Saliggespreek

Dis nou die uwe daai, saliggespreek, soos in salig is die wat nie hul versekeringskontrakte aandagtig bestudeer nie want soms mag hulle aangenaam verras word, in teenstelling met die algemene, onjuiste, opvatting dat versekeringsmaatskappye juis daarop ingestel is om hul kliente onaangenaam te verras. Na my lamentasie oor die swanesang van Samsung van ‘n tydjie gelede, laat weet die versekering dat ek tog wel dekking het vir weerligskade aan elektroniese toerusting,’n mededeling wat ek met blydskap en sonder enige voorbehoud aanvaar. Na die nodige dokumentasie ingedien is, ontvang ek sonder verdere omhaal van woorde R4 500, 00 in my skamele bankrekening. En nou voel ek g’n skuldig nie oor die nuwe TV wat so groot is dat Kobus Wiese en Toks van der Linde saam op die skerm inpas, soos Blou Willem dit stel.

Die Kaapse weer is vol verrassings, en as inkommer hier in die Overberg in word ek nog geeeld onkant betrap deur die skielike weerskommelinge. Die afgelope week was pure plesier, lekker warm met windstil blou lug. Vandag brand die kaggelvuurtjie van vroegdag af en ek en Vroukie trek al dikker toppe aan. Maar met die res van die land wat nou eers begin herstel na die moordende koue front wat ‘n ongenadige ysigheid tot gevolg gehad het, kla ons nie te hard nie.

Dis juis te midde van so ‘n koue front met minimum temperature van minus vyf, ses grade dat Pamela die werfhond agt jaar gelede by ons aangekom het daar in Klerksdorp, maer, uitgeteer, uiters verwaarloos, en op die koop toe hoogs dragtig. In daai bittere koue het sy geboorte geskenk aan tien kleintjies in die bure se tuin. Eers nadat ons haar vertroue gewen het kon ons haar en die kleintjies inneem en hulle grootmaak. Ons dink hoeka sy het deur honger gedrewe daar van Thandi Modise se mense gevlug en as’t ware op laaste bene by onse mense uitgekom. Dit wys jou nou, ne, as jy ‘n plaas bekom het is jy nog nie ‘n boer nie, sommer so terloops gese.

7 thoughts on “Saliggespreek”

  1. Dis nie enige ou wat kan boer nie,veral nie as jy jou werker R 800 oor drie maande betaal nie en nooit op die plaas is nie.Boer is harde werk en verg kennis.Wanneer gaan die pennie “drop” oor plaas-onteiening en die nare gevolge?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s