So ‘n week of wat gelede gaan ek dokter toe vir die jaarlikse roetine ondersoek. Dis die eerste keer dat ek by die ou uitkom en hy beveel aan dat ek die hele toetie van toetse ondergaan, skildklier, lewer – en nierfunksie, glukose, cholesterol. Is reg so, meen ek, dan weet ek of daar erens ‘n lollery skuil. In die spreekkamer ook ‘n urine toets vir glukose. Die is skoon,
‘n Paar dae later bel die nurs my. “Daar is geen rede tot kommer nie”, stel sy my diplomaties, so uit die handbook uit, gerus, : “maar dokter wil jou tog sien om die uitslae te bespreek”
“Lewies,” se die dokter, “alles lyk ok.” En hy rits die uitslae af. “Maar…” Ja nee, dag ek, dis hoekom ek hier is, wat se gemaar is dit nou? “Die vastende glukose telling is h”oer as normaal, 5,4, terwyl joune 5,8 is. Niks om oor bekommerd te wees nie, maar sien dit tog as ‘n waarskuwing dat jy seker dieetaanpassings sal moet maak om diabetes te vermy.”
Fokkitie fok.Slaan my met ‘n sugar stick, Die urinetoets was dan skoon. Ek het nog nooit probleme van die aard gehad nie. Die dokter verduidelik die hoe, wat en waar van volwasse diabetes en gee wenke oor dieet. Op Google kom ek by ‘n baie informatiewe webwerf af, Manna Health. Die boodskap is duidelik: alles wat lekker is is sleg. Tjoklits, Coke, garage pies, slap tjips. Koebaai soettand, hallo bitterheid.
Gisteraand maak Vroukie geroosterde tamatiesop suitable for vegetarians. Ek bekyk die bord sop asof dit ‘n dosis medisyne is. Proe langtand daaraan en word aangenaam verras.”Jissie Vroukie, dis sop is lekker jong” spreek ek verlig my mening uit. Daar is lig in die tonnel. Die dieetaanpassings hoef op die ou einde nie smaaklike kos in te boet nie.
Nou sit ek hier te midde van ‘n Kaapse koue front en teug aan ‘n koppie warm Rooibos, sonder suiker. Eish. Slegte medisyne is goeie medisyne.