Skaduwees

Skaduwee

 

 

 

 

 

 

 

Ek en Mia. Skaduwee-uitdaging. @tina10

Advertisements

Tjek my nuwe avatar!

avatar

 

 

 

 

 

 

 

 

Na vele gesukkel en onderlangse geswets kry ek dit reg om ‘n nuwe avatar te plaas nadat my vorige een ontfutsel is. Ek was darem ook al uitgekuier met daai dolosbeentjie, dor en droog en oninspirerend. Hierdie windverwaaide see-meeu verteenwoordig my Hermanus heimat, en sal hopelik meer inspirerend wees as die toorbeentjie.

Terwyl ek nou hier is vergun my om ‘n grappiekie te vertel wat van Nico Nel se kant kom. Die van julle wat dit ken, verskoon maar.

Dit gaan oor hierdie ou wat op ‘n stasie daar erens in die Karoo gewerk het, toe daar nog sulke  stasietjies was.  Op Hoofkantoor kom iemand agter dat die ou nou op gond van jare diens kwalifiseer vir bevordering, maar hy moet darem ook ge-evalueer word om te bepaal of hy bevorderingswaardig is. Gevolglik word twee hooggeplaaste amptenare vanaf Beaufort-Wes gestuur om die evaluering te doen. Nou vra hulle die ou uit oor sy werk maar elke vaag word met doodse stilswye begroet tewyl die ou intens na die muur staar.

“Watse vrag vervoer die goederetreine wat hier deur die stasie beweeg?” Niks, g’n reaksie.

“Wat is die naam van die passassierstrein wat van Johannesburg dwarsdeur die Karoo Kaapstad toe ry?” Tjoepstil.

“Wat beteken dit as die rooi sinjaal gelig word?” Geen antwoord.

Radeloos vra een van die onderhoudvoerders “Höeveel is vyf maal ses?”

Die ou frons en kou sy lippe maar geen antwoord,

Die twee amptenare het nou genoeg gesien en staan op om te loop. So in die verbyaan se die een ” Terloops, vyf maal ses is dertig”.

Die ou vlieg orent “So baie!!” se hy.

 

As die hamer en die aambeeld en die stiebeuel nie meer so lekker tieng-tieng nie

Vanoggend stap Lewies en Vroukie dorplangs terug huis toe van hul daaglikse stappie langs die see.

“Baked beans for breakfast” lees Vroukie vermoedelik een of ander spesiale aanbieding wat by Anya’s Mum se restaurant adverteer word.

”Het jy lus vir ‘n brekfissie?” vra Lewies.

“Nee, hulle adverteer ‘n vacancy for a waitress”

Hoorfout, dink Lewies ietwat bekommerd. Die ding gebeur deesdae al hoe meer.

“So wat sé jy van daai Le Creuset kastrol?” vra Vroukie.

“Nee wat, ek sé;ja” antwoord Lewies. Ons het lanklaas ‘n seekoskasserol geëet”

Lewies kan nie verstaan hoekom Vroukie so skelm glimlag nie.

“Hoekom smile jy so skelm Vrouke?” vra Lewies.

“Lewies, dit sal die duurste wees wat jy ooit vir ‘n seekoskasserol sal betaal!”

Gansies

 

Nou ja, hier probeer ek weer om ‘n foto te plaas. Weer eens is dit die sogenaamde Gansies, vissersbote wat voor anker le in Gansbaai se hawe. Sal maar sien of en hoe dit in die blog verskyn. Ek het dit op Paint kleiner gemaak, 10%. Hier gaat hy, hoop vir die beste!

 

Gansies

 

 

 

 

 

Ad multos annos, Vroukie!

Vroukie verjaar more, dan is sy amper so oud soos ek. As ek vir een verjaardag die pas kan markeer, is ons ewe oud. Die verjaardagvieringe behels ‘n uiteet saam met die Stanford 4 moremiddag by Dutchies, ‘n restaurant so op die drumpel van die see. Ongelukkig kan die Kaapstad 4 nie saam wees nie agv werksverpligtinge van die vader van daardie huis.’n Jammerte, maar begryplik. Verlede jaar was ons vir die heel eerste keer almal saam met Voukie se verjaardag, en die genotvolle herinnering van daardie geleentheid sal vertroosting bied vir die afwesigheid van die Kaapstadters. Verlede jaar het ons benewens die kiddies nog nie juis iemand hier in Hermanus geken om ‘n koek en tee gedoente te reverdig nie, maar hierdie keer is daar al ‘n handjievol bekendes en bure om so ‘n samekoms ‘n plesierigheid te maak. Vroukie is dus as I speak besig om onder die gewoer van een of ander kombuisinstrument te mix, te maal en te shred. ‘n Vaagweg bekende geur uit die verlede, wat by ‘n verdere snuif onbetwisbaar sterk herinner aan tjoklitkoek in die oond, laat my vermoed dat Vroukie ewe waagmoedig die taak aangepak het om te eet en te drink self te voorsien, sans Hermanus Chocolaterie.

Hier op die oneindigheid van die kuberuitspansel wil ek Vroukie gelukwens met haar verjaardag. Ai Vroukie, daar is maar net een soos jy, en ek het jou gekry. Dit maak my hart so bly, as ek dink aan ek en jy. (Hierts, hier kom ‘n rympie, kan dalk ‘n liedjie maak, gesing te word deur een van ons Afrikaanse sangsensasies, Bok Kan Bler of Snotneus)

Alle grappies op ‘n stokkie, baie geluk met jou verjaarsdag, mag jy hierdie jaar net goedheid en guns ervaar.

‘n Insident in blou, con majestuosa tempestuosa

Ek en Vroukie sit hier op die agterstoep, so geselsend oor die Oscar Show, wou aanvanklik nie kyk nie maar loer nou kort-kort, dis baie meer opwindend as die Protea-Chokers se no show. Vroukie sit op die trappie en doen iets aan haar voete, skrop, vyl en begin dan haar toonnaels verf. Dan sien ek dit. Blou. So asof sy die toonnael met ‘n hamer kon raakgeslaan het of dalk die slagoffer kon wees van ‘n kataklismiese besering aan diens, dis immers al tien tone wat betrokke is. ‘n Nadere bekyking bring aan die lig dat sy sowaar besig is om die toonnaels blou te verf, so asof sy ‘n Pikt is wat nou regmaak om die vyand aan te durf. Nee, kwit, dink ek by myselwers, Vroukie is nou besig om uit te haak. Sy oordoen hierdie forever young versugting nou heeltemal. Dis alles die Glam Guru se skuld. Sy is immers ‘n dame in haar senior wordende jare en as sulks moet sy mos ‘n waardige betaamlikheid handhaaf. Hierdie uitspattige bont naels is ‘n verspottigheid waarmee die jonger geslag hulle mee kan besig hou. Rooi, ‘n ouer dame se toonaels moet ‘n stemmige rooi wees om haar statige waardigheid te pas as die mater familias . Onnadenkend spreek ek hierdie gedagtes hardop uit, in wat genoem kan word “n Ligte mistykie”
Voukie sit so met haar een voet in haar hand, in die ander hand is die Cutex kwassie. Sy kyk vir my. Daar is nie ‘n twienkel in haar oog nie, maar wel ‘n baie duidelike boodskap, ‘n boodskap in hoofletters, in vetdruk. Sans serif. Die letters is HKGK. Sy sit my so en kyk. Dan staan sy op en vat my hand. “Kom saam” se sy. Sy lei my na ons slaapkamer toe. Uh huh, dalk het ek verkeerd gelees, dit was dalk tog ‘n twienkel. In die slaapkamer loop sy na my klerekas toe. Sy pluk die deur oop en skep ‘n klompie broeke uit die rak. (Dis definitief HKGK.)
“Wag nou Vroukie, wag nou. Wat maak jy?”
“Ek gaan jou Salvation Army klerekas uitgooi. Dis hoog tyd dat jy bietjie bykom en meer byderwetse klere dra. Dan sal jy ok nie meer so oud lyk nie” Net so se sy.
“Fok Vroukie…
“Los die gefokkery Lewies, jy weet ek hou nie daarvan as jy so lelik praat nie”
“Ja maar jy kan mos nie my klere begin uitgooi nie. Daardie is my werksbroeke…”
“Jy werk mos nie meer nie. Jy kan bietjie meer ontspanne aantrek. Dan sal jy ok nie meer so oud lyk nie. Kyk net hier, bruin broek, beige broek, navy broek, bruin broek, beige broek, navy broek so uit die oude doos. “
“Ja maar dis kwaliteit, ek het dit by Woollies gekoop, het my blerriewil R50 stuk gekos .”
“Kwaliteit” snork sy.”Die goed se gatte is blink gesit.”
Nou gryp sy my hemde.
“Kyk hier. Two tone Ventersdorp styl. Kry iets wat jou sal laat jonger lyk”
“Ja maar…”
“En kyk hier, hierdie onderbroeke van jou, die goed is verflenter. Jy sal koue vang as jy die goed dra.”
“Ja maar…”
Sy gooi dit op die hoop klere .
“Ek moet omsien na my belange” se sy.
Nou pluk sy my skoene uit die kas.
“Net nie my grys Grasshoppers nie!”
“Jy het die bleddie goed nog nooit gedra nie! Waarvoor bere jy dit?”
“Dalk kry ek dit eendag nodig, jy weet, as ek oud is en dalk probleme met liddorings het. Ek het dit vir ‘n bargain gekoop by Kara’s”
“Nou gaan koop vir jou iets wat jou minder oud laat lyk. ‘n Paar stapsandale sodat jy kan bybly as ons op die cliff path stap”
Fokkit. Net so se sy. Ek besluit om maar die vrede te bewaar. ‘n Huismoles in hierdie 24/7 situasie kan nogal pynlik wees.
“Kom Lewies.”
‘’Waarheen gaan ons.”
“Dorp toe. En bring jou beursie saam.”