In my vorige inskrywing vertel ek so ongeërg van die poeperige donderweer hier in die Kaap van Storms. Ek is mos ‘n hoëveldse klong, daar waar die donderweer slat laat die vlaktes antwoord gee en die kruitreuk in die lug hang. Daar hoor jy eers die slag en dan kom die blits. Daar praat hulle van ‘n bliksemdigtheid so dig soos die langbeensteke in Die Voorligter se hekelpatroon van die Biddende Hande. Ek ken van donderweer, en ek skrik nie vir hierdie Kaapse brabbeldonder nie. Na die storm daal die stilte neer, ‘n stilte wat die Samsung TV stel ook eerbiedig. Blinde sambok, die TV is poer in sy moer. PC bord uitgeslaat, Oom Lewies, meen Vidivox se reddingspan.”En ‘n PC bord vir hierdie model is baie skaars, Oom Lewies , en baie duur, dis beter om ‘n nuwe TV te koop. Ons gee ‘n brief en dan betaal die insurance”
Gevolglik bestudeer ek die fynskrif van die versekeringskontrak, en daar staan dit, en nie eens in fynskrif nie, “Elektroniese toerusting: Geen dekking geselekteer” Aag wat, ek wou in elk geval ‘n ander TV gehad het, so ‘n grote wat teen die muur gemonteer is, met spiekerkies voor en agter en ‘n sub woofer en surround sound, soos in ‘n regte baaiskoup. En ‘n usherette wat pop corn en Coke aandra en wat skalks smaail.
En toe koop ek maar weer ‘n Samsung TV, maar met ‘n sound bar wat die spul drade uitskakel. Sonder ‘n usherette. Met dekking vir elektroniese toerusting. En Vroukie doen die skalkse smaail.
Ek dink ek het die usherette-ding in die baaiskoup gemis.
Ek moes nog altyd bleddie self loop en popcorn gaan koop. 😉
Ja nee, dit was in die OU dae. Vuurklip wys hier hoe hulle gelyk het:
https://encrypted-tbn0.gstatic.com/images?q=tbn:ANd9GcQJpT5OsMQAS0_ujcOVnkH458ycZKY37qjajnPVmAoXphN3vQEy0Q
Mmmmm. Ok.
Maar was daar darem ook sulke oulike manne gewees vir die dames? 🙂
Lewies op sy beste!Ek hou van jou bliksemdigtheid-definisie….my vrek gelag.Jy maak my dag!
Danke man, ek is bly as ek jou kon laat smaail!
Tjek hier:
https://encrypted-tbn0.gstatic.com/images?q=tbn:ANd9GcQJpT5OsMQAS0_ujcOVnkH458ycZKY37qjajnPVmAoXphN3vQEy0Q
Dankie! Die een in ons baaiskoup het nie heeltemal so gelyk nie!
Eish… daai bliksem het jou sowaar saggies bekruip… Geniet die nuwe TV
Doekvoet, soos die pes wat bedags wandel!
Snaakse beeld van die Voorligter en die hekelpatroon! Ons versekering het verlede jaar die TV nogal uitbetaal. Nie dat hulle watwonders is nie, maar darem. Toe kry ons ook ‘n platskermpie….
Ek bel toe die versekering net om seker te maak en sowaar–die TV is gedek teen weerligskade.