So is die lewe in Hermanus

Ek was bitter lank laas op die blogs bedrywig, ek sou nooit kon glo dat  die intrekkery in ‘n nuwe huis mens so besig kan hou nie. Hier is gedurig een of ander gewerskaf aan die gang. Op die oomblik is ons besig om die tuinmuur te herstel en hoër te maak sodat die die twee honde, Pamela en Chopper vrylik in die hele erf kan beweeg. Van stap met die honde is daar nie sprake nie, Pamela het as ‘n uiters getraumatiseerde hond by ons aangekom, omtrent vyf, ses jaar gelede, en ten spyte van herhaalde pogings kon ek haar nooit aan ‘n leiband gewoond maak nie. Ek het ‘n paar keer met die twee in die parkie oorkant ons huis gaan stap sonder leibande, maar die laaste keer kies Pamela al snuffelend koers na Main Road met sy hewige verkeer, horende doof. Op die nippertjie, op die randsteen van Main Road, draai sy terug. Toe besluit ek nooit weer nie, dan maar liewer beperk tot die erf.

Ons bure aan beide kante het baie moeite gedoen om ons te laat tuis voel. Hulle is ook afgetredenes en woon al lank in Hermanus. Die een klomp het ons saamgenooi na die Hermanus Afrikaanse Kultuur en Ontspanningsklub, waar Wilna Snyman oor haar lewe gesels het. By die geleenteheid is daar ‘n beroep op die jonger garde gedoen om by die vereniging aan te sluit, “mens van so sestig jaar “! By daardie byeenkoms word ons voorgestel aan ‘n klomp mense, almal afgetree, die een was ‘n proffie, daai een hoog op in die Reserwebank, die een dit en daai een dat. Voorwaar ‘n uitgelese klomp mense.

Die tuinmakery lol, die tuin het vir ongeveer twee jaar braak gelê. Ons begin stadigaan leer van die verskillende plante wat hier aard. Nou dat die tuin nategelei word peul daar allerhande lelies uit. Hoewel tuinmaak nie ‘n dringende prioriteit is nie, wil ons darem ‘n area hê waar ons buite kan ontspan.

Gaandeweg kom alles bymekaar, en word ons huis al hoe meer ‘n haard. Tussen al die gewoel deur maak ons tyd om natuurskoonh van die omgewing te geniet en om al die lekker kuierplekkies te ontdek. Vroukie het ‘n stresfaktuur in een voet opgedoen wat verhinder dat ons lank en ver kan stap soos wat ons van gedroom het. Dis ‘n hardnekkige besering wat nie wil bes gee nie, ondanks fisioterapie en twee besoeke aan’n ortopeed. Hulle skryf rus voor, maar hoe rus mens nou ‘n voet as daar so baie dinge is wat gedoen moet word?

 

 

Advertisements