste weggooi ding nodig. Welkom solank in die Wes-kaap.

  2. Mmmmm dis darem nou blitsig. Sterkte. Jy moet weet as mens aftree begin die werklike lewe eers… dis salig!
    Geniet dit Sorg tog net vir ‘n internetverbindinkie dat ons kan verneem hoe dit met julle gaan

  3. Wonderlike nuwe era wat voorlê. Dis nogal ‘n skok vir mens se sisteem en ek hoop julle gaan dit verskriklik geniet en gou aanpas.

  4. Welkom aan hierie kant van die rivier, ek sal moet oorry en julle touwys maak maar die eerste ding wat jy moet uitpak is ‘n legkaart, dit gee jou kans om te herorienteer.

  5. Lewies, dis n moeilike ding om te doen, maar jy weet dit ook al. Die Trekkery en om vaarwel te roep aan 34 jaar. Ek hoop van harte jy sal Hermanus geniet. Ek kan kom kuier as jy daar is

  6. Ons roei in dieselfde bootjie. Die gedagte dat die spul dankbaar is om van my ontslae te raak, wil-wil by my opkom. Soveel van drama en groot geskenk het ek nie verwag nie!
    Gemengde gevoelens is ok – dit settle mettertyd,

  7. Ons het al meer as 1X getrek. elke keer gooi ek GOED weg aan al die opgaarsels en as ek my oë uitvee is daar weer net so baie

  8. @pasella

    Lewies dit kan net lekker wees…om afte tree en die voet van die petrol af te haal..

    Sterkte met al die laaste paar goed en reelings

Leave a reply to rosiemetdorings Cancel reply