Lewies diy nog ‘n keer

“Lewies!”

“Ja Vroukie, wassit?”
“Het jy dit gesien?”

“Nee Vroukie, wassit?”

“Kom kyk bietjie hier in die gang”

Lewies stap met beswaarde tred die gang af. Hy het ‘n spesmaas, en sy spesmase is gewoonlik in die kol.

“Wassit Vroukie? “

“Kyk daar” Vroukie beduie na die plafon. Lewies kyk en getrou aan sy spesmaas sien hy dit: ‘n vlekkerigheid op die plafon, so asof daar water gelek het. Hy oorweeg dit om te sê “Nee Vroukie, ek sien niks nie” maar hy besef dat dit hom mag blootstel aan ‘n ongewenste respons van Vroukie.

Dus erken hy dat hy inderdaad ‘n watervlek op die plafon gewaar. “…maar dis darem nie erg nie, ek dink met verloop van tyd sal dit verflou en verdwyn” merk hy hoopvol op.

“Ag, strooi, Lewies, hoe kan die vlek vanself verdwyn!” (Sy sê nie “Strooi” nie, maar gebruik ‘n ander woord wat onteenseglik bewys dat sy nie geloof het in Lewies se hoopvolle opmerking dat die vlek vanself sal verdwyn nie. ) “Jy sal die plafon moet verf om dit weer netjies te kry”

Lewies besef dat daar geen uitkomkans is nie, die plafon sal geverf moet word. Hy wonder egter stilweg hoekom Vroukie so obsessief – kompulsief oor ‘n watervlek op die plafon kan wees, is daar nie dalk ‘n pil daarvoor nie?

Lewies stap garage toe en neem bestek van die verfvoorraad en toebehore. Daar is ‘n verskeidenheid verfblikke in al die kleure van die reënboog en in al die skakerings daarvan. Hy soek en soek en kom dan op ‘n blik af met’n etiket wat aandui dat die spesifieke verf die ware Jakob is vir plafonne. Hy vat ‘n skroewedraaier en begin om die deksel los te maak. Dis nie ‘n maklike prosedure nie en ontlok verskeie onkiese woorde, veral toe die skroewedraaier glip en ‘n lang bloederige haal oor Lewies se linkervoorarm  raps.  Uiteindelik is die deksel af. Lewies roer die verf in die blik maar besef dadelik dat dit onbruikbaar geword het. Maar gelukkig is Hermanus Hardware net om die draai en daar koop Lewies ‘n blikkie verf met ‘n etiket wat beloof dat verf “Hide all” is, net die ding.

Terug by die huis bedek hy die vloer met koerantpapier en maak die leer staan.  Hy gaan garage toe om ‘n verfpan en roller te kry, maar die enigste roller is kliphard. Gelukkig is Hermanus Hardware net om die draai en gelukkig het hulle ‘n verskeidenheid rollers om van te kies.

 By die huis aangekom roep Vroukie Lewies vir tee. Hy dink vlugtig daaraan dat ‘n bier baie beter sou afgaan maar besef dat tien uur in die oggend dalk nie ‘n betaamlike tyd is om hom aan die drank oor te gee nie. Toe hy die beker tee by Vroukie vat, bemerk hy iets vreemds aan haar gesig. Dit lyk asof sy oornag ‘n snor gekweek het. Hoe meer hy daarna kyk, hoe onverklaarbaarder word die verskynsel. So oor die beker tee sê sy: “Ek het begin om die dreskas te verf. Ek sit eers ‘n donker onderlaag op, dan ‘n ligter laag. Dan gaan ek dit skuur om die kas ‘n distressed look te gee.” Nou word alles vir Lewies duidelik. Die snor is nie ‘n snor nie, maar ‘n verfstreep onder haar neus. “Vroukie, daar is ‘n verfstreep onder jou neus, laat ek dit gou afvee voor die verf droog word” Lewies vryf met sy voorvinger oor die verfstreep. Die verf is natter as wat hy vermoed het en die smeersel kring uit. Hy lek aan sy vinger en probeer weer, maar nou is Vroukie besmeer tot onder haar oë. Sy lyk soos Die Grensvegter. Lewies besef die ys is dun en hy sluk sy lag, maar Vroukie vermoed onraad.

 “Wat kyk jy my so Lewies? Wat is dit?”

“Nee, nee, niks nie!”

“Nou vir wat lag jy?”

“Nee, ek lag nie. Ek dink sommer aan iets”

“Watse iets?”

“Sommer iets. Wag, ek moet die plafon gaan verf”

Met die kom Chopper die werfhond verbygedraf. Oor sy rug is ‘n lang bruin blerts wat nie gewoonlik daar is nie. Vroukie verf, dink Lewies.

 

Die verwery verloop verbasend genoeg sonder verdere insidente, en nadat hy die koerante opgetel het en vloer skoongemaak het, staan Lewies terug en betrag sy handewerk met trots. Hy gaan sit die leer op sy plek. Hy maak die verfblik stewig toe en bêre dit. Hy was die roller en die pan en sit dit ook weg. Hy sien met genoegdoening  dat dit twaalf uur, in enige kultuur ‘n betaamlike tyd om ‘n koue bier te skink.

 Dan hoor hy Vroukie roep.

“Lewies!”

“Ja Vroukie, wassit?”
“Het jy dit gesien?”

“Nee Vroukie, wassit?”
“Kom kyk bietjie hier in die spaarkamer”

 Lewies kry ‘n spesmaas, en sy spemase is gewoonlik in die kol.

 

 

 

 

Advertisements

13 thoughts on “Lewies diy nog ‘n keer”

  1. Mmmmmm met al die reën het ek ‘n spesmaas Lewies se dak lek! Dalk sal die pensioentjie vir ‘n vakman moet betaal want netnou neuk Lewies van die leer af!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s